Capitec-rekeninghouers moet ‘wag vir volle prentjie’

Foto: Capitec/Facebook

Aandeel- en rekeninghouers moet versigtig wees om voortydig besluite te neem oor hul belange by Capitec op grond van ʼn verslag wat vroeër Dinsdag oor die bank bekendgemaak is.

Talle batebestuurders en kenners in die ekonomiese veld het gemaan dat hoewel Capitec in ʼn stadium tot sowat 25% van sy aandeelprys verloor het, die bank besig is om terug te veg nadat die Suid-Afrikaanse Reserwebank in ʼn kort verklaring gesê het die bank is volgens sy wete solvent, goed gekapitaliseerd en het voldoende likiditeit.

Viceroy, die Amerikaanse batebestuurder en navorsingsgroep wat bekendheid verwerf het nadat hy ongerymdhede by Steinhoff gerapporteer het, het Dinsdag ʼn verslag uitgereik wat Capitec as ʼn “woekeraar” (loan shark) beskryf.

In die verslag wat omstreeks 10:00 op Viceroy se webwerf geplaas het, het die groep gesê hy glo die Reserwebank en die minister van finansies moet die bank onmiddellik onder kuratorskap plaas omdat die bank geld teen hoë rentekoerse uitleen, terwyl die bank homself as ʼn mikrofinansierder voordoen.

Karin Richards, ʼn aandele-ontleder, het op Twitter gemaan mense moet wag vir Capitec se volledige reaksie voordat hulle “wilde uitlatings van ʼn groep selfsugtige mark roofdiere aanvaar”. Sy het verder ook Viceroy se oproep vir kuratorskap van Capitec as “hoogs onverskillig” beskryf.

Richards het gesê die verslag lyk “onregverdig histeries” en beslis vaag in dele. “Baie daarvan is gegrond op die inligting van ontevrede voormalige werknemers en hofstukke. Viceroy het self gesê groot gedeeltes van die verslag spruit uit ʼn ‘billike skattings’.”

Sy het bygevoeg dat sy nie enige belange by Capitec het nie, maar hulle verdedig uit billikheid vir die hele Suid-Afrikaanse mark en die beginsel van regverdigheid.

Gwen Ngwenya, hoofbedryfsbeampte van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge wat graag oor die ekonomie skryf, het gesê Suid-Afrika is ongelukkig tans ryp vir groepe wat poog om voordeel te trek uit die verlies aan geloofwaardigheid in die hele mark. Ngwenya meen Viceroy ry tans op die verlies aan geloofwaardigheid ná die Steinhoff-debakel, maar ook dié van McKinsey en KPMG.

Prof. Jannie Rossouw, die hoof van Wits se skool van ekonomie en sakewetenskap, het aan TimesLive gesê Viceroy is tans besig om homself in ʼn posisie te plaas waar hy ʼn verslag oor enige maatskappy kan uitreik en geld uit die verslag kan maak en ook geld verdien uit die maatskappy se dalende aandeleprys.

Rossouw het gesê die Viceroy-navorsingsgroep is bekend as ʼn groep kortverkopers en doen dikwels verslag oor maatskappye waarby hulle self belange het. Hy het verduidelik die groep het sy aandele verkoop voordat hy die verslag uitgereik het uit verwagting dat die aandeelprys sou daal sodat hy die aandele teen ʼn laer prys kan terugkoop en só ʼn wins kan maak.

Adam Jacobs, ʼn onafhanklike ekonoom, het aan Maroela Media gesê dit is nie die eerste keer dat so iets met ʼn Suid-Afrikaanse maatskappy gebeur nie. “Ek wonder of hierdie nie dalk ʼn bietjie moedswillig is nie. Ek het geen bewyse nie, maar dit sal nie die eerste keer wees dat fopnuus oor die markte die wêreld ingestuur word sodat iemand geld kan maak nie. ʼn Mens moet vra wat is hierdie mense se motiewe?

“Dit is egter belangrik om te weet dat die Reserwebank gesê het Capitec Bank voldoen aan al die nodige voorsorgvereistes,” het Jacobs bygevoeg.

Capitec Bank het Dinsdag gesê hy het Viceroy se verslag bestudeer en onderneem om teen 16:00 breedvoerig daarop terugvoer te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gabriel ·

Ek dink Viceroy moet ondersoek word vir binnehandel en ook manupulasie van aandeel pryse tot eie voordeel.

Alida ·

Stem saam hulle moet hul werk in hul eie land doen. Wie is dom om terug te gaan na die ander banke toe as jy eers Capitec se goeie diens ervaar het?

Kosie Kramer ·

Fraser John Perring, medestigter van Viceroy Research, was eers `n welsynswerker in Engeland. Hy is van die rol geskrap in 2014 omdat hy oneerlik was. [www.hpc-uk.org] Gabriel Bernarde, nog `n medestigter, het vir die Australiese maatskappy Ferrier Hodgson gewerk, en toe binne-inligting gebruik om `n negatiewe verslag te publiseer. FH het `n $20 miljoen kontrak daaroor verloor. Die derde medestigter, Aiden Lau, het vir `n filiaal van Steinhoff gewerk. Hy het dus ook binne-inligting gehad.
Plan: jy het binne-inligting oor `n maatskappy, en besit aandele daarin. Sou die aandele styg, maak jy `n stewige wins. Omgekeerd ook, soos wat Viceroy doen: jy koop “kort” aandele; jy koop aandele, maar betaal nie dadelik nie. Dan verloor die aandele waarde, en jy moet die verskil uitbetaal word.
Maar ek is nie `n ekonoom nie, prof Jannie Rossouw is wel.

brt van der merwe ·

Ek vertrou die verslag van Viceroy net mooi niks. Dit is gemeen om eensydige en inligting wat nie getoets is nie te verkondig. So word Capitec & PSG se aandeelpryse afgedwing om dan deur wie opgeslurp tev word.

Liza ·

25%. Dis niks. Ek het al ‘n persoonlike lening by ‘n bekende bank in SA gekry wat 23% rente gevra het. En dit was 7jr terug. Wat is 2% meer. Dis maar ons ou land.

Francois ·

Ha ha ha
Julle almal dans nou rond soos n kat op n warm sink dak !
Dans dans dans

Andre Erasmus ·

Die verslag sê goed wat algemene kennis is. Capitec se basis was nog altyd mikro lenings, of dan die lelike naam loan shark, maar binne die wet en onder toesig van die NCR. Hulle het gegroei en omgeskakel na ‘n volwaardige bank toe agv goeie sake praktyke. Onversekerde mikrolenings (sonder bates waarop beslag gelê kan word) dra baie hoë risiko’s, daarom word meer rente op toegelaat en gevra. So wat is nuut in die verslag?

Alida ·

Mense ontspan en doen jou besigheid by Capitec. Hierdie welsynswerker is ‘n skelm en probeer ‘n vinnige rand of twee maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.