Carl Pistorius steeds in hoësorgeenheid

Carl Pistorius Foto: Werner Beukes/SAPA

Carl Pistorius Foto: Werner Beukes/SAPA

Carl Pistorius, broer van Oscar Pistorius, is steeds in die hoësorgeenheid van die Pretoria-Oos-hospitaal nadat hy verlede week ernstige beserings opgedoen het in ‘n motorongeluk buite Modimolle, Limpopo.

“Carl is steeds in die hoësorgeenheid weens die ernstige aard van die beserings wat hy in die ongeluk opgedoen het en hy is steeds op ‘n ventilator,”  het Anneliese Burgess, woordvoerder van die familie, in ‘n verklaring gesê. “Hy is stabiel en toon tekens van verbetering.”

Die ongeluk het Vrydagaand op die N1 buite Modimolle plaasgevind toe ‘n motor reg van voor teen Carl se motor gebots het.

Carl moes met meganiese toerusting uit die wrak verwyder word voordat hy en die bestuurder van die ander motor albei met ernstige beserings na hospitale geneem is vir verdere behandeling.

Die twee passasiers in Carl se motor is nie in die ongeluk beseer nie.

Die Pistorius-familie het Saterdag in ‘n verklaring gesê Carl is “buite gevaar” na die ongeluk.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die polisie, het Sondag gesê ʼn saak van roekelose of nalatige bestuur word ondersoek en dat die direkteur van openbare vervolging ʼn besluit sal neem of iemand vervolg gaan word.

Carl is in Mei 2013 vrygespreek op ʼn aanklag van strafbare manslag nadat sy bakkie Maria Barnard se motorfiets op 8 Maart 2008 getref het. Sy het ʼn paar dae later in die hospitaal aan haar beserings beswyk.

Die landdroshof in Vanderbijlpark het hom ook vrygespreek op alternatiewe aanklagte van roekelose of nalatige bestuur en bestuur sonder die redelike inagneming van ʼn ander padverbruiker. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte.

Lees ook:
Polisie ondersoek Carl Pistorius-ongeluk
Carl Pistorius “buite gevaar” ná ongeluk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.