Byna 60 jaar later ondersoek polisie dood van nege leerders

Die ongeluk het byna 60 jaar gelede gebeur. (Foto ter illustrasie)

Meer as 56 jaar gelede het die groep leerders teruggekeer van ʼn musiekkompetisie waar hulle ʼn trofee verower het.

Maar net toe hulle op 1 Mei 1965 van die vragmotor by hul skool op Mmametlhake, naby KwaMhlanga, begin afklim het – met hul ouers wat hulle opgewonde inwag – het ʼn bakkie teen ʼn hoë snelheid in hulle vasgeploeg.

Nege van die leerders het gesterf. Verskeie is glo tussen die bakkie en vragmotor verbrysel en talle ander is ernstig beseer.

Nou, byna ses dekades later, is ʼn saak van strafbare manslag, asook versuim om by ʼn ongelukstoneel stil te hou, opnuut by die polisie in Mpumalanga aanhangig gemaak. Die saak is destyds by die Rust de Winter-polisiestasie aangemeld, maar het glo nie veel aandag gekry nie.

Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, sê die beseerde leerders van die Nkotolane Primary School is ná die voorval na verskeie hospitale in die omgewing geneem waar sommige tot twee jaar lank behandeling moes ondergaan.

“Al die slagoffers is nou pensioenarisse en het steeds die verskriklike letsels op hul liggame wat glo deur die ongeluk veroorsaak is,” sê Hlathi.

Verskeie verklarings van die oorlewende slagoffers is reeds afgeneem.

Volgens die polisie se inligting was twee mans op daardie noodlottige dag in die bakkie. Wat presies gebeur het, vorm nou deel van die nuwe polisieondersoek nadat ʼn klagte oor die voorval Woensdag weereens by die polisie aanhangig gemaak is. Die bestuurder van die bakkie is oënskynlik nooit opgespoor nie, maar die oorlewendes soek steeds geregtigheid en afsluiting.

“Die polisie doen ʼn beroep op mense met inligting oor die saak om na vore te kom,” sê Hlathi.

Die polisie het ook ʼn spesifieke beroep op ene Koos Engelbrecht, wat vermoedelik die ondersoekspan kan help, gedoen om die ondersoekbeampte te kontak.

Hlathi sê Engelbrecht het vermoedelik vroeër in die omgewing van Nylstroom, deesdae Modimolle, in Limpopo gewoon. Die polisie het ook gevra dat enigiemand wat weet waar Engelbrecht hom moontlik bevind, die ondersoekbeampte kontak.

  • Enigiemand met inligting oor die voorval kan kapt. Solomon Moshime bel by 082 065 1355, of die polisie se Stop Misdaad-nommer by 08600 10111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Jr ·

Elke een kry nou n paar miljoen en n huis. Ooh en berading en n besoek van die mini star van transport

Spook ·

Sterkte met die ondersoek. Koos het miskien al die tydelike met die ewige verwissel? Dit kan nogal die ondersoek bemoeilik. As hy nog leef, is hy 75 of ouer.

Rian ·

Wat van die huis inbraak by my perseel, sowat 17 jaar gelede. Kan die saps dit ook ondersoek, aangesien ek nou nog op terugvoering wag.

Esaias ·

ja asb tog, ek wag ook vir trugvoering van inbrake paar jaar trug!!!

Nie Verbaas ·

Hoeveel ander mense het jare terug deur trauma gegaan en moet maar net voortgaan. Selektiewe rassistiese ondersoek. Hoekom is die bestuurder nie toe al gearresteer nie. Polisie het toe nog oordentlik gefunksioneer. Ek ruik n rot.

Jurie ·

Rêrig,dit sal nie ‘n ondersoek wees nie,maar eerder ‘n heksejag en almal weet wat die uiteindelike doel daarmee is.

Jr ·

Hoeveel moorde veral plaasmoorde is onopgelos of die skuldiges nie opgespoor en gevonnis is. Maar nou ja. Hier is stem werwende October materiaal

Mariana ·

Normale mense gaan aan met hul lewens, ongeag hul lyding. Hierdie mense soek een ding en dit is geld.

Jo ·

Ons het nie eers genoeg polisie om die bestaande ondersoeke te doen? ???? Die prioriteite in SA is altyd gatkant voorentoe?

Johanna ·

Geen persoon het die reg om weg te hardloop van.so ongeluk nie. Dis n ladaard wat dit doen. Dit kon my.kindrrs gewees het en ek sou.ook geregtigheid wou he.

Thereza ·

nee regtig, is dit ook weer n geval van ek soek geld ek soek geld

Niklaas ·

As hierdie Koos destyds alreeds 20 jaar oud was, sal hy vandag bejaard wees. Dalks al oorlede.

Windhond ·

Die knapies in blou kan nie eers iets ondersoek wat 60 minute terug gebeur het nie, wat wou 60 jaar gelede…………………..snuif snuif

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.