Bylsma: Lewenslank vir albei aanklagte, pleit staat

Xander Bylsma gedurende vandag se hofverskyning. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Staatsaanklaer adv. Johan Smit het Woensdagmiddag by regter Ronald Hendricks gepleit om Xander Bylsma lewenslank te vonnis vir die moord op sy voormalige vriendin Sharnelle Hough en ook ’n lewenslange vonnis op te lê vir die moord op haar boesemvriendin Marna Engelbrecht.

Adv. Sakkie Nel vir die verdediging het om die beurt om versagtende omstandighede vir sy kliënt gepleit. Nel het gevra dat Bylsma nie lewenslange tronkstraf vir die moord op Hough opgelê word nie, aangesien daar verskeie faktore is om te oorweeg. Die verdediging het verder aangevoer dat die minimum vonnis van 15 jaar toepaslik sal wees vir die moord op Engelbrecht.

Maroela Media het vroeër berig Hendricks het in sy uitspraak in Februarie bevind dat Hough se moord haarfyn beplan was. Hy het egter nie beplan om Marna die betrokke aand te vermoor nie.

Hough en Engelbrecht is gedurende die nag van 25 en 26 Mei 2018 in die hoërskoolkoshuis op Stella vermoor. Hough se liggaam is die oggend van 26 Mei aangetref waar sy met ’n tou om die nek aan ’n trapreling gehang het. Engelbrecht se liggaam is in ’n badkamer met ’n handsaklus om haar nek aangetref.

Nel het in die hof aangevoer dat Bylsma se ouderdom in ag geneem moet word aangesien hy nie veel ouer as 18 jaar oud was toe die moorde gepleeg is nie. Hy was 19 jaar oud ten tyde van die voorval.

Volgens Nel was Bylsma emosioneel onvolwasse toe hy die moorde gepleeg het. “Hy is steeds jonk en het sy hele lewe voor hom. Hy kan ook gerehabiliteer word en het die nodige ondersteuning van sy familie.”

Die verdediging het verder daarop gewys dat Bylsma ’n eerste oortreder is en reeds twee jaar se tronkstraf uitgedien het. Hy is sedert 2018 in aanhouding.

ʼn Maatskaplike werker het in ’n voorvonnisverslag van Bylsma bevind dat hy geen berou toon vir die moorde nie, veral in die lig dat hy steeds skuld ontken. Volgens Nel is die gebrek aan berou egter ’n neutrale faktor en nie ’n verswarende faktor nie.

“Dit is sy konstitusionele reg om onskuldig te pleit.”

Smit glo egter nie dat Bylsma se jeugdigheid in ag geneem behoort te word nie. “’n Persoon ouer as 18 jaar oud word volgens wetgewing as ’n volwassene beskou. Hy moet dus as volwasse hanteer word. Die persoon wat hierdie tragedie veroorsaak het, is ’n koelbloedige, wreedaardige, gewetenlose moordenaar.”

Volgens Smit het Bylsma sy karakter deur die loop van die verhoor aan die hof bewys. Hy het verwys na getuienis wat Stefans Engelbrecht, Marna se pa, vroeër vandag in die hof afgelê het. Stefans het getuig dat Marna twee maande voor die moorde kras boodskappe aan hom gewys het wat Bylsma aan haar gestuur het.  “Hy het die kinders onder die klere gevloek.”

Stefans het vertel dat hy toe vir Monté, Xander se pa, gebel en gevra het om sy seun oor die boodskappe aan te spreek. Monté het om verskoning gevra en hom daarvan verseker dat hy met sy seun sou praat.

Volgens Stefans het hy sowat ’n week later ’n oproep van Xander af gekry. “Hy het gesê: ‘Uncle, vir jou kan ek nie bl*ks*m nie, maar ek sal jou vrek skiet.’”

Bylsma ontken die gesprek en voer aan dat hy nie Stefans se selfoonnommer gehad het nie en hom dus nie kon bel nie.

Volgens Smit wys dié getuienis daarop dat Bylsma geen respek het vir volwassenes nie. “Dit wys jou net dat hy nie respek het vir enigiemand nie. In sy oë is almal verkeerd en gekant teen hom. Hy huiwer ook nie om gewelddadig op te tree nie. “Hy is blatante leuenaar wat geen berou toon nie.”

Smit beveel aan dat Bylsma so swaar as moontlik gestraf moet word en nie ’n ligter vonnis opgelê moet word vir Engelbrecht se moord nie. “Marna het op dieselfde manier as Sharnelle gely. Haar familielede ly ook nou dieselfde as dié van Sharnelle. Die enigste verskil is dat Sharnelle se moord beplan was.”

