Byna 500 oor Oujaar in Limpopo vas

Drank waarop die polisie in Limpopo beslag gelê het. (Foto: Verskaf)

Die polisie in Limpopo het tussen Oujaarsdag en die oggend van Nuwejaarsdag altesaam 496 mense in dié provinsie in hegtenis geneem nadat hulle glo die vlak 3-afsonderingsregulasies oortree het.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê sommiges is in hegtenis geneem nadat hulle nie gesigmaskers in die openbaar gedra het nie, terwyl ander nie die aandklokreël gehoorsaam het nie. Sommige mense het alkohol in die openbaar gebruik, terwyl ander alkohol vervoer het.

Altesaam 149 mense is in die Waterberg-distrik in hegtenis geneem. In die Mopani-distrik is vier mense aangekeer, terwyl 146 in Capricorn, 59 in Sekhukhune en 138 in die Vhembe-distrik in hegtenis geneem is.

Mojapelo sê die meerderheid van die provinsie se inwoners het egter die afsonderingsregulasies nagekom.

Genl.maj. Jan Scheepers, waarnemende polisiehoof in Limpopo, het hulle vir hul samewerking bedank. “Hierdie soort gedrag sal die gesonde verhouding wat reeds tussen die gemeenskap en die polisie bestaan, versterk en in stand hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.