Byna geen ANC-kaders nog oor VBS-debakel afgedank nie

VBS Mutual Bank

ANC-beheerde munisipaliteite wat groot bedrae geld verloor het deur die ineenstorting van die VBS Bank het nog byna niemand aan die pen laat ry vir die reuseverliese wat in Gauteng, Limpopo en Noordwes gely is nie.

Dit blyk uit ʼn parlementêre vraag deur die DA-LP Cilliers Brink aan die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma.

Die probleme het in Desember 2016 begin toe geeneen van die gerekende handelsbanke aan die destydse president, Jacob Zuma, ‘n huislening vir sy Nkandla-woning wou toestaan nie.

Die Venda-bouvereniging (VBS), wat uit die tuislandbedeling dateer, het toe as onwaarskynlike ridder op die wit perd verskyn om aan Zuma ‘n huislening toe te staan, wat die tot in daardie stadium redelik onbesonge VBS dadelik die politieke liefling van die Zuma-faksie binne die ANC gemaak het.

Uit daardie faksie het die oproep uitgegaan dat ANC-beheerde munisipaliteite hul bankrekeninge na VBS moet skuif uit solidariteit en waardering. Ten spyte van herhaalde waarskuwings deur die DA dat VBS nie ‘n bank van statuur is nie, het veertien ANC-beheerde munisipaliteite hul rekenings verskuif.

Toe VBS dus verlede jaar inmekaar tuimel het dit die veertien munisipaliteite in tamatiestraat gelaat met enorme geldverliese, en oproepe dat die amptenare verantwoordelik vir die onverantwoordelike beleggings in ‘n bank wat duidelik nie daarvoor opgewasse was nie, se koppe om te rol, aangesien hulle die wense van ‘n faksie in ‘n politieke party meer ter wille was as die geldelike welsyn van die munisipaliteite se inwoners.

In antwoord op Brink se vraag het Dlamini-Zuma gesê die munisipaliteite wat geraak is, is Merafong City (Carletonville), die Wes-Randse distriksmunisipaliteit (Randfontein), Madibeng (Brits), Moretele (Makapanstad), Mahikeng, Dr. Ruth Segomotsi Mompati-distriksmunisipaliteit (Vryburg), Vhembe-distriksmunisipaliteit (Thohoyandou). Elias Motsoaledi (Grobersdal), Fetakgomo (Sekhukhuneland), Collins Chabane (Malamulele), Makhado (Louis Trichardt), Lepelle-Nkumpi (Lebowakgomo), Ephraim Mogale (Marble Hall) en Groter Giyani.

In Carletonville is drie amptenare verantwoordelik gehou vir die VBS-belegging. Een is oorgeplaas na die Wes-Randse distriksmunisipaliteit en twee werk steeds by die Merafong City-munisipaliteit. Niemand is krimineel vervolg nie.

Die inligting uit Randfontein word nog deur Dlamini-Zuma ingewag.

In Brits is drie amptenare in Oktober verlede jaar geskors, maar weer in April vanjaar in hul poste herstel. Een het sedertdien bedank en een is oorgeplaas na die dr. Kenneth Kaunda-distriksmunisipaliteit in Klerksdorp.

In Makapanstad is die munisipale bestuurder in Desember verlede jaar geskors maar hy kry steeds sy volle salaris.

Vanuit Mahikeng is die nuus dat die munisipale bestuurder afgedank is. Die waarnemende finansiële hoofamptenaar en die begrotingshoof het beide bedank.

In Vryburg is ʼn dissiplinêre ondersoek na die gedrag van die munisipale bestuurder aan die gang en is hy intussen teen volle betaling geskors.

Nuus uit Thohoyandou is dat die munisipale bestuurder en die finansiële hoofamptenaar ‘n skikkingsooreenkoms met die distriksraad bereik en daarna bedank het.

In Groblersdal is die munisipale bestuurder steeds teen volle salaris geskors en het die finansiële hoofamptenaar bedank. Dieselfde geld in Marble Hall, Sekhukhuneland en Malamulele.

In Louis Trichardt is die direkteur: gemeenskapsdienste geskors teen volle betaling. Die munisipale bestuurder in Lebowakgomo het bedank en die finansiële hoofamptenaar is geskors.

In Giyani is die finansiële hoofamptenaar afgedank, het Dlamini-Zuma gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Hasie ·

ANC is die sirkus van die eeu. Kleiner sirkusse soos Wilkes en die ouens het lankal gevlug, want die anc se vertonings
is baie meer grappig en snaaks, daarom sluit die kleiners hul deure, kan nie kompeteer.

Jo B ·

Pres. Ramahposa is verkies om die gespuis te beskerm en nie af te dank. Sovêr is hulle baie tevrede met hom.

Entrepreneur ·

Ek gaan aansoek doen om met volle betaling geskors te word! Betaalde vakansie, kan nie beter nie!

