Carousel Casino open weer deure

Die Carousel Casino (Foto: Facebook)

Die Carousel Casino by Hammanskraal, noord van Pretoria, sal binnekort weer sy deure oopmaak.

Sun International het aangekondig dat hy die Carousel Casino-lisensie verkoop het, onderhewig aan regulatoriese goedkeuring.

Volgens Anthony Leeming, uitvoerende hoof van Sun International, is ʼn aansoek in dié verband by die Noordwes-dobbelraad ingedien. Sun International het intussen ʼn bestuursonderneming aangestel om die casino te bestuur.

Sun International het in April aangekondig dat die Naledi Casino in Thaba Nchu in die Vrystaat en die Carousel Casino nie gaan heropen wanneer die algehele landwye afsondering opgehef word nie. Albei casino’s het volgens die hotelgroep onderpresteer.

“Ons het vroeër vanjaar aangekondig dat ons nie die Carousel Casino sal heropen nadat die inperkingsregulasies opgehef is nie, en dit bly die geval. Om die casino deur ʼn bestuursonderneming te laat bestuur, beskerm ons egter die lewensbestaan van baie vorige personeel wat nou weer in diens geneem kan word,” het Leeming gesê.

Sun International is steeds die wettige eienaar van die dobbellisensie tot daar goedkeuring van die dobbelraad vir die verkoop ontvang word. “Die casino sal egter nie meer deel uitmaak van die Sun International-groep nie, en dit sal nie voordele ontvang uit ons MVG-lojaliteitprogram nie.”

Benewens die casino, wat in 1991 geopen is, bestaan die eiendom uit ʼn hotel met 57 kamers, 369 woonstelle wat deel uitgemaak het van die personeeldorp, 55 000 vierkante meter ruimte vir kleinhandelontwikkeling en 582 hektaar onontwikkelde grond.

Die casino, asook die hotelkroeë en restaurante, sal op 15 Desember weer open.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.