Byna 500 brande in 4 dae in Kaapstad

Duiwelspiekbrand in Januarie 2016 Foto: @bradyn_hopking, Twitter (via @vwsfires)

Duiwelspiekbrand in Januarie 2016 Foto: @bradyn_hopking, Twitter (via @vwsfires)

Kaapstad se brandbestryders is binne vier dae na 495 brande ontbied, het die stad Dinsdag gesê.

Brandbestryders se taak is bemoeilik deur vlamme wat deur ʼn erge suidooster aangeblaas word.

“Dit was ʼn dramatiese en traumatiese paar dae,” het JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, gesê. “Die stormsterkte suidooster was ons ergste nagmerrie, aangesien dit die tempo waarteen die brande opgevlam het, verhoog het.”

Die stad se brand- en reddingsdiens het sedert 7 Januarie reageer op 495 oproepe. Dit is ongeveer 99 voorvalle per dag, ʼn toename van die gemiddelde 69.5 in die eerste ses dae van die maand. Altesaam 428 van hierdie brande is gekategoriseer as veld-, gras- en vullisbrande.

Die mees onlangse brande was op Duiwelspiek en Vlaeberg (Seinheuwel), Rastakamp in Ocean View en twee informele nedersettings in Khayelitsha en Mfuleni, waar minstens drie mense oor die naweek gesterf het.

Smith het gesê ʼn polisietaakspan is aangestel om enige brandstigting te ondersoek. “Dit is verstommend dat daar persone kan wees wat wreed genoeg is om doelbewus ʼn brand te stig, terwyl hulle ten volle bewus is van die moontlike gevolge,” het hy gesê.

Ongeveer 50 beamptes van die stad se brand- en reddingsdiens en ander agentskappe is steeds op die toneel in Red Hill, Scarborough, Misty Cliffs, Ocean View en Kommetjie om seker te maak dat die brande nie weer opvlam nie.

Smith maan inwoners en besoekers om ekstra versigtig te wees wanneer vlambare items of materiaal hanteer word. Die suidooster waai steeds in die stad. “Mense moet nou, meer as ooit, hul gesonde verstand gebruik. Ek doen ʼn beroep op rokers om bewus te wees van hoe hulle van hul stompies ontslae raak. Steek slegs vure aan in toegewyde plekke en indien jy staatmaak op kerse of paraffienstowe, moet dit asseblief nie onder enige omstandighede sonder toesig laat nie.”

Brande kan by die stad se noodkommunikasiesentrum aangemeld word deur 107 van ʼn landlyn af te bel of 021 480 7700 van ʼn selfoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kmakers ·

Laas was dit brandstigting, wat is dit nou weer? Marius , Tony ,
Nosey… Tina….! Wat maak julle alweer!?!?

Peet Schabort ·

WEEREENS soos met baie verkeerde dinge lê die probleem by opvoeding. Wanneer dit nie tuis deur die ouers (as daar is) gedoen word dan sal die skole daarvoor moet instaan.
Iewers sal daar drasties van kleinsaf gesorg moet word om die boompie reg te buig.

DPJ ·

Dit is werklik jammer dat daar nie meer opvoeding is oor brande nie. Paraatheid is baie belangrik en dit moet van kleinsaf ingedril word by elke kind. Daar kan ook deur vedio’s kinders die gevaar van brande gewys word en om voorsorg te tref vuur altyd net onder beheerde omstandighede gemaak msg word. Dier en mens ly dssronder.

Paplepel ·

495 brande in 96 uur. ‘n Nuwe vuur elke 12 minute. Moes ‘n BIC gewees het, vuurhoutjies neem te lank.

Yvonne ·

Die stad Kaapstad moet die beste brandbestryders in die wêreld hê. Ek staan oopmond van bewondering vir hulle bomenslike vermoë! Sommer baie respek van my af vir almal wat tot die doeltreffende bestryding van die beande bydra maar verál vir die mans en dames ‘op die grond!.

GES ·

Brandgevaar is ‘n groot probleem in die Kaap. Die droë klimaat, die suidooster en die plakkerskampe is ‘n wenresep vir moeilikheid. Sterkte aan al die kapenaars, ons harte gaan uit na julle en vertrou die situasie word gou onder beheer gebring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.