Byna 200 000 stroom na wildtuin oor feesseisoen

Foto: Skermskoot/Google Maps

Die Nasionale Krugerwildtuin het vandeesweek bekendgemaak dat daar oor die feesseisoen ʼn allemintige 194 782 mense deur sy hekke is.

Dié getal besoekers is aangeteken van 13 Desember 2018 tot 8 Januarie 2019.

Hoewel die Krugerwildtuin ʼn groot trekpleister vir buitelandse toeriste is, was die oorgrote meerderheid besoekers Suid-Afrikaners wat die land se natuurskoon wou geniet. Glenn Phillips, besturende hoof van die wildtuin, sê 79,7% van besoekers was Suid-Afrikaners.

“Die getal besoekers stem baie ooreen met die vorige feesseisoen toe 194 206 mense die Kruger besoek het. Die vorige somervakansie was egter baie langer as die pas afgelope vakansie, aangesien die skole op 6 Desember 2017 gesluit het en eers weer op 17 Januarie 2018 heropen het,” sê Phillips.

Vanjaar was altesaam 158 584 (81,4%) van besoekers dagbesoekers in die wildtuin.

‘n Olifant in die Kruger-wildtuin. Foto: julielines, Pixabay

Phillips sê die hoeveelheid ongelukkige voorvalle of gevalle van mense wat die reëls van die park oortree het, was minimaal. “Daar was ʼn motorongeluk in die Shingwedzi-gebied, maar geen ernstige beserings is aangemeld nie. Daar was ook ʼn brand wat twee eenhede by Olifantskamp verwoes het en skade aan toeriste se eiendom en die park se bates aangerig het,” sê hy.

Volgens die Krugerwildtuin sal hy vanjaar veral fokus op infrastruktuur-instandhouding, spoedoortredings in die park en besoekersgedrag om sy kliëntediens-tevredenheid ʼn verdere hupstoot te gee.

“SANParke wil sy dank uitspreek aan alle Suid-Afrikaners wat die Krugerwildtuin en ander nasionale parke tydens die feesseisoen besoek het, ondanks die hittegolf wat in dié tyd oor die land voorgekom het.” Hy het besoekers aangemoedig om terugvoer oor hul besoek aan die wildtuin te stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Van die Kaap tot die Krugerwildtuin ·

Dankie tog vir die Nasionale Parke soos die Kruger Nasionale Park, Kaapstad, die Karoo en die Kaapse Wynlande. Hierdie plekke maak die lewe in SA nog die moeite werd.

Gys ·

Ek stem. Bitter min dinge is beter as die Karoo grondpaaie op ‘n motorfiets.
Nie ‘n siel in sig nie.
Dit voel asof die wegraping plaasgevind het, maar Liewe Jesus het vergeet om jou ook te vat.

Dries ·

Dis vir my wonderlikke nuus, dat soveel mense nog lief is om die wildtuin te besoek en dat die mense se gedrag oor die algemeen goed was. Die wildtuin bly maar my geliefde wêreld.

Bennie ·

Was ook daar vir n week in Desember,dit baie geniet.Wat my pla is dat daar heeltemal te min kameras vir spoed oortreders is.Onder Sabi area nie een gesien nie,en baie mense jaag.

Chris ·

Ja, baie mense jaag agter die boodskappe wat hulle dmv ‘n App wat hulle van Wildlife Sightings ontvang aan. Ons sit nog rustig langs die rivier onder bome en beloer twee leeus, die volgende oomblik kom hou daar hordes karre stil wat die boodskap oor hul selfone ontvang het. Dan voel dit komplees asof mens in ‘n dieretuin is. Wat ‘n euwel is dit nie, soos Gert beduie, die Wildtuin het ‘n pretpark geraak.

Gert ·

Dis nie meer die Krugerwildtuin nie, maar ‘n pretpark, wat die jongte tegnologie in kommunikasie en ontspanning bied, Ook kitskos restaurante.

Marcel ·

Die wildtuin is wat jy daarvan maak.
Doen een van die wildernis staproetes waar jy met ‘n rugsak stap en in jou tent langs ‘n rivier slaap. Heeltemal wild.

Gert ·

Marcell, ek was al oor die 400 keer in die Wildtuin en ek tel nie oornagbesoeke se dae nie. Ek ken elk duim van die plek, elke heuwel, elke rivier, elke klip.

Co ·

Gelukkig as pensioenaris kan ons die park besoek buite spitstyd. Nieteenstaande die feit verkies ons nog steeds die Noorde waar dit nog steeds baie stiller is as in die Suide.

Enigste probleem daar is die taxi’s en skoolbusse wat daar teen enorme hoe spoed deur die park jaag.

Die taxi’s jaag almal met waentjies van die Punda of Pafuri hek deur na die Pafuri grenspos met Mozambiek. Ons vra onsself altyd af waar kom al daai goedere vandaan wat agter op die waentjies opgestapel is!!

Ons het al van die skoolbusse gerapporteer wat teen 100km/uur gejaag het, maar daar kom natuurlik dadels van. Ook het ons foto’s geneem van die passasiers van so ‘n bus (nie skoolbus) wat 5km buite Shinwetzi buite die bus partytjie hoe en staan in urineer in die veld. Die saak aangegee by die owerhede maar toe die bus opdaag het die leier van die groep (met ‘n SAKP pet op sy kop) die vermetelheid om te ontken dat dit hulle was, nieteenstaande die feit dat hy persoonlik ook duidelik uitkenbaar is! Weereens het hier niks van gekom nie!

Gert ·

Ons ervaar dit ook so daar in die noorde, en ons is nogal dikwels daar, meer as een keer per jaar, in die suide is dit ‘n pretpark. Beteffende die taxis en busse ontken die Park dit.

Ja, en die skoolbusse met kinders is dikwels oor naweke, veral oor etenstye, in die kampe te sien, dan is die rustigheid ook nie wat dit was nie.

Kobus Erwee ·

Die foto van die kombi by die leeu is omtrent 8 tot 10 jaar terug geneem op die S100.Die mense in die kombi is ons gesin.My seun bestuur en ek sit langs hom

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.