Caster skiet steeds tekort vir Spele

Caster Semenya in April in aksie in die 5 000 m-item by die nasionale kampioenskap in Pretoria. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Die omstrede Suid-Afrikaanse atleet Caster Semenya kon weer nie Saterdag daarin slaag om te kwalifiseer vir die 5 000 m wedloop by die Olimpiese Spele in Tokio, Japan, nie. Sy het dié afstand in Regensburg, Duitsland, in 15:57:12 min. afgelê en vierde oor die wenstreep gehardloop. Om te kwalifiseer vir die Spele moet sy ʼn tyd van 15:10:00 hardloop, dus ʼn driekwart-minuut vinniger as wat sy Saterdag kon behaal.

Semenya het nou net nege dae oor om te kan kwalifiseer vir vanjaar se Olimpiese Spele.

Semenya het in April by die Suid-Afrikaanse kampioenskap in Pretoria haar persoonlike beste tyd in die 5 000 m gehardloop om die item in ’n tyd van 15:52:28 min te wen.

Die 30-jarige atleet word tans verbied om in die 800 m, haar eintlike wen-item, deel te neem weens Wêreldatletiek se regulasies oor testosteroonvlakke. Daarom dat sy nou die Spele met ʼn ompad probeer bereik. Sy weier tans om medikasie te neem om haar buitengewoon hoë testosteroonvlakke te laat afneem.

Semenya was reeds twee keer in die verlede die Olimpiese kampioen en drie keer die wêreldkampioen in die 800 m-wedloop.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.