Caster veg voort

Caster Semenya (Foto: Reg Caldecott/ANA)

Dit is duidelik dat Caster Semenya nie van plan is om te gaan lê in die stryd om haar loopbaan as professionele atleet nie.

Die Olimpiese kampioen het ʼn appèlaansoek by die federale hoë hof van Switserland ingedien om die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie (CAS) se onlangse bevinding teen haar te betwis. Die CAS het vroeër in die Internasionale Vereniging vir Atletiekfederasies (IAAF) se guns beslis dat die testosteroonvlakke van vroulike atlete gereguleer moet word.

Semenya vra die hof om dié beslissing in sy geheel ter syde te stel. “Ek is ʼn vrou en ʼn wêreldklas-atleet. Die IAAF sal my nie bedwelm of my verhoed om te wees wie ek is nie,” het Semenya gesê.

Luidens ʼn verklaring van die Social Justice Initiative, is Semenya se appèlaansoek gegrond op fundamentele menseregte. “Die hof sal veral versoek word om te oorweeg of die IAAF se vereistes vir verpligte medisinale ingryping [om testosteroonvlakke te verlaag] ʼn oortreding is van noodsaaklike en wyd-erkende openbare beleidswaardes, insluitend die verbod op diskriminasie, die reg tot fisieke integriteit, die reg tot ekonomiese vryheid, en respek vir menswaardigheid.”

Dr. Dorothee Schramm van die regsfirma Sidley Austin LLP in Geneva sal Semenya se appèlaansoek lei. Volgens Schramm is die IAAF se nuwe regulasies ʼn oortreding van die beginsels van Sweedse openbare beleid. “In die stryd vir geregtigheid, moet menseregte bo sportbelange gestel word,” sê Schramm.

Die Wêreld‑ Mediese Vereniging het ook die IAAF se aandrang op hormoonbehandeling vir nie-mediese redes veroordeel en gesê dit is strydig met die vereniging se basiese etiese beginsels. Die Sweedse Mediese Vereniging het ook gesê die IAAF se regulasies moet onmiddellik opgehef word omdat dit neerkom op blatante diskriminasie gegrond op die genetiese verskille van vroulike atlete en dus strydig is met internasionale mediese etiek en menseregte.

Atletiek Suid-Afrika (ASA) het ook reeds vroeër vandeesmaand gesê hy gaan appelleer teen die CAS se beslissing oor dié kwessie.

Maroela Media het vroeër berig die CAS het op 1 Mei teen Semenya beslis in haar poging om die IAAF se nuwe regulasies oor testosteroonvlakke in die liggaam te betwis. Die internasionale atletiekliggaam probeer “hiperandrogene atlete” en persone met “verskille in seksuele ontwikkeling” (DSD) dwing om behandeling te ontvang om hul testosteroonvlakke te verlaag tot ʼn voorgeskrewe syfer as hulle steeds as vroue wil deelneem. Die IAAF hou vol dat dié reëls nodig is om ʼn gelyke speelvlak vir ander vroueatlete te verseker.

Die IAAF glo dat atlete – soos Semenya – welkom is om aan die mansafdeling van die sport deel te neem as hulle nié bereid is om medikasie te gebruik om hulle testosteroonvlakke te verlaag nie. Die vereniging sê dit is enige atleet se reg om nié behandeling te ondergaan nie, maar dat sy dan nie toegelaat sal word om aan die beperkte items deel te neem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Rupert Ashford ·

Hoekom word daar dan in die mediese veld ‘n “normal range” vir testosteroon vir mans en vroue gehou?

honourable member ·

Hierdie storie is so lagwekkend. Hierdie testosteroon storie kon al lankal behandel gewees het maar hierdie een het n onregverdige voorsprong. Ek wonder as daai vlakke herstel moet word so sy/hy nog so gaan wen. Geen vrou kan teen so iets kompeteer nie en is baie onregverdig maar soos altyd omdat daar nou weer n person van n ander kleur betrokke is moet alles tog so polities korrek hanteer word want netnou voel die mense minderwaardiger.

Peter ·

Die hormoonvlakke is nie so belangrik nie. Iets wat gerieflikheidshalwe deur die pro-Castor aanhangers “vergeet” word is die chromosoom kwessie. Die vroulike geslag het XX chromosome terwyl mans XY chromosome het. Daar is tydens vroeë toetse reeds vasgestel dat Semenya XY chromosome het….dus is sy ‘n man.

Boer ·

Afdelings vir dogters 12 jaar. Dogters 14 jaar. Dogters 18 jaar. Niks snaaks daaraan om verskillende kategorië te skep nie. Dis billik en maak sin.

Caster is ‘n mens. Sy is ‘n vrou met ‘n natuurlike hoë vlak van testosteroon. Dis hoe sy gebore is. Daar is ander vrouens soos sy.

Verwerp ons hulle uit die samelewing? Daar is ‘n beter en billiker manier om sulke vrouens as mense met waardigheid te hanteer: Skep gewoon ‘n kategorie vir vrouens met hoë natuurlike testosteroon vlakke.

Caster, dankie vir die toewyding en deursettingsvermoë wat as voorbeeld vir baie mense is. As Afrikaner is ek trots op die manier hoe jy ander atlete hanteer. Jy is die eerste mens wat sê: Skep ook vir my plek om atletiek te geniet. En daarin te presteer. Op ‘n billike manier.

Voorspoed!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.