Caroli (17) sterk tuis aan ná ongeluk met perd

Caroli Wolhuter nadat sy uit die hospitaal ontslaan is. Foto: Verskaf

Die vreugdevure brand hoog in die Wolhuter-huishouding waar die 17-jarige Caroli tans aansterk nadat sy verlede maand met kritieke beserings in die hospitaal opgeneem is nadat ʼn perd op haar geval het.

“Ek kan nie ophou glimlag nie. Toe ek haar vanoggend weer hier in die huis sien … ai, dit is darem lekker,” het Charl Wolhuter, Caroli se pa, Woensdagoggend aan Maroela Media gesê.

Caroli is Sondag uit die Mediclinic Gariep in Kimberley ontslaan ná drie weke in die hospitaal. Sy was 17 dae hiervan in die waakeenheid van die hospitaal waarvan sy 14 dae in ʼn koma was. Charl vertel dokters het gewaarsku in sulke gevalle is persoonlikheidsveranderinge, geheueverlies en ʼn lang herstelpad moontlik.

Dié vrese is egter besweer deur Caroli se wonderbaarlike herstel wat Charl as “verstommend” beskryf. “Verlede Woensdag het die dokter vir ons gesê sy sal waarskynlik ʼn week of twee rehabilitasie moet ondergaan om heeltemal te herstel. Toe hy haar Vrydag weer ondersoek, het hy gesê sy herstel so goed, hy dink nie dit sal nodig wees vir rehabilitasie nie,” vertel Charl.

“Die naweek was die dokters weer by haar, asook ʼn arbeidsterapeut, spraakterapeut en sielkundige. En Sondag kry ons die oproep – Caroli is ontslaan.”

Caroli Wolhuter se familie is verheug dat sy terug is by die huis. Hier is haar susters, Hesmari en Jacomari, haar broer, Carel, en Jacomari se man, Wynand Visser, saam met haar buite die hospitaal. Foto: Verskaf

Maroela Media het vroeër berig Caroli het op 18 Maart oudergewoonte naby haar ouers se plaas in die Magogong-distrik gaan perdry toe die ongeluk gebeur het. Sy en ʼn mederuiter het op die gruispad naby die plaas gery en Charl en sy vrou, Coreen, het gekyk hoe hulle ry. Die weer het egter opgesteek en die perde het onrustig begin raak. Daarom het Charl gesê hulle moet huis toe ry.

Dit is toe dat Caroli se perd meteens op sy agterpote gaan staan en agteroor bo-op haar geval het. Caroli se skedel het gekraak en haar brein was geswel ná die ongeluk. Haar longe is ook ernstig beseer. Een van haar longe het ʼn paar dae ná die ongeluk platgeval en sy was tussen drie en vyf minute lank sonder enige longfunksie. Haar hart was ook gekneus.

Volgens Charl sal Caroli, ʼn gr. 11-leerder aan die Hoërskool Hartswater, moontlik nie hierdie kwartaal terugkeer skool toe nie omdat hulle haar genoeg tyd wil gee om behoorlik te herstel en sterker te word. Charl verduidelik hoewel Caroli geen permanente skade oorgehou het nie, haar verstand net so skerp is en sy presies dieselfde mens is as voor die ongeluk, het sy baie gewig verloor weens die tyd in die hospitaal en haar liggaam moet dus weer sterker word.

Hy sê die dokters het ook gewaarsku dat Caroli waarskynlik met erge hoofpyn sal sukkel weens die breinbesering wat sy opgedoen het, maar tot op hede het sy “nog geen hoofpyne of enige ander pyn beleef nie”.

Caroli by haar ma, Coreen, nadat sy uit die hospitaal ontslaan is. Foto: Verskaf

“Ons spreek die Here se genesing oor haar uit ook hieroor, sodat sy sonder pyn ten volle sal herstel,” sê Charl.

“Die skoolhoof was gister by haar en het gesê hy sal mettertyd haar onderwysers vra om vir haar skoolwerk te stuur waarmee sy by die huis kan aangaan. Maar nie nou dadelik nie, ons gee haar nou eers tyd om sterker te word,” sê hy.

“Sy is egter heel aan die gang. Sy doen haar oefeninge en ons het gister by vriende gaan kuier. Vandag gaan ons ontbyt eet en by haar sussie en swaer kuier. Dit is net salig lekker om haar by die huis te hê!”

Charl het bygevoeg die gesin is ongelooflik dankbaar en twyfel geensins dat dit hoegenaamd nie God se plan was dat Caroli moes seerkry nie. “Dit was ʼn ongeluk en ʼn aanslag van die vyand en ons is so dankbaar dat God se belofte van ‘n lewe in oorvloed vir haar net soos vir ons almal is. Ons eer Hom vir haar genesing. Ons bedank ook die dokters en personeel wat hulself beskikbaar stel as onmisbare instrumente in die proses.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

jean ·

Hoop jy sal altyd die Genade onthou….jy is ‘n pragtige dogter!

Albaster ·

Ons moet die perde bere vir wanneer petrol eendag onbekostigbaar is. Perdvalle het vir soveel mense wat ek ken ellende veroorsaak, van dood tot verlam tot erge probleme vir die res van hul lewens. Gelukkig het die quad bike gier oorgewaai, dit was ook so gevaarlik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.