Byna 40% van volwassenes nou ingeënt

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Minstens 40% van die volwasse bevolking in Suid-Afrika behoort Maandag teen die koronavirus ingeënt te wees.

Só het dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, Vrydag tydens ʼn nuuskonferensie gesê, waartydens hy landsburgers opnuut aangemoedig het om hulle voor die komende feestyd te laat inent.

Hoewel verskeie ontleders meen dat die regering nié die 70%-teiken teen Desember sal bereik nie, sal hulle steeds hul bes doen om daarby uit te kom, sê Phaahla.

Luidens die departement van gesondheid se statistieke is meer as 23 miljoen entstofdosisse al toegedien. Altesaam 13,2 miljoen mense is al volledig ingeënt en sowat 10,4 miljoen mense het nog net een dosis entstof ontvang.

Meer as 70 000 mense is ook onlangs op stemdag (1 November) ingeënt, onder meer by die regering se tydelike inentingsentrums wat op dié dag naby sekere stempunte opgerig was.

Statistieke dui aan dat die Wes-Kaap al 48,2% van sy volwasse inwoners ingeënt het, gevolg deur die Vrystaat (46,8%), Oos-Kaap (45%) en Limpopo (44,9%).

Phaahla sê voorts hoe meer Johnson & Johnson-entstowwe beskikbaar gestel word, hoe vinniger sal die regering sy teikens kan behaal, aangesien dié entstof net een dosis verg.

Volgens die minister het byna 70% van burgers bo 60 al minstens een dosis van die entstof ontvang, en meer as 252 000 kinders tussen 12 en 17 jaar oud.

Phaahla sê die regering sal ook die ACDP se hofaansoek oor die entstof vir kinders teenstaan. Die party voer aan dat kinders nie ʼn werklike risiko het om siek te word van Covid-19 nie en dat selfs die waarnemende direkteur-generaal van gesondheid nie wil bekendmaak of hy sy kinders sal laat inent nie.

Hy meen dit sal ʼn groot terugslag wees indien die party in die aansoek slaag.

Entstof en vrugbaarheid

Phaahla sê voorts hy is bekommerd dat jong mense deur verskeie mites op sosiale media ontmoedig word om die inenting te kry. Dít sluit in dat die inenting ʼn negatiewe uitwerking op vrugbaarheid onder mans en vroue kan hê. Daar is glo veral gerugte dat mans se vrugbaarheid deur die entstof gekelder kan word.

Dr. Ernest Moloi, vrugbaarheidspesialis, het tydens die konferensie gesê mans se vrugbaarheid sal eerder beïnvloed word as hulle nié die inenting kry nie, aangesien Covid-19-verwante siektes groter gevare in dié verband inhou.

Volgens Moloi het studies bevind dat die inenting geen negatiewe invloed op spermgehalte, -mobiliteit, -volume, -stamseltelling of -konsentrasie het nie.

Hy het ook gesê dis uiters belangrik dat swanger vroue hulle moet laat inent, aangesien hulle meer geneig is om ernstig siek te word as hulle die virus opdoen.

“Indien ʼn vrou die eerste dosis ontvang en dan swanger raak, word sy aangemoedig om die tweede dosis ook te ontvang.”

Ook prof. Glenda Gray, president van die Suid-Afrikaanse navorsingsraad, sê daar is geen manier dat die Covid-19-entstowwe ʼn negatiewe invloed op vrugbaarheid sal hê nie. Boonop is vele data al ingevorder om dit te bewys, waaronder prekliniese studies onder diere.

Vierde golf

Phaahla sê hoewel ʼn vierde golf onvermydelik is en niemand al kan sê wanneer dit Suid-Afrika gaan tref nie, alles moontlik gedoen moet word om dit te vertraag en die trefslag daarvan te verminder.

“Tot dusver is die nuwe infeksiesyfers stabiel, maar namate ons die feestyd nader en daar meer beweging gaan wees, raak dit al hoe dringender dat landsburgers die inenting moet ontvang.

“Daar is ook altyd die risiko van nuwe variante wat tot ʼn vierde golf sal bydra, hoewel daar tot dusver nog nie kommerwekkende nuwe variante in die land aangemeld is nie.”

Phaahla sê daar was ook nie skerp toenames in nuwe gevalle ná afloop van die verkiesing in enige provinsie of distrik nie.

Die minister waarsku egter dat mense steeds waaksaam moet wees en die nodige voorsorg moet tref om die verspreiding van die virus te beperk.

“Verlede jaar moes ons strande en ander plekke van vermaak weens die tweede golf sluit. Dit was nie ʼn goeie feestyd nie. Ons hoop dat ons dit vanjaar beter sal kan doen.”

