‘Caster welkom by Wêreldkampioenskap’ – atletiekbaas

Caster Semenya. Foto: Fabien Dubessay/AFP.

Caster Semenya sal môreoggend om 01:25 (SA tyd) by die uitdunronde van die 5 000 m-wedloop by die Wêreldkampioenskap in Eugene, Oregon, aantree.

Die 31-jarige Suid-Afrikaner het aanvanklik nie vir die internasionale atletiekskouspel in dié item gekwalifiseer nie, maar sy kry nou ’n kans nadat van die topgekeurde vroue nie ingeskryf het nie.

Sebastian Coe, president van Wêreldatletiek, het gesê dat Semenya welkom is by die Wêreldkampioenskap.

“Dit is haar keuse as sy besluit om aan ’n afstand deel te neem waarop daar geen beperkings is nie. Sy sal dieselfde behandeling en ondersteuning ontvang as enige ander atleet wat regmatig hier is,” het Coe gesê.

Wêreldatletiek verbied vroue-atlete met hoë testosteroonvlakke om aan korter wedlope deel te neem omdat daar bevind is dat die hormoon spiermassa en suurstofopname verhoog.

Semenya, wat as ’n 800 m-atleet reeds drie keer die Wêreldkampioenskap gewen het, het in Mei 2019 ʼn grensverskuiwende saak teen die internasionale atletiekbeheerliggaam voor die hof vir sportarbitrasie (CAS) verloor, wat beteken sy moet medikasie gebruik om haar testosteroonvlakke te verlaag as sy voortaan aan spesifieke items wil deelneem.

Sy het teen die uitspraak geappelleer, maar daar is ook teen haar appèl beslis.

Haar beste 5 000 m-tyd is 15:31.50 min.

Adams en Van der Walt deur na volgende rondes

Intussen het Luxolo Adams na die eindronde van die 200 m deurgedring. Die 25-jarige naelloper het vierde in sy halfeindronde met ’n tyd van 20,09 sekondes geëindig.

Dan het Zeney van der Walt op ’n drafstap vir die halfeindronde van die 400 m hekkiesitem gekwalifiseer. Haar tyd van 55,05 sekondes het vir haar ’n tweede plek in haar uitdun besorg.

Van der Walt het onder meer in 2019 ’n silwer medalje by die Wêreld-Studentespele in Italië losgehardloop.

Kyk uit vir dié Suid-Afrikaanse atlete (Donderdag):

01:25: Caster Semenya – 5 000 m (uitdunronde)

01:50: Jo-Ane van Dyk – spiesgooi (kwalifisering)

02:20: Tshepo Tshite – 800 m (uitdunronde)

03:15: Zeney van der Walt – 400 m hekkies (halfeindronde)

04:15: Wayde van Niekerk – 400 m (halfeindronde)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

So syt nie gekwalifiseer nie…sy kan deelneem want ander het onttrek?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.