Byna 500 begrafnisse per week in Kaapstad

(Argieffoto: Leon Lestrade/ANA)

Kaapstad steier onder die byna 500 begrafnisse wat nou weekliks plaasvind.

Die altesame 483 begrafnisse wat verlede week gehou is – in vergelyking met die net meer as 300 per week teen die einde van Junie – plaas groot druk op die stad se begraafplase en dien as waarskuwing dat Covid-19-waaksaamheid nie verslap mag word nie.

Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, sê daar is tans 31 330 aktiewe gevalle van Covid-19 in die provinsie en 2 880 mense word in hospitale in die Wes-Kaap vir die koronavirus behandel. Dit is ʼn styging van 6% sedert die vorige week. Altesame 646 van dié pasiënte benodig boonop intensiewe- of hoësorgbehandeling.

Meer as 14 000 mense in die provinsie is reeds weens die koronavirus dood en die huidige sewedag-gemiddeld vir sterftes staan tans op 75.

Die sterftes plaas groot druk op die stad se vermoë om die talle begrafnisse te hanteer.

“In dié stadium kan ons begraafplase die toename in aanvraag hanteer, maar ons doen ʼn hernieude beroep op inwoners om begrafnisse waar moontlik op weeksdae te hou of alternatiewe uitweë tot begrafnisse te oorweeg.”

Die stad sê daar was die afgelope ruk ook toenemende kommer oor begrafnisgangers wat nie Covid-19-protokol nakom nie.

“Die derde vlaag is verwoestend en hoewel ons besef hoe moeilik dit deesdae is om begrafnisse te bestuur, doen ons ʼn beroep op mense om persoonlike veiligheid- en gesondheidsvoorskrifte te alle tye in gedagte te hou,” sê Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid.

By die Klipweg-begraafplaas was daar verlede week 151 begrafnisse, by Maitland was daar 126 en by die Welmoed-begraafplaas was daar 76.

Altesame 89 verassings is by die Maitland-krematorium gedoen en 48 is na ʼn private krematorium in Durbanville oorgeplaas.

Badroodien sê mense kan dit nie bekostig om hul waaksaamheid te verslap nie.

“Te veel mense verloor steeds hul geliefdes en dit is belangrik dat daar aan die basiese gesondheidsreëls voldoen word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elinette ·

Wel, die virus doen wat sekerlik die een of ander tyd móét gebeur – dit maak die mensdom kleiner. My oorlede pa het altyd gesê: daar is net twee goed waarvan mens seker kan wees in die lewe; die een is dat jy moet belasting betaal en die ander is dat jy een of ander tyd moet doodgaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.