Byna 100 000 entstowwe bereik vervaldatum

(Argieffoto: Daniel Leal/AFP)

Die departement van gesondheid moet môre (Donderdag) van byna 100 000 Covid-19-entstowwe ontslae raak wat nie gebruik is nie en nou die vervaldatum bereik.

Boonop gaan nog miljoene Pfizer-produkte in die volgende drie maande vernietig moet word indien dit nie gou toegedien word nie.

Foster Mohale, woordvoerder van die departement, sê die departement is genoop om altesaam 92 370 Pfizer-entstowwe te vernietig, aangesien die raklewe van dié dosisse môre verval.

Dit sal die eerste keer wees wat ongebruikte Covid-19-entstowwe in Suid-Afrika vernietig moet word omdat dit die vervaldatum bereik het.

“Die volume wat die vervaldatum gaan bereik, is gelykstaande aan 0,24% van die totale Pfizer-dosisse wat tot dusver ontvang is,” sê Mohale.

“Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is die aanvaarbare totaal van entstofafval 10% van die totale dosisse wat ontvang is.”

Die huidige voorraad Pfizer- en Johnson & Johnson (J&J)-entstowwe in die land is elk meer as 11 miljoen.

Die voorraad entstowwe wat vandeesweek gaan verval sal nou in kwarantyn gehou word sodat dit volgens die protokol vir die vernietiging van mediese afval vernietig kan word.

Die regering het vroeër vandeesmaand reeds sy kommer uitgespreek dat al minder mense die afgelope tyd aanmeld om ingeënt te word en dat duisende entstof-dosisse gevolglik vernietig sal moet word. Minder as die helfte van Suid-Afrikaners het al ten minste een dosis van die entstof ontvang.

“In teenstelling met die vraag na entstowwe aan die begin van die inentingsprogram het dit aansienlik onder Suid-Afrikaners afgeneem,” sê Mohale.

“Die departement werk egter deurlopend daaraan om verskeie opsies te ondersoek om die vermorsing van entstowwe weens die vervaldatum te verminder. Die uitdaging van entstofhuiwerigheid word nie net in Suid-Afrika ervaar nie, maar wêreldwyd, dus moes verskeie lande reeds van entstowwe wat die vervaldatum bereik het ontslae raak.”

Volgens Mohale sal byna 900 000 Pfizer-entstowwe einde Mei verval, terwyl byna ses miljoen en nog vyf miljoen onderskeidelik in einde Junie en Julie vernietig moet word.

Sedert Februarie verlede jaar het die regering byna 40 miljoen Pfizer-entstowwe as skenkings van die Covax-fasiliteit en ander buitelandse regerings ontvang. Meer as 20 miljoen J&J-entstowwe is ook hierdeur verkry.

“Die vervaardiger se raklewe vir Pfizer is nege maande van vervaardiging is en 24 maande vir die J&J-entstof, maar teen die tyd wat die entstof in die land aankom, is die raklewe reeds aansienlik korter.

“Die regering sal deursigtigheid in verband met die vernietiging en die bestuur van die oortollige Covid-19-entstowwe bly handhaaf.”

Die regering hoop om van die entstowwe wat in die komende maande die vervaldatum bereik weer aan die Covax-fasiliteit te gee of aan ander behoeftige lande te skenk.

“Sommige lande wat moontlik die entstowwe kan aanvaar, het egter nie noodwendig die nodige infrastruktuur om hierdie entstowwe veilig te berg nie.”

Kenners voer aan dat die volgende vlaag van Covid-19-gevalle rondom die wintermaande sal voorkom.

“Ons is nog nie uit gevaar nie, en alle ongeënte en gedeeltelike ingeënte mense word versoek om hulle ten volle te laan inent om hul beskerming teen ernstige siekte of dood weens die koronavirus te verbeter.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

casper ·

Maar Ramaposer het gese die ryk lande wil nie vir hom die goed gee nie – en nou???????

VaalDonkie ·

Ek het reeds COVID gehad. Daar is GEEN mediese rede om gewaks te word nie.

Robert ·

Gewaks en nog steeds gekry… gooi weg die nuttelose gemors.

VaalDonkie ·

Ek het hom twee keer gehad. Die tweede keer was so 36 ure van krapperige keel en ‘n so-so koorsie.

Madeleine ·

Geld gemors ja.
Maar ons mense in RSA Dink vir hulself.
Maak my trots.

Misky ·

Leer asb die keer uit julle foute. Moet NIE weer so baie koop NIE. Ons soek dit nie en die wat wou spuit, sou teen die tyd en sal tot in ewigheid vir hulle boosters gaan.

Mercia ·

Daar is ‘n gesegde wat sê: ” You should be able to read the room….” Wat die inentings betref, is daar oënskynlik baie regerings wat NIE oor daardie vermoë beskik nie. Daarom is ons nog in “state of disaster” met onnoemenswaardige pogings om aan te pas by die covid situasie.

Miskruier ·

Die lande met die meeste “ge-ente” het nou ook die meeste positiewe gevalle en hospitalisasies.

Amelia ·

Enige bemarker kan vir jou verduidelik hoe werk vraag en aanbod. Wees nou ‘n bietjie slimmer volgende keer en bestel net soveel as waarna daar ‘n behoefte is.

Manie ·

Wat is die groot bohaai hieroor? Die WGO reken 10% is ‘n aanvaarbare norm, terwyl SA 0.24% van wat tot dusver ontvang is moet vernietig. Dis mos nie sensasie nie.

Heinrich ·

Dis omdat mense nou agterkom dat die fabeltjie dat dit ‘net goed is vir jou’ en jy erger daaraan toe kan wees agv newe-effekte vinnig besig is om ernstig opgeneem te word.

Josua ·

Dank Vader mens het begin wakker skrik maar nog steeds te min.

Pietertjie ·

Almal moet ingeënt word, al is Covid besig om van die aardbol af te verdwyn. Hoekom? Omdat die entstof verval?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.