Byna helfte van jonges beskou ‘geld vir tender nie as korrup’

(Argieffoto: Ian Landsberg/ANA)

Die organisasie Corruption Watch sê hoewel Suid-Afrikaanse jongmense verstaan wat korrupsie is en wat die uitwerking daarvan op die samelewing is – en talle aanvoer dat hulle self nie korrupsie pleeg nie – is baie van hulle steeds bereid om omkoopgeld te betaal om byvoorbeeld ʼn werksgeleentheid te verseker.

Die korrupsiewaghond het ʼn studie gedoen oor jongmense se persepsies en houdings jeens korrupsie. Sowat 1 500 respondente tussen 18 en 35 jaar oud het aan die opname deelgeneem.

“Nie net is jongmense slagoffers van korrupsie nie, hulle word ook oortreders. Gedwing deur gewetelose amptenare om omkoopgeld te betaal of seksuele gunste te doen om te kry wat hulle nodig het, loop hulle die gevaar om korrupsie te begin beskou as aanvaarbare praktyk om goedere of dienste te bekom, vorentoe te gaan in die lewe, of gevolge te systap,” het die navorsers bevind.

Die navorsing het bevind 51% van respondente beskou byvoorbeeld nie die dreig van ʼn onderwyser vir ʼn hoër punt as korrupsie nie.

Net so beskou net 51% van jongmense dit as korrupsie om iemand te betaal in ruil vir die toekenning van ʼn tender.

“Gegewe die aaklige vlakke van korrupsie wat die afgelope jaar tydens Covid-19-verwante aankope gesien is, is dit niks minder as rampspoedig nie om omkoopgeld as normaal te sien.”

Die navorsers het bevind werkloosheid, magsmisbruik, gulsigheid en geen of lae inkomste word beskou as van die grootste oorsake van korrupsie. Jongmense vertrou as ʼn reël nie politici of groot maatskappye nie en beskou boonop die polisie en plaaslike regerings as van die mees korrupte instellings in die land.

Ooglopende korrupsie – diefstal, bedrog of omkopery – word deur 59% van respondente as korrupsie bestempel, terwyl minder ooglopende vorme daarvan – soos diskriminasie of nepotisme – net deur 3% as korrupsie beskou word.

Die meeste jongmense kon wel die sogenaamde minder ernstige vorme van korrupsie uitwys. Dit sluit in voorbeelde soos om iemand te betaal om voor in die ry by die departement van binnelandse sake te beland, die betalings van die skoolbeheerliggaam se voorsitter om te verseker ʼn sekere persoon kry die spysenieringskontrak, of die betaling van groot bedrae geld as jy jou leerlinglisensie of toets vir ʼn rybewys wil slaag.

Corruption Watch het bevind jongmense is ook meer bereid om omkoopgeld te betaal of ʼn guns vir iemand te doen in ruil vir ʼn werksgeleentheid, eerder as om toegang tot basiese dienste te verseker.

Die navorsers het ook bevind ʼn hoër persentasie mans het al geld betaal in ruil vir iets wat hulle nodig gehad het.

Sowat 14% van respondente het aangedui dat hulle al gevra is vir ʼn seksuele guns in ruil vir ʼn werksgeleentheid.

Die navorsers het bevind ʼn groter persentasie van jongmense is bereid om in die toekoms te betaal vir ʼn werksgeleentheid. Mense is ook bereid om iets onwettig in die toekoms te doen as iemand na aan hulle bedreig word (19%), of as dit hulle lewe gaan vergemaklik (15%).

Luidens die studie dink jongmense die mees korrupte instellings is die polisie (76%), plaaslike regerings (75%), verkeer- en lisensiedepartemente (75%), die parlement (68%) en die sakesektor.

Altesaam 36% van respondente vertrou wel pres. Cyril Ramaphosa se pogings om korrupsie te bekamp.

Die meeste deelnemers meen ook korrupsie het oor die afgelope vyf jaar vererger.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Pierre ·

Aardjie na sy vaartjie, die regering stel n mooi voorbeeld, so moet dan nie verbaas wees nie, in SA is die leuse “Crime pays and it pays well!”

RB ·

Elsje, jy sal geskok wees om te hoor dat dit dikwels in ouerhuis n oorsprong het.