Ig ·

En Kieswetter en kie wil hê almal moet getrou hulle belasting betaal, plaas dat hy daai struikrowers van Vbs n leefstyl oudit gee en al die milarde belasting wat voete gekry het by Sal, Spoornet ens ens invorder.

Johan ·

Dit wil voorkom asof die algemene denke in die ANC is dat mense wat polities reg gekoppel en korrup is, nie vervolg mag word nie. Hulle word eerder beskerm…. Dit is ‘n manier van goedkeuring vir korrupsie.

Al ·

Pragtige voorbeeld wat die ANC vir ons jeug stel (sarkasties).
Net soos hul in die apartheid ñ kultuur gestel het onder hul mense om nie vir munisipale dienste te betaal nie – en nou met kopsere sit.
Het hand om die blaas gewees met vakbonde, nou byt dir vakbonde hul aan hakskene (SAL).
Daar heers ñ algehele morele verval onder jeug, wat sien jy kan letterlik met misdaad wegkom (soos ons geagte leiers in die land).

Neels ·

Niks snaaks nie , het jy al grhoor van n ANC kader wat aangekla is vir staatskaping, LMG. ????????

CallieL ·

Kan niemand in die parlement opstaan en net vir een keer die waarheid praat nie. Kan niemand dit duidelik daar stel dat elke enkele anc lid korrup en totaal onbevoeg is nie. Dat n president wat die toelaat net so deel van korrupsie is nie. Dit duidelik uitspel dat munsipaliteite, Denel, Eskom, Weermag ens. n toonbeeld is van die korrupte en onbevoegde spul wat in kabinet sit. Kan, wil of mag die waarheid nie uitbasuin word nie.

Feite ·

Die ANC sal niemand aan die pen laat ry nie want selfverrykende korrupsie is deel van die ANC se ideologiese struggle strategie om white privelage met black cadre privelage te vervang. Alle kaders in die ANC is deel van die struggle ideologie. Vanaf die president tot by die laaste kader wat in n bank werk is deel van die “struggle that will never stop until there is nothing left to take”! Dit gaan so sleg in SA omdat opposisiepartye dit nie verstaan nie en daarom nie glo nie en daarom nie meer kan stop nie en saam met die skip sink!

Die regte Grassie. ·

Dankie vir ‘n volledig berig wat goed nagevors is. Al wat kortkom is die rol wat die staatsdienspensioenfonds in die bedrogspul gespeel het. Daar is destyds berig dat hulle groot verliese gely het maar daarna het dit stil geraak Hoe meer ‘n mens van die ANC te hore kom hoe meer besef jy dat hulle totaal onbevoeg is om ‘n land te regeer.

Van waat Gahasie ·

Stem saam met @Feite. Maar dit is nie net die ANC wat korrupsie klaarblyklik ondersteun nie maar ook landsburgers wat dit in staat stel sonder gevolge. Waar is die VFPlus met hul verkiesingsbeloftes van selfbeskikking? Nou is dit net Carpe Diem. Wat n slap riem!

Petrus ·

Ons wat in een van die kleiner dorpe woon maai nou die misbaksel wat volg op dié. Ten spyte van kamtige reaksie van die ANC se sg integriteits kommitee het bokkerall nog gebeur.
Die dienste in ten gronde en amptenare hou julle doof – so-ook die kiesers.

Eddie ·

Die ANC het ‘n groter probleem ; as die skuldiges vervolg en gevonnis word is daar nie genoeg plek vir hulle in die huidide oorvol tronke nie !

Penellope Jones ·

Dit hang seker af wie weet wat van wie af……..

Pietie ·

Al die betrokke persone in die munisipaliteite loop (ry) nog skotvry rond.
Geen ptobleem, geen haas.
Intussen verkeer van die munisipaliteite in haaglike finansiële toestand soos gesien kan word aan die fisiese toestande van die dorpe. Mens wonder hoeveel kommisie op die transaksie betaal is.

Johann ·

Wat het julle verwag, Cyril het met groot bravade verkondig hoe mense oor staaskaping vervolg gaan word en wat gebeur toe, ‘n fluitjieblaser en ‘n trawnt is al wat aangekla is. Niemand sal ook verder vervolg word nie.

skurweberg ·

Kan die miljoene mense wat vir die ANC en hul meelopers gestem het, nie maar vir ‘n slag teen hulle eie mense begin agiteer nie? Hulle sien en ervaar net soos ander wat besig is om te gebeur. Dit sal ‘n heldedaad wees wat die toekoms van Suid-Afrika, vir ons en hulle kinders en kleinkinders sal help verseker. Stakings bring tydelike oplossings. Doen iets wat die hele SA sal help en wat die ANC se oe sal laat oopgaan vir die waarheid oor die noodsaak vir permanente oplossings vir die land se probleme.

Strandloper ·

Ja…ja…ja…hulle is eintlik baie slim nê en het ons presies waar hul ons wil he en weet ons kan niks doen nie. ONS betaal vir hul sotlike dade en hul lag te lekker. Tiepies ”Animal farm”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.