Bylmoordesaak uitgestel

Henri Van Breda by die Wes-Kaapse hooggeregshof (April 2017) Foto: AP Photo, ANA

ʼn Bloedspatselkenner wat Maandag tydens die moordverhoor van Henri van Breda in die Wes-Kaapse hooggeregshof moes getuig, was nie in staat om in die getuiebank te verskyn nie.

Regter Siraj Desai het die hofverrigtinge na Dinsdag uitgestel aangesien die getuie siek was en nie kon getuig nie. Ao. Lorraine Nel, ʼn forensiese kenner, wat volgens beplanning eers volgende week sou getuig, sal nou Dinsdag in die getuiebank wees.

Die 22-jarige Van Breda staan tereg op aanklagte dat hy sy pa, ma en ouer broer op 27 Januarie 2015 in die gesin se huis op die De Zalze-landgoed in Stellenbosch vermoor het. Sy sussie Marli, wat in daardie stadium 16 jaar oud was, het die aanval oorleef. Van Breda voer aan ʼn laggende bylmoordenaar met handskoene, ʼn klapmus en donker klere het sy gesin vermoor.

Voordat die hof Maandag verdaag het, het adv. Pieter Botha vir die verdediging dit op die rekord geplaas dat Rapport Sondag ʼn berig oor die saak gepubliseer het wat “growwe onakkuraathede” bevat. Hy het gesê die artikel beweer dat Van Breda se DNS onder sy ma, Theresa, se naels gevind is, wat nie die getuienis van lt.kol. Sharlene Otto, ʼn forensiese kenner, verlede week was nie.

Regter Desai het ʼn beroep op die media gedoen om akkuraat oor die hofverrigtinge te berig aangesien “verkeerde verslaggewing tot verkeerde persepsies lei”.

Otto het verlede week getuig dat geen onbekende DNS in die 216 DNS-monsters wat haar laboratorium geanaliseer het gevind is nie.

Sy het aan die hof gesê “elke aanraking laat ʼn spoor agter”. Otto het egter toegegee dat indien beskermende kleredrag soos handskoene en ʼn klapmus gebruik word en ʼn persoon sy hele liggaam bedek, kan dit daartoe aanleiding gee dat daar nie ʼn DNS-spoor agtergelaat word nie. “Die misdaadtoneel mag ʼn spoor op [ʼn persoon] agterlaat,” het sy gesê.

Sy het aan die hof gesê DNS wat onder die naels van Henri se linkerhand gevind is, het ʼn mengsel van sy eie DNS, sy ma Theresa se DNS en sy broer Rudi se DNS opgelewer. Sy het ook getuig dat bloed wat op die hoek van die stortvloer gevind is, ʼn mengsel van DNS-profiele bevat het – Rudi, Theresa en Henri se DNS.

Kapt. Marius Joubert van die polisie se forensiese laboratorium sal volgende week oor bloedspatselpatrone getuig.

Lees alle vorige berigte oor Henri van Breda op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

karen ·

Alweer uitgestel ??? hoekom was Oscar se saak so obsessiewe prioriteit saak maar die voorval ? Presies soos die Annie Jade en en en Nee wragtig ek braak nie gal maar die ouens wat wie verdedig moet onthou siekomsai die wiel sal draai en my maat daar is groen koring op die lande…..

Linette ·

Die lat moet nou net erken dat hy sy gesin byna uitgewis het en klaar. Die saak is ‘n mors van tyd van geld, howe, hofpersoneel, regspersone en polisie. Hy het dit gedoen en klaar – “if you do the crime, you must do the time”, Boeta!

M ·

Dit is defnitief nie ‘n ‘mors’ van geld vir sommiges nie…..in teendeel….

"Ditokelo" ·

Die gesonde sterk man behoort in die skrum nie, nie in die tronk nie. Full stop.

Alida ·

Hoeveel bewyse wil hulle nog he of liewer hoeveel geld. Mors die hof se tyd.

Sarie ·

Henri toon dieselfde lyftaal as Don Steenkamp….skuldig of nie??

Theresa ·

Ek weet nie – dis asof hier ‘n groot verrassing gaan kom. Hoop maar ter wille van die jongman dat mense verkeerd is wat hom op die gegewe, huidige bewyse skuldig vind. Sjoe, en as dit hy is wat dit gedoen of gereël het, is dit onuitspreeklik tragies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.