Carmissa: Plek van soete water amper kurkdroog

theewaterskloofdam-2014-en-2017

Die Theewaterkloofsdam se watervlakke in 2014 en 2017. Foto: Verskaf.

Die droogte in die Wes-Kaap neem kritieke afmetings aan, nie net vir die stad Kaapstad nie, maar die landbou is ook diep in die knyp. In die eerste aflewering van artikels oor die droogte het Maroela Media die landbou hier onder oë geneem. In hierdie tweede aflewering word na die stad Kaapstad gekyk, soos deur die oë van burgemeesterskomiteelid, Xanthea Limberg, gesien.

Vir duisende jare het mens en dier die soet water wat uit 35 fonteine en tallose strome uit Tafelberg stroom, gebruik. So soet was die water dat die Khoi-San die gebied Carmissa – die plek van soet water – genoem het.

Later is reservoirs gebou waar Kaapstad se middestad nou is, en die opvangsdamme is later in klowe in die berge self gebou. ʼn Kabelkar is ingespan, maar groot hoeveelhede boumateriaal is moeisaam deur werkers die berg uitgedra.

Dié waterbronne het tot ʼn eeu gelede Kaapstad van water voorsien, maar bevolkingsdruk het die stad genoodsaak om waterbronne elders te benut, en die benutting van Tafelberg se water het byna volkome in onbruik verval. En noudat die damme elders gevaarlik na-aan opdroog is, word al meer vrae gevra oor hoekom die miljoene liters water wat daagliks onderdeur die stad see toe loop, nie meer gebruik kan word nie.

Die eerste probleem is dat die water deesdae dikwels besoedel en gevaarlik kan wees. In aansluiting hierby is die probleem dat dié waterbronne aanvanklik byna uitsluitlik deur fynbos gevloei het, wat eintlik net water vir vleilande teruggehou het. Denne- en ander uitheemse bome suig egter groot hoeveelhede water op.

Die burgemeester, Patricia de Lille, het onlangs by navraag aangedui dat die stad watersuiweraars gekoop het, en die water kan suiwer.

Die aandag is egter nou veel meer gefokus op enorme hoeveelhede water wat in ʼn unieke waterdraer (oftewel waterklip) onder Tafelberg op benutting wag. Eintlik strek die waterdraer van Port Elizabeth tot in Kaapstad, en van daar weer noordwaarts tot by Colesberg.

Die dorp Hermanus onttrek al sedert 2011 water uit die waterdraer, maar monitor die situasie omdat dit soms baie lank kan neem om dié water weer aan te vul. Daar word altesaam 3,2 miljard liter water per jaar vir Hermanus onttrek.

Kaapstad, wat nou water aan sowat 3 miljoen mense voorsien, maak van verskeie damme gebruik om aan sy waterbehoeftes te voldoen. Die grootste, en een van die land se groot damme, is die Theewaterskloofdam by Villiersdorp. Die Voëlvleidam is die tweede grootste, gevolg deur die Bergrivierdam buite die Paarl, die Wemmershoekdam, en die twee Steenbrasdamme. Die damme is gemiddeld 27,9% vol. Die meeste damme is voller, soos die Hoër Steenbrasdam wat meer as 80% vol is, en die Bergrivierdam wat 41% vol is, maar die twee groot damme, die Theewaterskloofdam, is slegs 21,7% vol, en die Voëlvleidam is 21,9% vol. Dit moet verder in gedagte gehou word dat die laaste 10% van die damme se water baie moeilik gebruik kan word. Die waterposisie is dus meer kritiek as wat dit op die oog af lyk.

Die Theewaterskloofdam en die Bergrivierdam is onderling met gravitasietonnels verbind, terwyl ʼn tonnel ook die boloop van die Eersterivier bokant Stellenbosch met die stelsel verbind.

Die Voëlvleidam word gedeeltelik deur afvoerkanale gevoed wat reënwater na die dam bring. Die kanale is egter nou erg toegewaai weens verwaarloosde instandhoudingswerk deur die nasionale departement van waterwese. Premier Helen Zille het die departement daarvan beskuldig dat die verwaarlosing Kaapstad van twee weke se water beroof het. ʼn Woordvoerder van die departement se reaksie was dat dit die boere is wat water mors, wat weer weerlig van Agri Wes-Kaap getrek het.

Kenners hou verskeie scenario’s voor oor hoe die watersituasie kan ontwikkel. Meestal word daarop gewys dat as die inwoners nie saamwerk om by die beperkings te hou nie, die afloop rampspoedig gaan wees.

Benewens planne om meer waterbronne te vind en te benut, soos twee mobiele ontsoutingsaanlegte teen Desember en die doeltreffende aanwending van gryswater, word ook streng waterbeperkings ingestel, en waterdruk verminder. Die ideaal is om die besuinigingsingesteldheid permanent te maak sodat mense kan leer om met bestaande hulpbronne klaar te kom.

