Bylmoorde: Verdediging sê oor Henri se getuienis

Henri van Breda in die Wes-Kaapse hooggeregshof. Foto: Catherine Rice/ANA

Die verdediging van die moordbeskuldigde Henri van Breda het Donderdag aan die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê dat Van Breda “nie in hierdie stadium” sal getuig nie.

Adv. Piet Botha vir die verdediging het gesê: “Die moeilikste besluit wat ʼn verdediging kan neem, is om ʼn kliënt op te roep of nie. Die bewyse van die staat is omstandigheidsgetuienis. Ons is van voorneme om kennergetuies op te roep en getuies voor te hou om dit te weerlê.”

Volgens die wet moet die verdediging, nadat die staat sy saak gesluit het, besluit of hy die beskuldigde gaan oproep om te getuig of nie. Botha wou hierdie besluit neem eers nadat die verdediging se kennergetuies getuig het. Gewoonlik word ʼn beskuldigde as die verdediging se eerste getuie opgeroep.

Indien ʼn beskuldigde nie as die verdediging se eerste getuie opgeroep word nie, word die moontlikheid geskep dat die beskuldigde sy weergawe kan aanpas volgens die kenners se getuienis.

Nadat Botha egter gedwing is om ʼn besluit te neem, het hy gesê hy sal nie vir Henri oproep om te getuig nie. Botha kan hierdie besluit wel later verander en vir Van Breda oproep om te getuig, maar dit kan tot gevolg hê dat die hof ʼn negatiewe afleiding maak. “Indien ons van plan verander, sal ons moet leef met die moontlike gevolge of afleidings wat die hof dalk mag maak,” het Botha toegegee.

Adv. Susan Galloway, senior staatsaanklaer, het egter aangevoer indien Van Breda getuig, sal dit die staat benadeel. “Hy [Botha] sê hy wil die waarheid van wat sy kenners sê, evalueer. Probeer hy kyk hoe goed antwoord hulle oor die punte waaroor Henri moet antwoord? Dit is wat sy kliënt moet doen. As hy [Van Breda] laaste getuig, sal ons nie die geleentheid hê om kenners te kruisondervra oor Henri se getuienis nie.”

Botha het gesê sy kliënt is onskuldig tot skuldig bewys en dat hy daarom die reg op stilswye het en om nie te getuig nie. Galloway het geantwoord: “Soortgelyk aan stilswye, is daar ook gevolge vir die beskuldigde wat nie getuig nie.”

Regter Siraj Desai het gesê hy sal op 27 September uitspraak oor hierdie kwessies lewer. Hy sal moontlik die gedeelte van die gereg bevestig wat dit stel dat ʼn beskuldigde moet besluit of hy of sy gaan getuig of nie wanneer die staat sy saak sluit.

Van Breda staan tereg op drie aanklagte van moord nadat sy ouers en broer in Januarie 2015 in die gesin se huis in die De Zalze-landgoed by Stellenbosch met ʼn byl vermoor is. Hy staan ook tereg op ʼn aanklag van poging tot moord op sy suster, Marli, wat die aanval oorleef het. Hy word ook van dwarsboming van die gereg aangekla.

Van Breda het skuld op al die aanklagte teen hom ontken. Hy beweer ʼn inbreker met ʼn byl, balaklawa, handskoene en donker klere het sy gesin aangeval. In sy pleitverduideliking het hy beweer dat daar meer as een aanvaller was en dat Afrikaans tydens die aanvalle gepraat is.

Toe die staat verlede week sy saak gesluit het, het Galloway aan die hof gesê Marli het aangedui dat sy nie ʼn getuie vir die verdediging wil wees nie. Sy ly aan geheueverlies en kan daarom nie die gebeure van die aand van die aanval onthou nie. Galloway het aan die hof bevestig dat Marli steeds niks van die aand kan onthou nie.

Die saak sal op 9 Oktober nádie hofreses hervat word wanneer die verdediging hul eerste getuie sal oproep.

