Byna 3 000 verdagtes in Limpopo vas

Argieffoto.

Die polisie in Limpopo het in samewerking met ander wetstoepassingsagentskappe die afgelope naweek byna 3 000 verdagtes in dié provinsie in hegtenis geneem, onder wie die vermeende meesterbrein agter ʼn sakeman se moord in Thohoyandou.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê 2 950 verdagtes is die naweek in Limpopo aangekeer vir misdade wat wissel van moord, poging tot moord, roof, sameswering om stropery te pleeg, verkragting, die besit van springstof, sameswering om moord te pleeg, crimen injuria, seksuele aanranding, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen, die besit van onwettige sigarette, aanranding, roof, gewapende roof, seksuele misdrywe tot huisbraak.

ʼn 34-jarige vrou is onder diegene wat in hegtenis geneem is nadat sy as die vermeende meesterbrein agter die huurmoord op haar man geïdentifiseer is.

Die vrou is Vrydagaand op Mpheni in hegtenis geneem nadat haar man op 14 Februarie voor sy hek in Thohoyandou doodgeskiet is. Twee verdagtes is aanvanklik in hegtenis geneem in verband met die moord nadat hulle glo ʼn poskantoor in Masia beroof het. Verdere ondersoek het intussen aan die lig gebring dat die sakeman se vrou na bewering die verdagtes betaal het om hom te vermoor.

In ʼn afsonderlike voorval is ses verdagtes in die Hoedspruit-omgewing in hegtenis geneem vir die sameswering om stropery te pleeg. Drie van die verdagtes is Saterdag omstreek 02:30 op een van die plaaslike wildreservate in hegtenis geneem nadat hulle in besit van ʼn jaggeweer, ʼn 9 mm-pistool, ammunisie, knaldemper, verkyker en vier messe gevind is. Die verdagtes se makkers is Sondagoggend in The Oaks betrap met ʼn jaggeweer, ammunisie en twee messe.

Drie buitelanders is ook die naweek by Beitbrug in hegtenis geneem vir die onwettige besit van plofstowwe en knaldoppies, terwyl vier verdagtes tussen die ouderdomme van 18 en 22 nou agter tralies is vir die verkragting van twee tienermeisies in Bela-Bela.

Die verdagtes sal na verwagting binnekort in landdroshowe reg oor die provinsie verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.