Casac eis nuwe vervolgingshoof

Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolging (Foto: ANA)

Die grondwet-waghondorganisasie Casac het pres. Cyril Ramaphosa versoek om Shaun Abrahams, hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, uit sy amp te verwyder.

Die Council for the Advancement of the South African Constitution (Casac) wil hê Ramaphosa moet intussen iemand anders aanstel om ʼn besluit te maak oor die vervolging van oudpres. Jacob Zuma, het die konstitusionele hof Woensdag gehoor.

Geoff Budlender, vir Casac, het aangevoer die kwessie gaan nie net of vervolging moet plaasvind nie, maar ook wie in beheer moet wees van dié taak. “Daar is ʼn probleem met wat intussen gebeur, want ander senior lede van die NVG is eenvoudig in ʼn onmoontlike posisie. Dis algemeen dat daar verdeeldheid met politieke ondertone is in die NVG,” het Budlender bygevoeg.

“Ons het in ander sake gesien dat vervolgings verdraai is om ʼn sekere uitslag te bereik. Dit gaan nie net oor of vervolging moet plaasvind nie, maar ook hoe en wie dit moet doen. Só besluit moet gemaak word deur iemand in wie die publiek vertroue het. Die taak om ʼn nuwe nasionale direkteur van openbare vervolging aan te stel, berus by die president.”

Regter Sisi Khampepe wou weet waarom die publiek nie Abrahams kan vertrou nie.

“Hy is moontlik ook ʼn rolspeler in hierdie dispuut of mnr. Zuma vervolg moet word, hy het vervolging teengestaan,” het Budlender geantwoord. “Hy is ook aangestel as gevolg van ʼn onwettige gekonkel deur die voormalige president.”

Hy het gesê te veel mense in die NVG het “giftige bagasie” wat spruit uit die stryd of korrupsieaanklagte teen Zuma weer ingestel moet word.

“As ʼn waarnemende hoof aangestel word, moet die besluit oor Zuma se vervolging nie gemaak word tot ʼn permanente hoof aangestel is nie, sodat ons op ʼn skoon bladsy kan begin. Dit sal buitengewoon wees as mnr. Ramaphosa nog nie gedink het aan wie hy wil aanstel nie. Daar sal in só geval ʼn vertraging wees [dat geregtigheid moet geskied], maar só vertraging is geregverdig.”

Casac het die saak na die hoogste hof in die land gebring en versoek om ʼn bevel te bekragtig, volgens die uitspraak in Desember 2017 in die Pretoriase hooggeregshof wat Abrahams se aanstelling deur Zuma in 2015 tersyde gestel het.

Die organisasie wil nie hê Abrahams moet die besluit neem of Zuma vervolg moet word of nie.

Die NVG en Abrahams staan Casac se aansoek teen en voer aan sy aanstelling was geldig en dat die hooggeregshof gefouteer het in sy uitspraak.

Die saak word deur ʼn volbank regters aangehoor onder leiding van Khampepe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Michael ·

Jaag die Zuma boetie weg en sluit hom op kom aan C R wys nou jou staal.

Katvis ·

Ek blaai so deur die nuusberigte, misdaad, misdaad en misdaad. Maroela is daar rerig geen goeie nuus nie of is julle selektief in wat julle plaas? Vra maar net.

Sune van Heerden ·

Dagsê Katvis

Ons besef die nuus is soms baie negatief, daarom het ons spesiaal ʼn hele “goeie nuus”-afdeling geskep.
Ons deel ook interessante en vreemde stories
Allerhande taalbrokkies
Smullekker resepte
Rugby- en sportnuus na hartelus
Tegnologie, ruimte en motornuus
Vermaak uit die boonste rakke

Teken gerus in op ons weeklikse nuusbrief waar ons al die lekkerste lekkertes van die afgelope week met jou deel, net ingeval die slegte nuus van die week jou dalk onderkry (maak seker jy kies die weeklikse nuusbrief-opsie)

Ek hoop jy kuier lekker verder saam op Maroela – ondanks al die slegte nuus!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Michael ·

Dankie Sune . As julle nie vir ons die nuus gee nie sal ons nooit weet wat in ons land aan gaan nie min mense weet van al die moorde op ons plase want jy hoor nooit meer van die moorde op t v nuus nie. So hou aan met die goeie werk.

christa ·

CR is maats met altwee. Kyk hoe het hy dieZumpie met handskoentjies hanteer, so bang Zumpie sal seerkry, ag foeitog. Net so ook met Abrahams. Hulle bly maar voels van die selfde nes

@ KATVIS ·

Katvis dalk moet jy net bo aan die bladsy kyk daar is HOOFNUUS (wat realiteit is en te negatief vir jou is), dan is daar Debat, Sport, Resepte, Goeie goed, Tegnologie, Vermaak, Radio, TV .. so ek is seker jy sal daar goeie nuus kry .. dalk werk die RESEPTE afdeling vandag vir jou . dan is jy ook nie so SUUR nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.