Capitec se finansiële hoof tree uit

André du Plessis (Foto: CFO South Africa, Facebook)

Capitec het aangekondig dat een van sy medestigters en finansiële hoof, André du Plessis, aan die einde van Junie 2022 uit dié bankgroep gaan tree.

Capitec het in ʼn verklaring gesê Du Plessis is al 22 jaar deel van Capitec. Hy was in 2000 ʼn medestigter van die bank.

Hy is in 2002 as finansiële direkteur aangestel en het ook as die finansiële hoof van die groep gedien.

Grant Hardy, finansiële hoof van groepdienste by Capitec Bank, volg op 1 Julie in Du Plessis se spore as finansiële hoof.

“Hardy is ʼn geoktrooieerde rekenmeester wat sy internskap by Deloitte in Johannesburg in dié maatskappy se finansiëledienstespan voltooi het. Hierna het hy agt jaar in die banksektor in die Verenigde Koninkryk gewerk voordat hy na Suid-Afrika teruggekeer het en in 2015 by Capitec Bank aangesluit het. Hy het verskeie rolle in die finansiële bestuursafdeling by Capitec Bank vervul,” lei die verklaring.

“In sy huidige rol is hy verantwoordelik vir die begroting en vooruitskatting, kosteberekening, finansiële modellering, prysbepaling, voorsiening en tesourie-funksies. Daarbenewens het hy in 2018 saam met Du Plessis die omsigtigheidsondersoek vir die verkryging van die Mercantile-groep gelei.”

Volgens Capitec is die meeste medestigters wat afgetree het, deur individue van binne die groep vervang. Hardy was een van die individue wat die afgelope vier jaar geïdentifiseer en op die kortlys geplaas is om Du Plessis op te volg.

“Du Plessis het oor hierdie tydperk nou saamgewerk met die kandidaat-opvolgers om te verseker dat hulle toepaslike diepte van insig in die Capitec-groep kry en om hul onderskeie prestasies op ʼn deurlopende basis te evalueer.”

Du Plessis sal in die volgende ses maande nou saam met Hardy werk om ʼn sleepgladde oorgang te verseker. ʼn Gedetailleerde oorhandigingsplan is ontwikkel en sal gevolg word.

“Die direksie is tevrede met Hardy se aanstelling as Du Plessis se opvolger en is vol vertroue dat sy ervaring en intieme kennis van die groep die voortgesette groei van Capitec sal verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marius ·

Dankie tog 1 van die meeste banke met bedrog rekeninge hoop jou opvolger gaan beter doen

Tubac ·

Op watter feite is jou kommentaar. Vind hulle een van die betere banke in ons land .

AmY ·

Ek weet. Dis net so snaaks. Dit verduidelik die gesiggie aan die einde van my kommentaar.

SlinkseKoljander ·

Hy was glad nie n lekker mens om mee saam te werk nie, baie kortaf en onbeskof.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.