Candy Benson uit hospitaal ontslaan

Candy Benson. (Foto: Facebook)

“Daar lê nog ʼn lang herstelpad vir haar voor, maar sy is by my by die huis en daarvoor is ek ongelooflik dankbaar.” Só sê Cindy Benson, ma van die sangeres Candy Benson.

Candy is Dinsdag ná 53 dae in die Netcare Olivedale-hospitaal in Johannesburg, waar sy om haar lewe geveg het nadat sy Covid-19 opgedoen het, ontslaan.

Volgens Cindy sal Candy nog geruime tyd aan suurstof gekoppel wees en sal sy fisioterapie vir haar longe moet ontvang.

“Ons vat dit dag vir dag, maar ons dank ons hemelse Vader dat Candy by die huis is. Ons is dankbaar dat sy volgens die dokters sterk genoeg is om tuis verder aan te sterk en ons bid vir volkome genesing.”

Candy se pa, Marc Benson, is op 11 Augustus dood weens Covid-19. Die Bensons moes egter dié hartseer nuus vir weke van Candy weerhou, aangesien dokters bang was dat sy ʼn terugslag sou beleef weens die skok.

“Ons moes die nuus sowat drie weke lank vir Candy wegsteek, maar sy sê nou sy verstaan hoekom ons dit moes doen. Sy wil egter nie hê dat ons sonder haar ʼn roudiens vir haar pa moet hou nie.”

Cindy beskryf die 53 dae wat haar enigste dogter in die hospitaal was as ʼn “nagmerrie”. “Ek kan nie vir jou sê waardeur ons as gesin is nie. Wanneer dit jou enigste kind is en jy boonop jou man verloor, het jy nie ʼn ander keuse as om sterk te bly nie. Ek moes sterk bly vir my kind.”

Cindy en Marc Benson. Hulle is die sangeres, Candy Benson, se ouers. (Foto: Facebook)

Candy het kort voor haar hospitalisering verloof geraak aan Dylan Emslie, ook ʼn beroepsmusikant, wat deel van die groep Jan Jan Jan is.

“Ons was almal baie emosioneel toe ons Candy by die hospitaal gaan oplaai het. Dit is net deur God se genade dat Candy nog hier is ná alles wat sy moes deurmaak.”

Cindy benadruk dat die gesin steeds vir gebede vir haar dogter vra. “Daar is mense wêreldwyd wat vir ons kind bid. Haar geloof is baie sterk en ons bid ook konstant saam. Ons glo dat God haar ten volle sal genees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mariana ·

Ai soveel hartseer maar nou moet hulle vorentoe kyk en dit dag vir dag vat. Sterkte.

Barney ·

Wanneer sy volkome herstel is stel ek voor julle vind uit by haar wat was haar mediese behandeling in die hospitaal want ek wed jou sy het nie die regte diagnose, prognose of therapie ontvang nie. Ek stel voor die familie doen ondersoek en eis skadevergoeding teen die dokters wat haar behandel het en die hospitaal. Hierdie hele storie lyk vir my soos mediese nalatigheid en dit kom met ń prys.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.