Inentingsertifikate

Phaahla sê sowat drie miljoen ingeëntes het al die inentingsertifikaat afgelaai.

ʼn QR-kode is intussen op die sertifikaat bygevoeg en sal van volgende week in werking tree. Dít sal die veiligheid van hierdie sertifikaat bevorder.

Nog verbeterings sal egter volg.

Phaahla sê Suid-Afrika het nog nie met baie ander lande onderhandel oor die kwessie of hulle dié inentingsertifikaat gaan aanvaar nie.

Daar is wel glo lande en vennote wat na Suid-Afrika uitgereik het oor die aanvaarding van sodanige lande se sertifikate deur Suid-Afrika, en andersom. Phaahla het nie die name van die betrokke lande genoem nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Jacob ·

40% wat die res van hulle lewens, elke 3 – 6 maande sal moet aanmeld vir nog ‘n jab.

Gerhard ·

Is dit nou al sommer 3 maande. Het dit nog nerens raakgelees nie.

Gerhard ·

Ok so is dit nou al sommer 6 maande. Het dit ook nog nerens raak gelees nie.

Danie ·

Ai ou Jacoppie, moet jy altyd die negatiewe in als gaan soek…..nog erger as mens die negatiewe in ongegronde feite raak sien.

kolonel ·

Onthou hierdie kommentaar van jou. Ons praat oor so paar jaar weer.

KB ·

Nêrens sê min. Phaala dat daar maar slegs 22% vd totale bevolking ten volle ingeënt is nie.
Hy gebruik slegs syfers om sy redenasie mooi te laat klink. Let mooi op na die keuse van syfers en woorde, die publiek kan heel moontlik verkeerde afleidings maak as hulle nie mooi oplet nie.

Danie ·

Ons, ons kinders, ons familie, vriende en menigte kennisse wat gespuit is, si 10% gesond. Dankie vir jou besorgdheid.

Charles ·

Die res stel nie belang nie, anders sou hul al gegaan het..

Karel Kobus Kruger ·

Die % ingeëntes sal nog n bietjie styg, maar ek wil my verstout om te sê oor n jaar sal ons nog steeds nie by 70% wees nie. Mense het belangriker dinge om te doen.

Jedi Knight ·

En met n werkloosheidsyfer wat raak-raak aan 40%, sal werkgewers wat inentings verpligtend wil maak, ook nie veel van n invloed hê nie. Selfs al maak die regering dit wetlik verpligtend, sal/kan n hof ook nie n werklose persoon beboet of tronkstaf oplê nie. Slegte nuus vir die minderheid wat die virus vrees, hier kom nog variante.

piet ·

Waar kom jy daaraan dat die Hof nie ‘n werklose kan/sal tronkstraf ople nie? Daar sit juis baie mense in die tronk omdat hulle nie ‘n boete kan betaal nie.

Fritz ·

Tronkstraf is vir ernstige oortredings. Opgeskorte vonnis op die meeste, ons tronke is alreeds oorvol. En hoe gaan ons parate polisie in die eerste plek al die werkloses in die plakkerskampe en voormalige tuislande vang? Hoeveel mense wat nie maskers dra nie, is al in n hof skuldig bevind? Duisende is in hegtenis geneem, maar daar moet baie water in die see loop tussen inhegtenisname en skuldigbevinding.

kolonel ·

Sy bedoeling is moontlik dat hulle nie die verplig-deur-werknemer-wet kan oortree nie omdat hulle nie werk het nie.

Madeleine ·

Jys reg. Mense het al besluit ja of nee. Die wat ja kies is klaar geent. Die res se nee.

Pietertjie ·

So, kan ek nou byna begin uitsien na die permanente opheffing van inperkings-regulasies?

Oomniklaassevriend ·

Die vooruitsigte lyk nie te goed vir die 40% nie. 85% van die Nederlandse volwasse bevolking is ten volle ingeënt en ‘n rekord aantal nuwe Covid gevalle van 16000 is gister aangeteken. Almal daar gaan weer in ‘n streng inperking.

Anel ·

Ons dogter wat daar woon sê hulle word weer van Maandag in geperk. Gelukkug weier hulle ook om gespuit te word. En gelukkig is daar buutelandse winkels wat ingeëntes nie toegang weier nie, asook ongemaskerdes. So hulle word ondersteun. Volgens haar word ook meer siek wat gespuit is as die wat nie. En daar is nog baie wat sy vertel maar dan sal my komentaar nog minder geplaas word. Maar, dit is winter daar en was ongeveer 5°C daar. Hier is dit oor die 30°C!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.