Eskom het Donderdag gesê dat 18 van sy 79 (22,7%) kragopwekkingseenhede buite werking is en dat beplande instandhoudingswerk aan nóg nege gedoen word. Dit sluit Koeberg se eenheid twee in, wat tans hervul word en nie in gebruik is nie.
Nietemin, sê André de Ruyter, Eskom se uitvoerende hoof, is die kragnetwerk op die herstelpad.
Fase 3-beurtkrag sal egter steeds tot Donderdagaand geld aangesien Eskom tans net 28 022 MW beskikbaar het. Fase 2 sal na verwagting tot Vrydagaand ingestel word, terwyl geen beurtkrag vir die naweek beplan word nie.
De Ruyter sê ook dat geen beurtkrag in dié stadium volgende week in werking gestel sal word nie, maar het benadruk dat dit aan die “stabiliteit van die kragnetwerk” onderwerp is.
Meer as 14 000 MW gaan tans weens onbeplande onderbrekings verlore, maar De Ruyter het die versekering gegee dat groot eenhede besig is om te herstel.
Hy sê dat sewe van die kragaanlegte tans behoorlik funksioneer, wat die risiko van ʼn verlies aan megawatt verlaag.
Rhulani Mathebula, algemene bestuurder by Eskom, sê dat verwagte reën wat vir die naweek voorspel word wel ʼn uitwerking op sommige kragstasies kan hê.
“Ons spanne is egter gereed en gemobiliseer om dit sover moontlik te hanteer.”
Eskom sê voorts dat hy teen einde Mei ʼn spitsaanvraag van 35 000 MW vir krag verwag soos die winter al nader kruip.
Dieselvoorraad goed
Eskom sê R7 miljard is in die vorige finansiële jaar aan sy eie dieselgedrewe aanlegte bestee, terwyl R626 miljoen al vandeesmaand bestee is.
“Ons verbrand te veel diesel en hou nie daarvan om geld daaraan te bestee nie. Dit speel egter ʼn belangrike rol om die spitsaanvraag na krag te verlaag. Dis waarvoor dié aanlegte ontwerp is,” het De Ruyter gesê.
Hy meen die aanlegte word goed onderhou en dat daar voldoende voorraad beskikbaar is.
“Dieselvlakke word uurliks gemonitor. Daar is altyd reserwekapasiteit. Dit dien soort van as ʼn battery wat kan voorsien sou ons skielik eenhede verloor.”
De Ruyter het verder gesê dat die land tans besig is om uit beurtkrag te beweeg, maar alle kraggebruikers aangemoedig om steeds onnodige toestelle af te skakel.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
27 Kommentare
BEEE op sy beste.
Hau….
Dit is regtig nou al lankal verby die tyd vir alternatiewe krag voorsiening. Daar is maatskappye daar buite wat tou staan vir die geleentheid. Dit sal heelwat van die land se probleme opklaar met betroubare permanente krag.
Dit gaan ‘n laaa…..ng donker en koue winter wees.
En ons glo dit!!!!!
As de Ruyter in swart sê dit hang af van die stabiliteit van die stelsel, dan moet jy weet hier KOM LOADSHEDDING. En moenie vergeet Eskom apologises for the inconvenience!