Volgens Smit het Bylsma boonop ʼn sterk motief gehad om Marna dood te maak – sy was ’n struikelblok in sy verhouding met Sharnelle, aangesien sy nie die verhouding goedgekeur het nie. “Al wat Marna verkeerd gedoen het, was om ʼn goeie vriendin vir Sharnelle te wees. Dit was ’n toksiese verhouding en sy wou nie hê haar vriendin moet na die verhouding terugkeer nie. Dit was haar enigste sonde.

“Is Marna se lewe minder werd as dié van Sharnelle? Die antwoord is nee.”

Die saak is uitgestel tot Vrydag wanneer Bylsma na verwagting gevonnis sal word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Cherokee ·

‘ Volgens Nel was Bylsma emosioneel onvolwasse toe hy die moorde gepleeg het. “Hy is steeds jonk en het sy hele lewe voor hom. ‘
Toe sê Nel dit so werklikwaar sonder om te besef hoe oud die twee pragtige meisiekinders was en dat hulle, as dit nie vir die moordenaar was nie, ‘n leeftyd voor hulle gehad het.

Estelle ·

Die probleem met alle kinders en mense vandag is dat daar nie meer respek is nie. Nie respek vir jou medemense se lewe of eiendom nie en ook nie respek vir ouer mense, vrouens of selfs jou land nie – ons land word bemors, geen jongman sal meer opstaan om vir n vrou n sitplek te gee of selfs vir ouer mense nie. En dis die ouers se skuld. Hoe leer jy jou kind?

Vrystaat2109 ·

Die verdeduging pleit vir versagting maar hy het geen versagting virbdie twee meisies gehad nie wat van hulle ouers se hartseer en verlange!! hang die $–+())

dave ·

nou wat van die manne wat die mense op die plaase doodmaak hulle kry nie lewens lank nie dis twak die ek staan nie vir enige ras op nie maar dis unfair ander moordenaars kry 10 tot 15 jaar vir plaas moorde en die laaitie kry lewens lank hulle beter die land reg kry

Chantel ·

Ons regstelsel laat veel te wense. Ek stem saam met jou Dave, buiten die feit dat hy skuldig is, moet die regstelsel met alle moorde dieselfde kriteria gebruik. Plaasmoorde, in my oë, is veronderstel om eintlik met verswarende omslag gefonnis te word.
Maar nou ja, wie is ons as mens om te oordeel, oordeel is aan elkeen toe, die dag wat hy voor die Hemelpoorte staan, nie waar.

Riaan ·

Ek kom nie op vir n gebroke reg stelsel nie, maar jou feitte dat plaas aanvallers net 15 jaar kry is onsin. Die lot wat my pa vermoor het, het lewenslank elk gekry. Die probleem le nie by die stelsel persy nie maar wel by wie die persoon is wat dit oorsien. As hy streng en volgens die wet werk dan kry hul maximium vonnis. as hul politiese wit voetjie soek dan word ras en vorige agtergebewenne strooi in ag geneem.
Ek stem egter dat die saak nie met n plaasmoord vergelyk kan word nie.

Maritha ·

Hierdie mannetjie moet vir ewig diep in die tronk bly. Gooi sommer die sleutels weg. Hy verdien nie eens ryswater nie.

Rentia ·

Nou hoe word jy gerehabiliteer as jy absoluut geen berou toon oor jou dade nie? Nee wat sluit toe en vergeet van hom…

Gemaskerde Sopbeen ·

“Volgens Nel was Bylsma emosioneel onvolwasse toe hy die moorde gepleeg het. “Hy is steeds jonk en het sy hele lewe voor hom.”
As dit sy argument is, kan ek seker aanneem dat die twee jong meisies ook nie emosioneel volwasse was nie.
Dan ook dat hulle lewens voor hulle gelê het want hulle was omtrent so oud soos hy.
Die argumente lyk vir my desperaat.
Laat die klein twak sit vir albei. Lewenslank. Eers die een vonnis voltooi en dan die ander begin asseblief. Daar is genoeg selfsugtige mense in die samelewing.

LiveAndLetLive ·

Ek dink hierdie jong man het n groot probleem en hoort nie in die samelewing nie. Groot rooi ligte.
Sluit hom eerder maar laaaaank toe asb.

Beth ·

Geen berou? Oud genoeg gewees om te weet dit wat hy doen is verkeerd. Hy sal maar moet verantwoordelikheid vat vir sy dade.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.