“Die dagvaarding is voorberei, maar ons het gevoel ons moet weer na die dossier kyk en het dit teruggestuur vir verdere ondersoek,” het Velekhaya Mgobhozi, woordvoerder van die NVG, gesê.
“Hoewel ons die dagvaarding gereed het, was dit nooit op mnr. Pistorius bedien nie en hy is nooit aangekla nie. Geen besluit is nog gemaak nie en dit sal baie moeilik wees vir my om die saak vooruit te loop.” Mgobhozi het gesê ʼn besluit sal geneem word sodra die ondersoek afgehandel is.
Die polisie in Limpopo het op 8 Januarie aangekondig dat Carl van roekelose en nalatige bestuur aangekla gaan word ná ʼn ongeluk buite Modimolle (Nylstroom).
Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het destyds gesê die besluit om Pistorius aan te kla is vroeër die maand geneem nadat hy nie ʼn verklaring oor die ongeluk afgelê het nie. “Die ondersoekbeampte het verklarings van die ander partye en ooggetuies gekry. Mnr Pistorius het ondanks talle pogings [deur die ondersoekbeampte] nie sy verklaring ingedien nie.”
Volgens Otto is die dossier na die hof gestuur waarna die staatsaanklaer instruksie gegee het dat daar aanklagte teen Pistorius aanhangig gemaak moet word. Sy het gesê die saak sal in Februarie in die Modimolle-landdroshof aangehoor word.
Carl se motor het in Augustus verlede jaar reg van voor teen ʼn ander motor gebots. Hy moes met meganiese toerusting uit die wrak verwyder word. Hy en die bestuurder van die ander motor is ernstig beseer in die botsing.
Carl is in Mei verlede jaar vrygespreek op aanklagte van strafbare manslag na ʼn ongeluk in 2008 waarin ʼn motorfietsryer dood is.