So bel ouer van n regsstudent my dogter om te vra of sy namens haar dogter n vak sal gaan skryf wat die dogter sedert 1e jr nie kan slaag. Diè vak (n taal) hou haar nou terug. Sy beloof baie goeie vergoeding, 50% vooraf, uitstaande na afloop van eksamen.

My dogter was sò geskok dat die voorstel kom vanuit n gesiene gemeenskap en boonop iemand wat die regsberoep wil betree!!

Coenraad ·

As die studie gedoen is met inagneming van die bevolkingsamestelling, wat so 11 teen 1 is, is dit duidelik wie die deelnemers was.

Pieter ·

Jonges se koppe is al net so vrot soos die anc en eff- Dit is nie hulle skuld nie, maar om korrupsie te sien as niks fout nie is S.A besig om gou waardigheid te verloor en leiers van more gaan nog erger wees as vandag. Kom ons bid vir ons jonges.

Joggie ·

Cyril kry dit reg om sy “our people” so korrup soos die ANC te laat word!

Jaco ·

As jy werk soek en jy kry aanmekaar die volgende verskonings:
Geen werk want jy is oor gekwalifiseerd
Geen werk want jy is verkeerd gekwalifiseerd
Geen werk want jy het te min ondervinding
En Geen werk want jy is wit
WAT moet jy dan doen? Week na week, maand na maand, jaar na jaar. Eks deur dit alles. Ek weet hoe dit voel.
Ek het later maar op my CV gelieg. 1 jaar in die weermag na 2 jaar verander en 4 jaar op universiteit na 3 jaar verander en duidelik aangedui dat ek niks daar bereik het nie. Vreemd, maar met dié leuens en deur dommer te lyk, het ek wel ordentlike werk gekry.

Jack Russ1 ·

Hi Jaco. Ek het baie simpatie met jou. Ek kan my net self indink hoe dit moet wees. Dit is bitter maklik om vinger te wys as jy nie in daardie situasie is nie. Die probleem is net jou kinders kyk na jou vir kos. So jy sit voor ‘n keuse jy het of honger kinders of jy moet maar die game saam speel

Anoniem ·

Wat verwag jy van die helfde van die jonges waar hulle slegs 30% moet kry in matriek om te slaag… Natuurlik gaan hulle so dink as hulle van niks beter weet nie

Danny ·

GEEN waardestelsel meer in ons jonmense se lewens gekweek nie… Dis jammer dat hulle rondom die wereld verander, instede dat hulle die wereld verander..

RS ·

Opvoeding. Eie reg en die “wereld skuld my” houding maak so.

Niklaas ·

Om hiervan te lees is steurend , maar ek is eintlik nie verbaas nie. Sekere leiers stel nie ‘n goeie voorbeeld nie.

Stefan ·

Hoe sè hulle, as jy opgroei tussen die varke vreet jy semels.

Cecilia ·

Ja d 51% vd q500 is seker vd ANC en Mal-Emma geledere.
Skokkend want dan gaan korrupsie nooit uitgeroei word vr nog 40 jr.

Roebs ·

Regtig waar doen hulle dit en wie is die deelnemers van die opname? Regtig as dit wat ons land dink is ons baie bleek toekoms

Frank ·

Wie ookal die respondente is…… Die skuld vir hulle lewensuitkyk en gebrek aan waardestelsel lê vierkantig voor hulle ouers se deur. Nie die regering, samelewing, musiek of video speletjies of watter flou verskoning ookal nie.
Oor en klaar, geen debat.

Elize ·

As korrupsie dan nou nie n probleem vir hulle is nie moet hulle ook nie kla oor werkloosheid en omdat daar nie geld is vir dienslewering nie. Lyk my hulle verstaan nie mooi waaroor dit gaan en hoe dit werk nie.

christo ·

Hoe anders? Die ouers is korrup. Die beheerliggaam voorsitter by die skool is waar ek werk is korrup en is in die ANC op hoë vlak betrokke. My hoof het haar aanstelling gekry net soos CR om stemme te koop. Die skool het verval in wanorde want as gevolg van haar korrupte aanstelling het sy haar aansien en outoriteit verloor. Die dag as jy jou siel aan satan verkoop het, is jy daarmee heen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.