Byna 30% van gesteelde polisiewapens steeds weg

(Argieffoto: SA Polisie)

Byna 75% van ammunisie en 30% van vuurwapens wat die afgelope dekade by die polisie gesteel is, is nog nie teruggevind nie.

Van die 7 331 vuurwapens wat die afgelope tien boekjare by die polisie gesteel is, kon slegs 5 170 weer opgespoor word, terwyl slegs 2 672 578 patrone van die 10 808 555 gesteelde patrone teruggevind is.

Dié onthulling is gemaak in antwoord op ’n parlementêre vraag wat die DA aan die minister van polisie, Bheki Cele, gestel het.

Die opposisieparty gaan nou antwoorde van Cele eis oor alle ondersoeke wat van stapel gestuur is en dissiplinêre stappe wat gedoen is teen polisiebeamptes wat verantwoordelik is vir die verlies of diefstal van vuurwapens.

Andrew Whitfield, die DA se woordvoerder oor polisie, sê net die kaliberwapens wat in die bestek van tien jaar by die polisie gesteel en teruggevind is – 238 gewere en 89 haelgewere – is veral kommerwekkend. Die getal sluit nie wapens in wat gesteel en nog nie teruggevind is nie.

Whitfield sê voorts dit is algemene kennis dat gesteelde vuurwapens en ammunisie in die hande van misdadigers beland wat dit dan gebruik om geweldsmisdaad mee te pleeg.

“Dit maak die polisie aandadig aan die vlaag geweldsmisdaad landwyd.”

Die DA het in Augustus verlede jaar reeds ʼn oproep op die polisie gedoen om ʼn nasionale vuurwapenoudit by alle polisiestasies te laat doen. Dit het nie gebeur nie.

“Hoe kan mense die polisie vertrou met burgerlike vuurwapens wat ingehandig of teruggekry word, as hy nie eers sy eie wapens kan beskerm om in die hande van misdadigers te beland nie?” sê Whitfield.

Volgens hom het die land se polisiestasies sagte teikens vir misdadigers geword.

“Polisiebeamptes se straf vir bewese nalatigheid moet strafregtelike aanklagte en ontslag wees. Dit is die enigste manier om ʼn einde te bring aan die duisende polisievuurwapens wat hul weg na die strate vind om onskuldige mense mee dood te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Swerwer ·

Heilige waarheid. En die 30% wat nog nie teruggevind is nie, word met ‘n knippie sout geneem, dit sal beslis meer as 30% wees.

Anel ·

Ek kan nie verstaan hoe “verloor” ‘n polisieman sy wapen nie. Staan die spul nie meer parade voor ‘n skof nie, en word die wapens nie dan deur die skofbevelvoeder na gegaan nie? Teken die lede nie meer by hul name op die SAP14 nie, dieselfde geld na skof. Laai wapen aan begin van skof op parade en ontlaai op parade na skof! Toesig en verantwoordelikheid bestaan nie meer nie, lyk dit my. As jy uit die kollege kom het jou wspen saam met jou gegaan. In die kollege is dit aan jou uitgereik en by jou persoonlike toerusting gevoeg. Jy het daarvoor geteken. In die kollege het jy met jou eie wapen geskiet en geoefen. Maar nou ja, alles vol uitmekaar en niemand aanvaar meer verantwoordelikheid nie. Hoe moet ons sulkes dan vertrou??? Dank ook sommer die hoed af!!!

twaalfboor ·

Anel, dis ñ SAP15 en nie SAP14 nie. Ek weet nie in watter kollege jy was wat jy met jou eie wapen geskiet en uitpasseer het nie.

Anel ·

Vinner fout. Menslik. In Pta wes, toe dit nog ‘n kollege was. En jy is aan die begin uit gereik met ‘n vuurwapen, wat soos jou eie was. Jy het met hom gedkiet en onderhou. Na elke oefening is hy in die kluis gebêre. As jy uitpasser vat jy hom saam. Kom op jou persoonlike toerustingvorm, SAP108. (Weet nie of daar nog so iets is nie) Jou verantwoordelikheid. Hy was joune tot jy ontslag koop of bedank. Verstaan jy nou beter.

Blikkies ·

# twaalfboor, al het sy dit nou SAP 1000 genoem, maak nie saak nie, dit gaan nie die onderwerp verander nie. Sy wys slegs uit daar was stappe geneem om wapens veiliger te bewaar as vandag se dae. Dit is al.

Wondermaarnet ·

Net sekere mense word verantwoordelik gehou vir die terugbesorging van vuurwapens. oooo eeeee iiiii aaa I don’t know where it is.

Spyker ·

3000 wapens teruggevind van 7000 wat weggeraak is by die 70 persent en nie 30 persent nie!

efjy ·

Wie het dit verloor. Verklaar hulle onbevoeg om ‘n vuurwapen te besit/gebruik. Dank hom dan af of laat hy kantoorwerk sonder ‘n wapen doen.

Nico ·

Wat sê die stasie bevelvoerders, die lede wat polisie vuurwapens huistoe vat is ook onbetroubaar.

Wondermaarnet ·

Is die statistiek gedokter of werklik? Die meeste polisiemanne/vroue kan in elk geval nie eers skiet nie, maar word met ‘n vuurwapen toegerus.

Jack ·

Lyk asof die sapd dalk winsgedrewe nalatig is. Wapens word as komodoteit gesien aangesien soveel wapens nie net kan verdwyn nie. Iewers moet samewerking wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.