Byna 300 in Kaapstad aangekeer

Kaapstad (Foto: Heinrich Botha/Pixabay)

Wetstoepassingsowerhede in Kaapstad het die afgelope week 298 mense in hegtenis geneem, waarvan sowat ʼn derde vir vermeende dronk-, roekelose en nalatige bestuur.

Volgens die Stad Kaapstad is 43 motoriste onder die invloed van alkohol vasgetrek, terwyl 36 vir roekelose en nalatige bestuur aangekeer is. Nog 21 motoriste is weens ander aanklagte in hegtenis geneem.

Die hoogste spoed wat die afgelope week in ʼn spoedlokval gemeet is, was 213 km/h op Kromboomweg in Rondebosch. ʼn Spoedbeperking van 80 km/h geld op dié pad. In Erica-rylaan in Bishop Lavis het nog ʼn motoris teen 147 km/h in ʼn 60 km/h-sone gejaag en op die N2 in Somerset-Wes, waar ʼn spoedbeperking van 70 km/h geld, het ʼn motoris teen 133 km/h gery.

Altesame 58 475 verkeersboetes is in dié tyd uitgereik.

“Die spoed wat die afgelope week aangeteken is, is ʼn aanduiding van die roekelose en nalatige gedrag waarmee verkeersbeamptes en wetsgehoorsame burgers moet saamleef. Daar is geen verskoning daarvoor nie omdat almal weet wat van hulle verwag word ten opsigte van die wet. Diegene wat steeds kies om die wet te oortree, ag ander mense se veiligheid as minder belangrik,” het JP Smith, burgermeesterkomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, gesê.

Polisiebeamptes het terselfdertyd 89 mense in hegtenis geneem en 2 939 boetes uitgereik.

Altesame 28 mense is aangekeer vir die besit van dwelms, 22 vir kontakverwante misdade, insluitend aanranding en kwaadwillige beskadiging tot eiendom, en 11 vir dronkbestuur.

In een van dié gevalle het beamptes wat in Khayelitsha patrollie gedoen het, ʼn voertuig gewaar wat aan die verkeerde kant van die pad gery het. Beamptes het die motoris voorgekeer en was glo onder die invloed van drank. Die 23-jarige is in hegtenis geneem vir dronkbestuur.

Beamptes in dieselfde omgewing is later deur ʼn man genader wat wou weet waar hy sy motor parkeer het. Nadat hulle nie die man kon help nie, het hy gewelddadig geraak en een van die beamptes aangeval. Die 40-jarige verdagte is in hegtenis geneem vir oproerige gedrag en aanranding.

“Die verdagte was glo ook onder die invloed van alkohol.”

Die stad se wetstoepassingsafdeling het nog 109 inhegtenisnemings vir onder meer diefstal gedoen. Altesame 40 mense is in hegtenis geneem vir die besit van dwelms, ses vir die besit van gevaarlike wapens, twee vir die besit van ʼn onwettige vuurwapen en een vir die besit van ʼn nagemaakte vuurwapen.

Verder het beamptes 35 mense in hegtenis geneem vir uitstaande lasbriewe en 3 620 boetes is in dié verband uitgereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gert ·

En hoeveel is in Limpopo in hegtenis geneem ? Lyk vir my daar is net in die Wes Kaap mense wat die wet oortree .Ander provinsies gedra hulle seker baie goed.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.