Byna 90% van leë staatshuise val uitmekaar

Die minister van openbare werke, Patricia de Lille. (Foto: Phando Jikelo/ANA)

Uit die staat se 387 vakante residensiële geboue, is 339 in ʼn “verwaarloosde en vervalle” toestand.

Die minister van openbare werke en infrastruktuur, Patricia de Lille, het in antwoord op ʼn parlementêre vraag gesê géén van die geboue is in ʼn goeie toestand nie. ʼn Verdere 81 is só vervalle dat dit gesloop behoort te word.

“Dit blyk dat die departement nie die vermoë het om staatseiendom in stand te hou of te bewaar nie. Hoe langer dié eiendomme leeg staan, hoe groter die kans dat dit gevandaliseer gaan word. Dít het weer ʼn uitwerking op die waarde van die geboue, asook dié van die omliggende eiendomme,” het Samantha Graham-Mare, DA-woordvoerder oor openbare werke, gesê.

Terwyl die Zondo-kommissie voortgaan om dekades lange vermorsing en korrupsie te ontrafel, word dit duidelik dat die verslegtende infrastruktuur ongetwyfeld die gevolg is van finansiële en ander wanbestuur onder leiding van die ANC-regering, het sy gesê.

“Die belastingbetalers se geld wat vir die instandhouding van die eiendomme geoormerk is, word duidelik nie vir dié doel aangewend nie. Pleks daarvan val die plekke uitmekaar en kan dit nie gebruik word om ekonomiese groei en ontwikkeling te dryf nie.”

De Lille kon boonop nie sê presies wat die regering se planne met die verwaarloosde geboue is nie.

Die DA sê hy gaan nou vra presies waar die eiendomme geleë is, of dit geskik is om as bekostigbare behuising gebruik te word en hoeveel geld die departement munisipaliteite vir dienste daar skuld.

“Die DA meen die geboue kan eerder verkoop word om die reeds oorlaaide staatskas aan te vul, of dat dit in bekostigbare behuising omskep moet word. Suid-Afrika het ʼn groot nood aan sogenaamde oorbruggingsbehuising. Dit is gerig op middelklasburgers wat te veel geld verdien om vir maatskaplike behuising te kwalifiseer, maar te min om ʼn huislening te kry,” het Graham-Mare gesê.

Die regering het volgens haar baie te sê oor bekostigbare behuising waar die DA in beheer is, maar is vol verskonings wanneer dit kom by eiendom in sy eie besit.

“DA-regerings in die Wes-Kaap vra die nasionale regering al jare lank om stukke grond vir die ontwikkeling van maatskaplike en oorbruggingsbehuising beskikbaar te stel, maar dit val op dowe ore.”

Sy het gesê die regering moet ophou om politieke speletjies te speel en die regte ding doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Pim ·

Verkoop die eiendomme. Die huidige Parlement is in elk geval heeltemal te ‘fancy’ vir meeste van die huise wat vir hulle gegee word. Hulle verdien ‘n salaris en kan mos maar soos die res van die land huur betaal.

Spook op thaba ·

Hier n hele paar op ons dorp. Dink ek moet in een gaan bly en kyk wat gebeur

Sê net ·

Schubart park en Krugerpark in Pretoria. So gestroop dat dit nie meer moontlik is om die geboue binne te gaan nie. Selfs van die staal uit die betonmure gestroop. Soos galore tereg sê, sprinkaanplaag.

Andrea van Vuren ·

Nou wil die Staat ook nog ons private eiendom van ons af wegvat. Hoe lank moet ons dit nog verduur?

Eddie ·

Die Staat kan nie eers ‘n paar huise reg administreer en instand hou nie ; geen wonder die Land val uitmekaar nie !

Leon ·

Verkoop terwyl dit nog verkoopbaar is. Voordat ons die mense in die plakkerskampe moet vra om die oorblyfsel maar weg te dra.

Anel ·

Die hele Voortrekkerhoogte, of Thaba tswane. Dit is ‘n plakkerskamp. As dit nie huise is wat onbewoonbaar is nie, is daar huise wat so onderverhuur word aan aan mense wat nie in die sanw is nie. Dis ‘n skande hoe die plek lyk!

Dolly ·

Ja dit nogal baie “sad” en teer sakie, daar is soveel mense wat in die huise wil en sal bly en op hulle eie onkoste sal regmaak en instandhou, maar glo dit of te nie, die staat sê “NEE!!!! julle kan nie intrek nie want daar is ‘n twee jaar lange waglys, vra my ek weet,,maar ten spyte van die “Waglys” trek niemand in nie. Huur die huise uit aan die gewilliges, dan weet jul daar is ‘n inkomste en die huise bly behoue, maar O Nee, daar is ‘n waglys, tipies

lanie ·

Dis mos maklik om n gebou of huis te plunder om plakker huise of gehuggies op te rig.

Andrea van Vuren ·

Wat het van ons destydse SAW geword wat op die Voortrekkerhoogte terreine opgelei is. Dis skrikwekkend!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.