Byna 400 operasies gekanselleer oor watertekorte by GP-hospitale

Die staat se eerste steeklose aorta-klep-vervangingsoperasie is by Charlotte Maxeke- Akademiese Hospitaal.

(Foto: verskaf)

Byna 400 operasies by 16 Gautengse hospitale moes vanjaar noodgedwonge gekanselleer word ná hulle glo ernstige watertekorte ondervind het.

Volgens Jack Bloom, die DA se woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, is die syfers deur Nomantu Nkomo-Ralehoko, die Gautengse LUR vir gesondheid en welstand, onthul.

“Die Helen Joseph-hospitaal het van Maart tot September vanjaar sewe wateronderbrekings ervaar, wat veroorsaak het dat 36 operasies noodgedwonge gekanselleer moes word.

“Die Edenvale-hospitaal moes 117 operasies opskort weens sewe wateronderbrekings wat lae druk of geen water nie tot gevolg gehad het. Die onderbrekings het in sommige gevalle tot ʼn week lank geduur.”

Bloom sê noodsaaklike toerusting soos stoomketels, wasmasjiene en stoomsteriliseerders kan byvoorbeeld nie tydens die wateronderbrekings gebruik word nie. Daar kan ook nie skoongemaak of gekook word nie.

“Ses wateronderbrekings by die Pholosong-hospitaal aan die Oos-Rand het veroorsaak dat 127 operasies gekanselleer is en 36 uitgestel moes word.

“Die Kalafong-hospitaal het op 28 Januarie en 9 September vanjaar ernstige wateronderbrekings gehad, maar het gebeurlikheidsmaatreëls ingestel om te verhoed dat enige operasie gekanselleer word,” sê Bloom.

Hy sê waterprobleme kan ook nie net voor die deur van instellings soos Rand Water of munisipaliteite gelê word nie.

“Minstens 11 hospitale het vanjaar wateronderbrekings gehad weens lekkasies of pype wat gebars het. Dit sluit in die Chris Hani Baragwanath-, Charlotte Maxeke-, George Mukhari-, Steve Biko-, Tembisa-, Kalafong-, Edenvale-, Leratong-, Yusuf Dadoo-, Kopanong- en Jubilee-hospitaal.

“Die departement sê hospitale moet ʼn minimum van 48 uur lange watervoorraad beskikbaar hê – wat baie hospitale beweer hulle het; dit lyk egter nie of dit wateronderbrekings verhoed het nie.

“ʼn Groot probleem is dat sommige hospitale nie pompe het om water na hoër verdiepings te pomp nie. Lae waterdruk is veral ʼn probleem by die Tembisa- en Edenvale-hospitaal,” sê Bloom.

“Volgens die departement word stappe gedoen om te verseker dat alle hospitale tenkwaens en boorgate het, reënwater kan opvang, gryswater kan hergebruik en watersuiweringsplanne het.

“Beter instandhouding moet ook ʼn prioriteit wees aangesien lekkende pype die probleem vererger,” sê Bloom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

vuurvliegie ·

Enige groot besigheid het deesdae generators, Solar stelsels en water opgaar tenks. Hoekom gebruik hospitale dit nou as ‘n verskoning om operasies af te stel? Hospitale maak miljoene rande wins per maand en hulle kan nie water tenks laat installer nie. Een woord “Skandelik”

Jakes ·

Maak n mens siek om elke dag berigte te lees wat beklemtoon hoe swak en breinloos die huidige regering is. Ek is seker dat graad 7 leerlinge n beter job sal doen as die huidige narre.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.