Candy Benson weer terug in die hospitaal

Candy Benson. (Foto: Verskaf)

Die sangeres Candy Benson is Maandag weer teruggehaas na ʼn hospitaal in Johannesburg weens Covid-19‑komplikasies.

“My kind is hel toe en terug, maar ek weet sy is die Here se kind en hy sal haar volkome genees.”

Só sê Cindy Benson, Candy se ma. Candy veg al sowat twee maande lank om haar lewe weens Covid-19.

Candy is verlede week uit die Netcare Olivedale-hospitaal in Johannesburg ontslaan, maar is vroeër die week weer vir observasie opgeneem omdat haar suurstofvlak skerp gedaal het.

Cindy vertel hulle het inderhaas van Krugersdorp, waar die Bensons woon, na die hospitaal gery.

“Ons was paniekbevange, want ons het net ʼn klein suurstofsilinder gehad en het nie geweet hoe lank dié suurstof sou hou nie. Ek het met my noodligte aan gery al die pad tot by die hospitaal. Dit was angswekkend.”

Volgens Candy se dokters het sy infeksie in een van haar longe, waarin daar twee gate is. Die ander long het bloedklonte in. Die dokters het egter intussen besluit dat haar longe nie sterk genoeg is vir ʼn operasie nie en dat sy vir eers net met sterk medikasie behandel sal word.

“Candy was Maandag baie ontsteld toe sy hoor sy moet weer opgeneem word. Sy was voor dit 53 dae in die hospitaal en die dinge wat sy daar gesien en gehoor het, is ongelooflik. By die huis kan sy ten minste haar ma se hand vashou en nou moet sy weer terug na die plek waar sy ʼn nagmerrie deurgemaak het,” vertel Cindy.

Candy se geloof bly egter onwrikbaar, benadruk Cindy.

“Ons pleit by die Here om haar te genees. ʼn Mens weet dat jy nie moet vrae vra nie, maar soms wonder ons hoekom so iets met so ʼn goeie mens soos Candy moes gebeur.”

Cindy sê Candy plaas druk op haarself om gesond te word sodat hulle ʼn roudiens vir haar pa, Marc, kan hou. Hy is op 11 Augustus aan Covid-19 dood. Candy was toe nog in die hospitaal en om te verseker dat sy nie ʼn terugslag beleef nie, is dié nuus sowat drie weke lank van haar weerhou.

Candy Benson en haar verloofde, Dylan Emslie. (Foto: Facebook)

“Sy verwyt haarself dat ons nog nie vir haar pa ʼn roudiens kon hou nie. Sy wil nie hê dat ons so ʼn diens moet hou sonder haar teenwoordigheid nie en daarom voel sy verantwoordelik daarvoor dat ons nog nie behoorlik kon afskeid neem van haar pa nie.”

Volgens Cindy is sy self nie gereed om tou op te gooi nie. “Die vyand het reeds een keer by my gesteel, maar ek gaan dit nie nog ʼn keer toelaat nie. Maandagaand het ek net in stilte in die voorkamer gesit en dit het begin reën – ek het amper gevoel asof dit die Here se boodskap aan my is wat sê hy gaan dié aaklige siekte kom wegspoel.”

Sy voeg by dat sy geen ander opsie het as om sterk te bly vir haar enigste dogter nie. Sy ondersteun ook vir Dylan Emslie, Candy se verloofde. Hy werk in die konstruksiebedryf en Mooi Jan, kitaarspeler van die musiekgroep Jan Jan Jan.

“Dylan het kringe om sy oë van bekommernis. Sy is ook sy hele wêreld en om haar so siek te sien is vir hom verskriklik moeilik.”

Intussen pleit sy steeds vir gebede vir haar dogter. “Ons geloof is al wat ons nou het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Aai ·

Ons bid vir jou sterk wees ons weet jy kan met die Here se hulp en ‘n helpende hand oor die dokters.

Mariaan ·

Ai tog..wat n lang uitmergelende pad..baie sterkte vir julle….ons glo sy gaan gou beter word!

Di ·

Baie sterkte aan haar en haar familie. Glo dit is ongelooflik moeilik. Sal julle in ons gebede hou.

Frank John ·

As jy alles gedoen het om staande te bly, staan dan vas. Efe. 6. Moenie wankel nie. As God gesê het Hy dit sal doen dan sal Hy. As jy glo en nie twyfel nie sal jy kry presies wat jy gevra het. God antwoord gebed volgens Sy wil en jou sonder twyfel geloof. Niks is by God onmoontlik nie. Hy kan en Hy wil. Laat dié woord nie uit jou gaan nie, mediteer elke oomblik daaraan en weet dat God in die Naam van Sy Seun Jesus Christus jou nie sal begewe of verlaat nie. Wees sterk en vol moed. Jy is Myne, sê die Here

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.