Capitec bly aantreklik vir lae-inkomste gebruikers – verslag

Capitec Bank (Argieffoto)

Capitec het weer die titel gekry as die goedkoopste bank vir lae-inkomste gebruikers, blyk dit uit Solidariteit se jongste bankkosteverslag. Dié verslag is Dinsdag uitgereik.

Dié bank is steeds die enigste bank wat goeie rente op transaksierekenings bied, het die tiende uitgawe van dié jaarlikse verslag gewys.

In sy vergelykende ontleding van die koste van persoonlike transaksierekeninge by vyf Suid-Afrikaanse banke, meen Solidariteit dat banke vanjaar strawwe mededinging in die mark vir persoonlike transaksierekeninge voortgesit het.

“Banke het gepoog om met ’n kombinasie van beter voordele en verlaagde bankkoste as wenners in die mark uit die stryd te tree. In ’n omgewing waar verskeie banke sukkel en deur groot afleggings in die gesig gestaar word, het Capitec dit sedert 2018 reggekry om regstreekse bankkoste vir gebruikers te verlaag,” het Monica Mynhardt, navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), gesê.

Met betrekking tot banke se vlagskiprekeninge begin ’n kombinasie van bankkoste en beloningsprogramme die oorwegende faktor vir gebruikers word. Vir gebruikers wat nie ’n behoefte daaraan het om deel te neem aan ’n beloningsprogram nie, bly Capitec die goedkoopste bank.

“Vir gebruikers op soek na beloningsprogramme, sal FNB se Gold Cheque-rekening uitstekende waarde bied, omdat gebruikers hiermee toegang verkry tot FNB se beloningsprogram, eBucks,” sê Mynhardt.

Dit is verder ook die enigste rekening in hierdie kategorie, buiten dié van Capitec, wat sedert verlede jaar verlaagde bankgelde bied. Hierdie verlaging het tot gevolg gehad dat FNB se Gold Cheque-rekening Standard Bank se Elite Bundle, die goedkoopste opsie met voordele sedert verlede jaar, net-net verby gesteek het.

Transaksierekeninge vir die hoërmiddelklasgebruikers is waarskynlik die kompeterendste. Die soort voordele in hierdie kategorie is oor die spektrum van banke heen baie vergelykbaar, en die verskil in koste tussen die verskillende banke is die kleinste in hierdie kategorie.

Foto: Absa Groep

“FNB Premier Cheque en ABSA se Premier-rekening was egter die enigste twee wat ’n verlaging in bankkoste gebied het. ABSA se Premier-rekening is ook die goedkoopste rekening in hierdie kategorie – die koste hiervan is vergelykbaar met die duurste rekeninge in die vorige kategorie. Ten spyte daarvan dat FNB ook ’n verlaging in bankkoste kan bied, bly Standard Bank se Prestige Rebate-rekening die beste opsie naas ABSA,” het Mynhardt gesê.

Vanjaar se verslag sluit ook ’n ontleding van internasionale rekeninge en buitelandse valuta in. Dit word ingesluit te midde van plaaslike onsekerheid en ’n dikwels onbestendige rand, om gebruikers bloot te stel aan opsies om te diversifiseer deur in buitelandse valuta te belê.

“Hierdie rekeninge is tipies rekeninge wat met geen koste of minimum saldo aan ’n reeds bestaande transaksierekening gekoppel kan word. Hiermee kan gebruikers buitelandse valuta aankoop. ABSA, FNB, Standard Bank en Nedbank bied almal so ’n opsie, terwyl Capitec die enigste bank is wat nie hierdie opsie bied nie,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hendrik ferreira

Ek was al by baie banke en almal het twee dinge in gemeen duur bank koste en swak dienslewering maar Capitec is presies wat ek van n bank verwag,bly asb net soos julle nou is.

JohanR

Ek hou van Capitec. Nie soos Standard Bank, waar die kassiers suurstof maskers dra, en skuil agter glas sodat jy nie jou kieme vir hulle gee nie!

Jax

Dankie Capitec. Julle is die beste. Julle kliëntediens is puik en julle gee werklik om! Ek is baie bly ek het by julle aangesluit! Hou so vol.

Carlo Weyer

Capitec is great! Hulle doen werklik hulle slagspreek “simplified banking” gestand. Ek het egter gehoor dat ‘n gewone spaar/transaksie rekening nie vir jou help om punte op te bou op jou kredietwaardigheid nie terwyl ‘n tjekrekening wel punte verdien tov jou kredietwaardigheid. Weet iemand dalk of dit waar is? En weet enigeiemand of Capitec binnekort ‘n tjekrekening gaan bekendstel?

Midnightcode

Wanneer maak jy besighieds rekeing oop, kan nie wag nie.