Die kommunikasie van planne om die droogte die hoof te bied, veral op lang termyn, kom dikwels teenstrydig en onbepland voor. Maroela Media het daarom ʼn wydlopende reeks vrae aan die burgemeesterskomiteelid vir informele vestiging, water en afval en energie, Xanthea Limberg, gerig.

Volgens haar probeer die stad vennootskappe met die private sektor vestig om die aksies wat nou beplan word, van stapel te stuur. Die maatreëls is grootliks daarop afgestem om Kaapstad se afhanklikheid van bogrondse water te beperk. Onder die projekte waarvoor voorstelle aangevra en die sluitingsdatum 10 Julie was, en nou bestudeer word, is ʼn ontsoutingsaanleg – en mettertyd die huur van aanlegte ter see wat saam met die ander projekte en die beskikbaarheid van geld en toerusting tot 500 miljoen kubieke meter vars water per dag kan lewer, die doeltreffende benutting van die waterdraer, en die herbenutting van water. Nuus oor hierdie proses word nou afgewag.

Die stad het ʼn taakspan aangewys om die stad se doeltreffendheid in die aanpak van die waterprobleem veerkragtig te maak.

Intussen word maatreëls ingestel om te verseker die inwoners hou by die bepalings van vlak 4b-waterbeperkings.

Die dertigjaarplan om watersekerheid te verseker, moes in die lig van die knellende droogte en die onsekerhede wat met klimaatsverandering verband hou, versnel word, en ook voorsiening maak om uitgebrei te word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: SA-nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

gawie ·

Daar is wel nog reservoirs op Tafelberg self in gebruik. Ek was al self daar by die watersuiweringstasie.

Herman Toerien ·

Hallo Gawie, as ek reg onthou, het ek ‘n bron raakgeloop wat aandui dat 98% vd water van die groot damme kom. Dit is dus heel moontik dat die aanleg wat jy gesien het sowat 2% vd water suiwer. My seun-hulle was by ‘n fabriek wat verkies om die Tafelbergwater vir hul produk (ek dink bier) te gebruik. Die aanvaklike berigte het egter gelui dat Tafelberg se water so ongeskik vir menslike gebruik is, en ook nie deur die bestaande watersuiweringsvermoëns gesuiwer kan word nie. Soos ek in die berig meld, daar is maar ‘n mate van bontpratery.

Geboortegrond ·

So het die kolonis hierdie infrastruktuur tot stand gebring en sal ook die oplossing moet vind vir hierdie probleem.

water ·

kaartblaach het 30 jaar terug gese kaap gaan sonder water wees boorgaate gaan ook op droog .
Of was dit nou 50 50 maar een van die tewee het dit voor spel ek was nog kind gewees toe hulle dit voor spel het en daar is dit nou . Ek het daai tyd gewonder om so ver in die toekoms in tekyk . nou sit hulle met die delema .

water ·

hulle dit voor spel het en daar is dit nou . Ek het daai tyd gewonder omkaartblaach het 30 jaar terug gese kaap gaan sonder water wees boorgaate gaan ook op droog .
Of was dit nou 50 50 maar een van die tewee het dit voor spel ek was nog kind gewees toe so ver in die toekoms in tekyk . nou sit hulle met die delema .

vrikie ·

As daar van die Wes Kaap gepraat word is dit mos net Kaapstad en die onmiddelike omgewing wat van belang is met die waterkrisis, wat van die res van die provinsie wat onder dieselfde droogte gebuk gaan?
Geen water op die planeet is suiwer nie, dit het al deur sisteme gegaan of dit nou deur mens of dier se ingewande was of wat ook al.
Behalwe die unieke eienskap van water om deur die natuur gesuiwer te word bestaan suiweringstelsels om byna alle besoedelde water weer drinkbaar te maak. Ons moet net die kopskuif maak dat gesuiwerde rioolwater weer geskik vir menslike gebruik moontlik is.

Herman Toerien ·

Hallo Vrikkie. Maroela Media het ook ‘n omvattende artikel oor die watersituasie en die landbou geplaas, en sy skakel in hierdie artikel se intro aangebring. Die artikels moet eintlik in geheel beoordeel word. My eie seun is plaasbestuurder langs die Bergrivier, en daar is geen manier waarop ek nie die landbou behoorlik ter harte sal neem nie.

Jan ·

Dankie vir die inligting ! Ons kyk uit vir ‘n “update”

Ella ·

Dankie Herman vir jou insiggewende rubriek. Hoop die “besluitnemers” lees dit ook!

Nico K ·

vrikie, water kan gesuiwer word, maar ek dink dit is net baie duur. Sover ek weet gebruik Windhoek al dekades gesuiwerde rioolwater.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.