Lees alle vorige berigte oor Henri van Breda op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Henk ·

“Die bewyse van die staat is omstandigheidsgetuienis. Ons is van voorneme om kennergetuies op te roep en getuies voor te hou om dit te weerlê.”
So die verdediging se regspan dink by implikasie dat die staatsgetuies nie keers is nie?
Tog snaaks dat Van Breda sy weergawe van die gebeurde al twee keer verander het. Gaan hy dit nog ‘n keer doen nadat die “kennergetuies” getuig het?

Amelia de Beer ·

Wat my die meeste pla is hoekom eers jouself gaan oorgee en dan onskuldig pleit. Sorry dit gel nie

Adam ·

“Kennergetuies” ? Wat het geword van die “deskundige getuies” waarvan ons geleer is?

Willie ·

‘n Onskuldige persoon is altyd bereid om sy weergawe te vertel. Kruisverhoor kan niks aan die waarheid maak nie. So nou weet julle die waarheid.

Cherokee ·

Sal interessant wees om te weet of ‘n sielkundige nie onder hipnose herinnering kan opdiep by Marli, nie. Daarenteen word beweer dat sy breinskade opgedoen het, wat hopelik nie so is nie. Twyfelagtig egter of getuienis wat op daardie manier verkry word, enige gewig sal dra in ‘n hof.

Robert ·

@ cherokee: agv die geweldige bloeding wat Marli gehad het het sy brein skade opgedoen. een van die hoof are vir bloed voorsiening na die brein is erg beskadig. die getuienis wat Marli kan verskaf is hoe was die huis houding voor die aanval. was sit gespanne, iemand het getuig van ‘n geskreeu die vorige aand en dit was heelwaarskynlik die gevolg van spanning tussen familie lede oor sekere besluite wat geneem is. ek dink die regter is skerp genoeg om deur adv Botha se slim praatjies te sien. As henri nie vir hom kon bekostig, agv van erfgeld nie, was hy lankal in die tronk.

Pop ·

Daar was baie geskreeu in ons huis. 5 kinders baklei dat die hare waai. Dit se nie dat hulle mekaar gaan moor nie. En sy oorgee aan polisie was omdat hulle gese het hy moet gaan. Is mos beter as wat hy ten aanskoue van almal geboei word. Julle mense wat so oordeel, is seker dieselfdes wat se ons moet ons oë opslaan. Ons moet bid. Wel bid nou maar eerstens vir julself. Wit gepleisterde grafstene.

Alida ·

Hierdie saak moet nou regtig na ‘n kant toe. Die Adv lag al die pad bank toe. Wonder hoe en deur wie word hy betaal. Die erfgeld wat na Henri toe sou gaan indien hy skuldig is, gaan hy nie kry nie want hy het bloed aan sy hande. So se die SA reg. Marli kon aangaan met haar lewe na die tyd seer sekerlik kan sy iets onthou. Wonder of sy haar broer herken as hy voor haar staan? Miskien moet hulle die twee bymekaar bring en kyk wat is die reaksie.

Wonder maar net ·

Ek sê ook daar steek meer agter die storie. Marli word te maklik verskoon van die aangeleentheid. Hier is beslis ‘n slang in die gras. Kyk verder as die bloedspatsels manne

Ekke ·

Adv Botha BAIE slim! Hy probeer nou die reg omseil om hierdie mannetjie uit die tronk te hou.
Hoop die regter sien dwarsdeur hulle. Marli en Henri is net eenkeer bymekaar gebring en ook nie weer nie. Hoekom?

LB S ·

Teresa (sy ma) se suster het op Netwerk24 gesê die familielede betrokke mag nie met mekaar praat nie. Haar broer het ‘n dag of paar voor die moord met Teresa gepraat en sy wonder hoekom niemand nog met hom in verbinding getree het oor die saak nie. Verder glo sy geheel en al in sy onskuld! Dit gaan interessant wees om die einde van hierdie saak te sien.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.