Oscar Pistorius se broer, Carl, is “buite gevaar” ná ʼn ernstige ongeluk Vrydagaand, het die familie Saterdag gesê.
“Carl was in ʼn trompop botsing op die N1 betrokke,” het sy oom Arnold Pistorius in ʼn verklaring gesê. “ʼn Motor het van die oorkantste baan uitgeswaai en voor aankomende verkeer beland. Die motoris het Carl se motor reg van voor getref.”
Pistorius sê Carl is ernstig beseer, maar hy is buite gevaar. “Hy is na ʼn hospitaal in Pretoria oorgeplaas,” het hy gesê.
Carl het Vrydagaand van ʼn sakereis in Polokwane teruggekeer na Pretoria. ʼn Kollega het hom in ʼn tweede voertuig agtervolg en het die ongeluk sien gebeur, het Pistorius bygevoeg.
Carl is in Mei 2013 vrygespreek op ʼn aanklag van strafbare manslag nadat sy bakkie Maria Barnard se motorfiets op 8 Maart 2008 getref het. Sy het ʼn paar dae later in die hospitaal aan haar beserings beswyk. Die landdroshof in Vanderbijlpark het hom ook vrygespreek op alternatiewe aanklagte van roekelose of nalatige bestuur en bestuur sonder die redelike inagneming van ʼn ander padverbruiker. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte.
Oscar se moordsaak hervat op 7 Augustus. Hy staan tereg op ʼn aanklag van moord nadat hy Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013 in sy huis in Pretoria deur ʼn geslote toiletdeur doodgeskiet het. Hy voer aan hy het haar vir ʼn inbreker aangesien. Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.
As ek mag vra; Wat op dees aarde het die vorige ongeluk, wat nie sy skuld was nie, en Oscar se saak met die artikel te doen?
Vra ek ook! Lyk my ou koeie word altyd uit die sloot gegrawe….
Joernalistiek poppies … dit is joernalistiek !
Nina, ek stem saam. Hoekom moet dinge van die verlede opgehaal word? Hy is mos onskuldig bevind deur ‘n hof. Moes hy geboet het vir iets waaraan hy nie skuldig was nie? Swak beriggewing.
Nee, nie swak beriggewing nie, net SENSASIE !
Ek hoop nie die kollega wat ooggetuie van die ongeluk was, het Carl “agtervolg” nie. Dis darem te erg!! Hopelik het hy hom net ‘gevolg’. In elk geval is die beriggewing se koppeling met die Oscar Pistoriussaak totaal ongevraagd en nie ter sake nie