Caster wil stryd in Europese hof voortsit

Caster Semenya. Foto: PhillipMagakoe/AFP.

Suid-Afrika se Olimpiese gouemedaljewenner, Caster Semenya, gaan haar geveg vir “waardigheid, gelykheid en regte vir vroue in sport” voortsit. Die 30-jarige atleet het haarself nou tot die Europese mensregtehof gewend.

Dit kom nadat die Switserse hooggeregshof verlede jaar beslis het haar 800 m-dae is verby totdat sy instem om medikasie te gebruik wat sal help om haar testosteroonvlakke te verlaag.

“Ek hoop hierdie hof sal ’n einde bring aan die langdurige menseregteskendings deur Wêreldatletiek teen vroue-atlete,” het Semenya gesê.

José María Odriozola, ’n Spaanse professor in biochemie en lid van die Internasionale Vereniging vir Atletiekfederasies (IAAF), het destyds gesê dat die Suid-Afrikaner meer testosteroon as die meeste mans het, en daarom ’n onregverdige voordeel het.

Semenya het in Mei 2019 ʼn grensverskuiwende saak teen die IAAF voor die hof vir sportarbitrasie (CAS) verloor, wat beteken sy moet medikasie gebruik om haar testosteroonvlakke te verlaag as sy voortaan aan spesifieke items wil deelneem.

Sy het teen die uitspraak geappelleer, maar daar is ook gister teen haar beslis.

“Die federale hooggeregshof van Switserland het na baie maande se beraadslaging besluit om nie ’n uitspraak deur CAS teen die Olimpiese gouemedaljewenner, Caster Semenya, tersyde te stel nie,” het die hof in ’n verklaring gesê.

Semenya het egter kort ná die beslissing op haar amptelike Twitter-rekening geskryf dat ’n persoon reëls en regulasies kan aanpas, maar dat hy nie haar lewe kan beheer nie.

“Ek is baie teleurgesteld in die hof se beslissing, maar ek sal nie toelaat dat Wêreldatletiek vir my voorskryf óf my keer om te wees wie ek is nie,” het sy gesê.

Daar word wêreldwyd – onder meer deur die Verenigde Nasies se hoëkommissaris vir menseregte – druk op die internasionale atletiekbeheerliggaam geplaas om hul regulasies teen sekere vroue-atlete te verslap.

“Al wat ons vra is dat ons toegelaat word om sonder beperkings te hardloop soos die sterk en vreeslose vroue wat ons nog altyd was,” het Semenya vandag op sosiale media geskryf.

Semenya se regspan sal aanvoer dat die menseregtehof teen hierdie menseregteskendings moet optree.

“Hoewel die hof die tydlyn van die aansoek sal moet bepaal, bly Caster hoopvol dat sy binnekort toegelaat sal word om weer vir ’n internasionale 800 m-wedloop aan te tree,” het die regspan in ’n verklaring aangevoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.