Carl Niehaus tydelik uit ANC geskors

Oudpres. Jacob Zuma en Carl Niehaus. (Foto: Twitter)

Die Umkhonto weSizwe-veteraan Carl Niehaus is tydelik uit die ANC geskors ná sy onlangse uitlatings in Nkandla.

Die kantoor van die ANC se sekretaris-generaal het Woensdag ’n brief aan Niehaus gerig om hom daarvan in kennis te stel dat hy met onmiddellike inwerkingtreding uit die party geskors word hangende die uitkoms van tugstappe wat die ANC teen hom gaan doen.

“Die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het ʼn redelike vrees dat jy waarskynlik sal voortgaan met jou wangedrag en die goeie naam en reputasie van die ANC verder skade sal berokken en sodoende die organisasie in oneer sal bring,” lui die brief aan Niehaus.

Die skorsing volg nadat Niehaus die afgelope naweek gesê het dat Suid-Afrika deur groot geweld in die gesig gestaar sal word indien oudpres. Jacob Zuma tronk toe gaan.

“Ons land sal uitmekaar geskeur word. Daar sal onstabiliteit en oproer wees,” het Niehaus buite Zuma se woning in Nkandla gesê.

Luidens die brief het die NUK met “kommer” kennis geneem van dié uitlatings en daarop gelet dat Niehaus boonop geklee was in ’n T-hemp met ’n logo van die ANC toe hy op televisie verskyn het.

Die NUK sê Niehaus se optrede kom neer op ’n oortreding van die ANC se grondwet en noodsaak dissiplinêre stappe.

Daar sal luidens die brief binne 30 dae tugstappe teen Niehaus gedoen word, wat kan beteken dat die MK-veteraan se lidmaatskap moontlik finaal opgeskort kan word, hangende die uitkoms van die dissiplinêre proses.

Die NUK sê voorts daar is “uitsonderlike omstandighede” ​​wat Niehaus se tydelike skorsing regverdig te midde van die “huidige wisselvallige politieke situasie in die land”.

Niehaus het reeds aangedui dat hy teen sy skorsing sal appelleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

75 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kerneels

Carl, kla hulle aan vir rassisme!!!! Hahahaha kry vi jou!

Kokerboom

Die kader se kierankies begin nou braai!! Foeitog waarheen sal hy nou kan gaan?!!!!

Pierre

Join maar vir Ace met appeals.

Frik

Hy probeer só hard om relevant te bly.

Frank

Meng jou met die semels…….