Byna 1 000 ongeïdentifiseerde liggame by Gautengs-lykshuise

Die lykshuis by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg. (Foto: GCIS)

Die Gautengse departement van gesondheid doen ʼn beroep op families en naasbestaandes van vermiste persone om met die forensiese patologiediens (FPS) kontak te maak om te bepaal of hul geliefdes moontlik ʼn ongeïdentifiseerde liggaam is.

Daar is tans 938 liggame in 11 FPS-lykshuise wat nie uitgeken is nie. Dit sluit in Bronkhorstspruit (8), Ga-Rankuwa (69), Pretoria (263), Germiston (127), Heidelberg (9), Sebokeng (94), Springs (49), Carletonville (45), Diepkloof (49), Johannesburg (187) en Roodepoort (38).

Nomantu Nkomo-Ralehoko, provinsiale LUR vir gesondheid, sê dit is kommerwekkend dat die getal ongeïdentifiseerde liggame daagliks toeneem.

“Daar is families wat op soek is na hul geliefdes en nie weet waar hulle is nie. Ons moedig hulle aan om die FPS-lykshuise te besoek om te bepaal of hul geliefdes moontlik van diegene is wat nog nie uitgeken is nie.”

ʼn Familielid of naasbestaande wat ʼn geliefde wil uitken, moet hul eie oorspronklike identiteitsdokument hê, en die identiteitsdokument van die vermiste persoon of geboortesertifikaat indien die oorledene ʼn kind is. As die oorledene ʼn uitlander is, word ʼn paspoort of asielsertifikaat benodig.

Sodra ʼn liggaam nie binne sewe dae uitgeken word nie, word die vingerafdrukke van die persoon na die Suid-Afrikaanse Polisiediens se strafrekordsentrum en die departement van binnelandse sake gestuur vir moontlike uitkenning.

Indien die identifikasieproses suksesvol was, sal die naasbestaandes in kennis gestel word. Indien ʼn liggaam ná 30 dae steeds nie uitgeken is nie, en vingerafdrukke ook nie enigiets opgelewer het nie, word ʼn armebegrafnis gereël vir die oorledene.

Families kan die volgende FPS-lykshuise besoek:

AdresKontakbesonderhede
Bronkhorstspruit FPSKrugerstraat 47, Bronkhorstspruit082 459 4659
Ga-Rankuwa FPSKgotlengstraat 6543, Zone 5 Ga-Rankuwa (agter die SAPD)081 076 2970
Pretoria FPSSavageweg 10, Riviera, Pretoria082 306 3005
Germiston FPSH/v Lambert en Rosestraat, Germiston (agter die SAPD)082 306 3027
Heidelberg FPSSchoemanstraat 55, Heidelberg082 306 3013
Sebokeng FPSSAPD Sebokeng, P88 Moshoeshoe Section (agter die SAPD)060 572 2329
Springs FPSNew Stateweg 2099, op die hoek van Cemeteryweg, Geduld, Springs066 010 3173
Carletonville FPSKleimstraat 30, Carletonville X6  (nywerheidsgebied)072 232 7398
Diepkloof FPSCollinderweg 2 Berthsam, Diepkloof060 572 7376
Johannesburg FPSHospitalweg 25A, Hillbrow082 306 3016
Roodepoort FPSRaathstraat 4, Horizon (langs die SAPD)083 403 0276

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit is wat gebeur as daar bespiegel word dat daar net +- 5 miljoen onwettige buitelanders in suid afrika is.

Korrelkop ·

Al daai papierwerk…. g’n wonder mense doen nie moeite nie! Doen n DNA toets

Piet parys ·

Jy moet n DNA toets kan match met iemand sn wat hulle nie het nie

JohanR ·

Hoop die koelkaste hou, of daar gaan ‘n groot stink wees!

Piet parys ·

Vingerafdrukke of is dit soos als nie op datum nie . Immigrante ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.