Byna 300 000 kinders ʼn skooldag kwyt oor Santaco-staking

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: pixabay)

Lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco) het nie net Kapenaars in volslae anargie gedompel met hul gewelddadige staking nie, maar ook Vrydag nagenoeg 300 000 leerders van die skool af weggehou.

Meer as 9 500 onderwysers en ander skoolpersoneel is boonop ook deur die talle verkeersknope en ontwrigtings in die Moederstad verhoed om by die skool uit te kom.

“Afgesien daarvan dat minibustaxi’s nie beskikbaar was nie, het die geweld en chaos wat ons oornag gesien het daartoe gelei dat ouers kinders tuis gehou het uit vrees vir hul veiligheid, selfs al reis hulle nie normaalweg met openbare vervoer nie,” sê David Maynier, LUR vir onderwys in die Wes-Kaap.

Leerders, onderwysers en ouers is Donderdagmiddag gestrand gelaat nadat Santaco skielik besluit het om sy bedrywighede in Kaapstad op te skort op grond van wat hulle as onbillike diskriminerende praktyke teenoor minibustaxi’s beskou.

Santaco het hom verlede week aan samesprekings met die Stad Kaapstad en die Wes-Kaapse regering onttrek.

“Selfs in die chaos en onsekerheid oor die staking het gemeenskappe saamgespan om skole en leerders by te staan,” sê Maynier.

Die inwoners van Mowbray het die middag planne gemaak om kos en slaapplek te verskaf aan 11 leerders van Hoërskool Thandokhulu wat gestrand gelaat is.

Vier leerders van Laerskool Silverlea en Hoërskool Garlandale, wat in Khayelitsha woon, kon ook nie by hul huise uitkom nie. “Amptenare van die Wes-Kaapse departement van onderwys het ingespring om vir hulle verblyf in ʼn gastehuis, asook etes en toiletware te reël.”

By die Noluthando Skool vir die Dowes kon 16 leerders nie uit Khayelitsha huis toe reis nie, so die skool het gereël dat hulle by ʼn onderwyser se huis oornag.

Hoër Meisieskool Wynberg het ook Donderdag sy koshuis oopgestel vir leerders en personeel wat nie by hul huise kon kom nie. Altesame 15 leerders en vyf veiligheidswagte het veilig in die koshuis oornag.

Maynier sê egter dat die stakings nogtans leerders se onderrig ontwrig het, selfs tot in die naweek.

“Hoewel skole oop bly, is ekstra klasse wat op Saterdae gehou word weens die staking gekanselleer. Dit beteken die 14 000 leerders wat die ekstra klasse ontvang om hul leeruitkomste te verbeter, sal weens die staking dit nie kan bywoon nie.”

Sou die staking tot volgende week voortduur en leerders geïntimideer word op pad skool toe, sal die Wes-Kaapse regering nie huiwer om die hof vir nog ʼn interdik teen Santaco te nader nie.

“Ons matrieks berei tans voor vir hul rekordeksamens, daarom kan ons leerders eenvoudig nie hierdie soort ontwrigting van onderrig bekostig nie.”

Maroela Media het vroeër berig dat verskeie dienste weens die staking ontwrig is. Talle vervoerdienste en motoriste het boonop ook onder gewelddadige aanvalle deurgeloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.