Capitec, Reserwebank reageer op verslag

Foto: Capitec/Facebook

Capitec en die Reserwebank het Dinsdag gereageer op die navorsingsgroep Viceroy se verslag wat daarop dui dat die bank na bewering geknoei het om verliese weg te steek en inkomste te vergroot.

Capitec het die bewerings ten sterkte ontken. Gerrie Fourie, uitvoerende hoof van Capitec Bank, het gesê hulle is besig om inligting bymekaar te maak en op die bewerings te reageer. “Ons is daartoe verbind om duidelike en deursigtige inligting te verskaf wat sal wys die bewerings is ongegrond.”

Capitec sal na verwagting Dinsdagmiddag ʼn mediakonferensie in Kaapstad hou om uit te brei op die kwessie. Andre du Plessis, Capitec se finansiële hoof, het vroeër aan Bloomberg News gesê dit is verrassend dat “iemand wat niks van ons af weet nie ʼn verslag oor ons skryf”.

Die Reserwebank het intussen in ʼn kort verklaring gesê hy neem kennis van die verslag. “As deel van ons mandaat monitor ons die veiligheid en gesondheid van alle banke, insluitende Capitec Bank. Volgens al die beskikbare inligting is Capitec solvent, goed gekapitaliseerd en het die bank voldoende likiditeit. Die bank voldoen aan alle voorsorgsvereistes,” lui die Reserwebank se verklaring.

Aandele in Capitec Bank het Dinsdag met 20% getuimel nadat Viceroy se verslag beweer het dat Capitec “massiewe onderaangegewe wanbetalings” het. Die bank word in die verslag as ʼn “loan shark” bestempel.

Viceroy sê hy glo Capitec het lenings goedgekeur om bestaande lenings terug te betaal en as gevolg daarvan sal die bank miljarde rande se lenings moet afskryf. Viceroy het ook ʼn verdoemende verslag oor Steinhoff uitgereik net voordat rekeningkundige onreëlmatighede in Desember by dié kleinhandelmaatskappy aan die lig gekom het.

“Ons glo dit is slegs ʼn kwessie van tyd voordat Capitec se onreëlmatige syfers en sake ontrafel word, met makro-ekonomiese teenwinde wat ʼn eksponensiële risiko van wanbetaling en bankrotskap skep,” lui Viceroy se verslag.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Slappe ·

het di SARB ni maar aanvanklik dieselfde oor African bank gesè ni? (Om paniek t voorkom…)
Is dit n kwessie v tyd voor capitec ook vou???

Marina ·

Nee dit is net om onnodig paniek te saai onder die mense sodat hulle Capitec bank se kliente op hol jaag om hulle rekeninge te sluit om na ander banke toe te gaan omdat Capitec so goed doen en goedkoop is met hul bank fooie. Die gerigte is onwaar! Ek was nou net by my bank gewees hieroor en daar was al van tevore so gerig en dis uit gesorteer. Capitec bank is n baie sterk bank en hulle is vir my die HEEL BESTE BANK in Suid Afrika. ( net my opinie).

Slappe ·

Ek het n 49 maande vaste dep by capitec. (Di sarb waarborg gn bank se beleggings ni!) Ek is di laaste wat wil hè dar moet fout wees… Mar dink jy regtig Marina, dat Capitec vir jou sal sè dar is n probleem? Saambou, African bank ens was ALMAL solvent

Joe-v-Heerden ·

As jy werklik dink jou beleggings is ‘veilig’ by ‘n handelsbank of enige ander finansiele instelling (plaaslik of internasionaal) anno 2018, is jy moontlik na 2008 gebore, of slegs onbewus van die katastrofes waartydens biljoene US$ se welvaart afgeskryf en ‘verloor’ is; Lehmann Brothers, Fannie Mae en Freddie Mac, en dan ons eie Steinhoff (wat selfs nog ‘n paar maande gelede, as ‘n veilige belegging deur meeste beleggers verkoop is).
En o ja, dis die 3 Viceroy ouens (en volgens my beskeie mening die groot kragte agter hulle) wat die Steinhoff borrel gebars het.

Capitec se besigheidsmodel was nog altyd vir my ‘n ABIL kloon, maar die ouens in Stellenbosch sal dit natuurlik ontken! Hoe dan anders.

GOODNESS ME ·

O my hel ja . alles wat in die DONKER gebeur sal openbaar gemaak word in die LIG. Hoe skelm wil mense nog wees .. ?? EK is al so keelvol vir skelms in hierdie land . van alle kleure en geure .. SKAAM vir julle!! As dit nie KPMG is nie is dit die GUPTAS as dit nie hulle is nie is dit Steinhoff en nou Capitec. Goeie aarde, is daar niks eerlike mense meer op aarde nie?

Johan ·

Wat se feite het het Voicroy om hulle beweerings te staaf.
Hoekom kyk hulle nie na Telkom,Trensnet etc nie.
Dom profette met hul eie agendas wat ander se sukses probeer ondermyn.
Wat hy hulle ooit bereik as om moeilikheid te stook

Alida ·

Lees ASB die berig noukeurig en kyk in paragraaf 4 wat se die Reserwe Bank in hulle verslag. Hemel mense julle hardloop weg vir niks.

KG ·

Ek verstaan dat as Suid Afrikaners ons alle rede het om pessimisties en skepties te wees., maar miskien moet ons dalk net doodseker maak dat Capitec wel skuldig is voor mens nou weet die ergste dink!!

Andries Visagie ·

Ongelukkig is mense tans (met reg) baie versigtig en skepties na gemors soos Steinhoff s’n. Ek bank self daar en hoop die bewerings is onwaar. (Terloops, wie gaan bankadvies aanvaar van party mense wat hier kommentaar lewer, maar nie drie woorde in ‘n ry reg kan spel nie?)

Gerhard ·

viceroy is…lyk dit vir my n’ maatskappy bestaande uit een direkteur, ek probeer nog “trace” maar hulle kruip goed weg.
Gebruik google en kyk self, ek dink hulle het n’ paar aandele verkoop voordat die “verslag” uitgekom het. Hulle “verslag” oor Steinhoff het ook bietjie laat uitgekom.

Johanna Botha ·

Meeste slim mense is weg, ons sit nou meestal met die ou scraps

Theresa ·

Dit sal ongelooflik jammer wees as die bespiegelinge korrek is. Capitec lewer die beste diens ooit. Die personeel is altyd vriendelik, dog nie aanmatigend nie; behulpsaam en flink. Op die koop toe is die bankfooi per maand iets wat in die glimlagkant genoem kan word.

Geleentheid? ·

As gerigte nie waar is ten spyte van n’ 20% aandeel daling dan is dit n’ goeie tyd vir aandele koop : )

CapitecKlient ·

Die enigste sogenaamde loan shark, met teller masjiene, in die wêreled, aangewys as die beste BANK (nie loan shark) in die wêreld, 2 jaar in ‘n ry.

Deon ·

Dit is jammer dat mense negatiewe komentaar lewer sonder feite. Dit is presies wat Viceroy doen. Dink as mens nie die feite het nie en ook nie kennis van bankwese nie moet dan eerder nie komentaar lewer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.