Byna helfte van SA ly honger weens Covid-19

(Foto: Verskaf)

Talle organisasies het tydens veral die strenger inperkingstyd gewaarsku teen die onbedoelde maar enorme gevolge van die maatreëls om Covid-19 te bekamp. Een van dié gevolge is ʼn toename in hongersnood onder Suid-Afrikaners.

Nagenoeg 3 miljoen mense het boonop hul werk verloor.

Die Ipsos-navorsingsmaatskappy het in ʼn studie wat tussen November en Desember verlede jaar gedoen is, bevind dat byna die helfte (46%) van volwasse Suid-Afrikaners saamstem met die stelling dat “lede van die huisgesin tydens die Covid-19-pandemie dikwels honger gely het omdat ons nie genoeg geld vir kos gehad het nie”. Tog meen die meeste Suid-Afrikaners steeds die regering, en veral pres. Cyril Ramaphosa, het hom goed van sy taak gekwyt, wys die peiling.

Die nood het Suid-Afrikaners van alle bevolkingsgroepe geraak. Die navorsers het bevind sowat die helfte van swart en Indiër Suid-Afrikaners het honger gely, asook meer as vier uit tien bruin mense en byna drie uit elke tien wit mense.

Bevolkingsgroep:

Indiër:   51%

Swart:   48%

Bruin:    43%

Wit:       29%

Die navorsers het bevind hongersnood is landwyd ondervind, maar diegene in KwaZulu-Natal (met die land se naasgrootste bevolking) en die Oos-Kaap (een van die armste provinsies) het die swaarste gekry.

Mense wat hongersnood ondervind:

Mpumalanga:    29%

Limpopo:            37%

Gauteng:             44%

Noordwes:         51%

Noord-Kaap:      36%

Vrystaat:             28%

Wes-Kaap:          47%

Oos-Kaap:           56%

KwaZulu-Natal:  58%

Hongersnood het ook nie net werkloses geraak nie. Sowat 45% van werkende Suid-Afrikaners en 46% van werklose Suid-Afrikaners is daardeur geraak.

Altesame 58% van Suid-Afrikaners wat aan die studie deelgeneem het, het aangedui dat die Covid-19-pandemie ʼn negatiewe uitwerking op die huishouding se inkomste gehad het.

Ondanks die groot lyding was Suid-Afrikaners betreklik tevrede met Ramaphosa en die regering se prestasie tydens die Covid-19-pandemie. Byna een uit elke ses Suid-Afrikaners (58%) glo Ramaphosa het hom goed van sy taak gekwyt en ʼn amper soortgelyke getal (56%) meen die regering het hom goed van sy taak gekwyt.

ANC-ondersteuners is – en dis waarskynlik geen verrassing nie – meer geneig om die president en sy regering te steun. Ondersteuners van die meeste ander partye stem wel saam, maar nie heeltemal tot dieselfde mate nie.

Ondersteuners van die land se drie grootste politieke partye (DA, EFF en ANC) is dit egter eens dat beweerde korrupsie deur staatsamptenare hulle meer negatief teenoor die ANC gemaak het. Altesame 52% van diegene wat aan die opname deelgeneem het, het met dié stelling saamgestem. Ipsos sê die opvatting sal egter in komende opnames getoets moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Tanniepetoors ·

Het Ipsos gevra wat dink almal van die belaglike regulasies en die vrou met die linnekas op die kop?

Anel ·

Gelukkig kan mens van mening verskil. Stem nie saam met die regering nie.

Antjiepat ·

Jammer maar die syfers is volgens ‘n meningspeil studie verkry, die persentasies en syfers stem nie ooreen met die werklike syfers en persentatsies nie…

Mariana ·

Wat beteken onbedoelde maatreëls? Die regering het geweet ons stuur op ramp af, lank voor covid al. Maar geen langtermyn planne was in plek nie. Nou lei mense honger en wie is te blameer, covid en seker witmense ook. Hoekom? Te midde van die pandemie is mense wat gratis kos wou voorsien gestop om dit te doen. Nee blameer gerus maar die regering en sy ideologie. En kyk as die statistieke reg is, is dit sy eie mense wat ergste ly daaronder. Die mense wat voorkeur gekry het bo ander. En beloftes wat nooit gestand gedoen word nie. En dan boonop word boere, wat kosvoorsieners is ook nog afgemaai. Soos die Bybel sê jy sal maai wat jy saai, daai tyd is nou hier. Maak oop die land se maatreëls, laat mense weer werk, laat hulle weer vir hulle gesinne kan sorg. Nie meer lus om te hoor dat Covid die oorsaak is van vandag se probleme nie. Korrupsie.

Mariana ·

Hulle het my nie gevra nie. Nie die regering of Ramapoza het hulle goed van hul taak gekwyt nie. Daardie opname is nie lekker volledig nie. Vertel nie die ware storie nie.

Suzette ·

Ek dink glad nie hierdie syfers is korrek nie – die regering het al te veel keer bewys dat hulle nie enige statistieke kan byhou nie – as een voorbeeld – hulle weet nie eens hoeveel grond in SA in die regering se besit is nie….

Danie ·

Ek dink regtig ons moet ophou verskonings soek vir die ellendes in ons land. Ons almal weet wie is aan die stuur maar nou word daar ontsnap roetes geneem en gee covid die skuld. Nonsens man dit is hierdie regering wat nie weet wat hulle doen nie. Ons land gaan ten gronde van die dag wat hulle oorgeneem het en dit versnel nou met een helse spoed. Dit is nie covid nie dit is die ANC.

Marisa W ·

Die persentasie van hongeres en die persentasie wat glo die regering het hom goed van sy taak gekwyt is byna dieselfde – hou maar aan so glo en julle sal honger bly en hongerder raak

Robert ·

En mense het my gekritiseer dat inperking die resultaat sou teweegbring.

JM ·

Het nog nie eenkeer gehoor dat Ramaphosa of Motsepe met hul biljoene, hongeres bystaan nie.

Tiptol ·

Ramaphosa het mos gesê die virus het ‘n geleentheid geskep…..

Willem Wikkelspies ·

Daar’s ‘n fout in die artiekl .. Byna een uit elke ses Suid-Afrikaners (58%) glo .. my somme wys een op ses is nie 58% nie .. ek noem net

H ·

se dankie aan jou president en sy kabinet… dink daaraan , malema sit nou lekker dik ge eet in sy groot huis , en gee nie n krummeltjie vir sy ondersteuners nie…. lekker ne………

Jan ·

Data deur die gesaghebbende Pandata se analiste versamel en ontleed toon dat kollaterale skade weens die inperkingsmaatreëls meer as 30 maal skadeliker as die virus is. Ook dat opvolgende “golwe” deur die maatreëls eerder as deur virusse gedryf word.

Bart-Man ·

60% van Suid Afrikaners is oorgewig. Maar 50% ly honger. Kan iemand dit aan my verduidelik?

Realis Thailand ·

Ek het geen simpatie met die mense wie anc gestem het wie honger ly nie
Minder om volgende keer te stem

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.