Byna alle flaminkkuikens eersdaags tuis by Kamfersdam

Duisende flaminkkuikens is na rehabilitasiesentrums uitgeplaas sedert die Kamfersdam opgedroog het (Foto: Kimberley DBV, Facebook)

Presies ʼn jaar nadat ʼn reddingspoging om duisende flaminkkuikens te red begin het, moet slegs 190 flaminkkuikens nog na die Kamfersdam in Kimberley in die Noord-Kaap terugkeer.

ʼn Reddingsprojek is verlede jaar van stapel gestuur om duisende flaminkkuikens te red, nadat flaminke hul neste, eiers en kleintjies verlaat het weens ʼn droogte by die Kamfersdam. Dié dam het in Januarie verlede jaar uitgedroog weens die uiterste temperature, lae reënvalsyfer en die plaaslike munisipaliteit wat versuim het om gesuiwerde rioolwater in die dam te pomp, wat gewoonlik help om die watervlakke aan te vul.

Mike Bolhuis, privaat speurder en diereliefhebber van Pretoria, het saam met die Dierebeskermingsvereniging in Kimberley (DBV) en ander vrywilligers, gewerk om bykans 2 000 kuikens van dié droogtegeteisterde dam te red deur hulle na ander gebiede te vervoer. Die doel was om die kuikens uiteindelik weer terug te neem na die dam, sodra die watervlakke weer behoorlik herstel het. Kenners reken sowat ʼn helfte van al die kuikens het gevrek.

Altesaam 49 flaminkkuikens is verlede jaar op verkiesingsdag by die Kamfersdam vrygelaat (Foto: Verskaf)

Bolhuis het die afgelope jaar gespook om honderde kuikens uit Kimberley te vlieg en in die sorg van verskeie fasiliteite oor die hele Noord-Kaap, Gauteng en KwaZulu-Natal te plaas. Dit sluit onder meer in die Nasionale Dieretuin, Montecasino-voëltuine, Lory Park-dieretuin, Vulpro en Onderstepoort se Veeartsenykundige Hospitaal in Pretoria. Bolhuis wat ’n natuurliefhebber is, het self sowat 900 kuikens na sy kleinhoewe in die noorde van Pretoria uitgevlieg.

Bolhuis het gesê hoewel die infrastruktuur van die dam nog nie ideaal is nie, het die seisoenale reën en harde werk deur verskeie belangstellendes in die omgewing die vrylating en aanpassing van die geredde voëls in die natuur moontlik gemaak.

Bolhuis het alle rolspelers bedank vir hul bydrae tot die sukses van die projek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Stormrider ·

Ek was self eendag bevoorreg om te help kuikens voer op Mike se kleinhoewe. Morsige affere, maar groot pret vir almal wat gehelp het! Mike het ‘n ongelooflike groot meenskapsdiens verrig met hierdie projek – ek haal my hoed af vir hierdie groot man! Respek vir jou Mike!

Charles ·

Baie geluk aan almal wat betrokke is by hierdie ongelooflike en prysenswaardige poging! Die Here slaap nie, voorwaar!

Sterre ·

Dankie aan al julle wonderlike mense wat die projek moonlik gemaak en deurgevoer het.

Ai tog ·

Mike,
Ek is tog so spyt dat jy nie saam met Birdlife kon werk nie…… maar baie dankbaar dat die kuikens uiteindelik terug is. Ek hoop van harte hulle pas aan en dat dit nie te laat is vir hulle nie, sienende dat saar net n beperkte tyd was waarin hulle moes teruggaan……

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.