Castle de Wildt reg vir meer as net wild

Met sy Middeleeuse kasteel- en riddermondering-tema is Castle de Wildt voorwaar ʼn unieke besienswaardigheid in die Bosveld. (Foto: Verskaf)

Agt kilometer buite Modimolle (Nylstroom) troon die majestueuse Castle de Wildt-landgoed bo die Bosveldlandskap uit. Hierdie “boerekasteel” is in 2012 gebou om wildveilings en -konferensies aan te bied.

Dit het onomwonde die prag en praal van die wildbedryf vergestalt toe die sektor in daardie tyd ontsaglike hoogtes bereik het.

Volgens Vleissentraal Bosveld se statistieke het die bedryf in die dekade voor 2013 van R62 miljoen tot R864 miljoen gegroei.

Die kasteel is op 7 Julie 2012, met die eerste Golden Breeders-veiling, geopen, waartydens ʼn algehele omset van R31 334 500 behaal is. ʼn Maand daarna is daar tydens ʼn Benchmark Game Breeders-veiling ʼn omset van R67 664 000 behaal.

Die bedryf het weldra gekrimp terwyl die fokus van kleurvariante na goeie genetika vlaktewild beweeg het en pryse het daarna gestabiliseer. Weens die sukkelende ekonomie en die Covid-19-inperkings is sake weer deurmekaargekrap.

In Maart vanjaar is die landgoed deur Gys Pitzer, ʼn suksesvolle sakeman en die eienaar van Gys Pitzer-motors in Pretoria, op ʼn openbare veiling gekoop. Sy pa, ook Gys, was die bekende rugbyspeler en Gys junior het self vir die Blou Bulle en Valke uitgedraf.

Tydens Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) se onlangse konferensie en Benchmark-geldinsamelingsveiling, het Maroela Media by Pitzer gaan hoor wat sy toekomsplanne vir Castle de Wildt is.

Castle de Wildt se konferensiesaal het plek vir meer as 1 200 mense. (Foto: Verskaf)

“Om tred te hou met ekonomiese werklikhede en wat die mark vereis moes ons ons fokus aanpas. Om die plek winsgewend te bedryf moet ʼn ou wyer dink en tydens die inperking het ons die kans gevat om dit te vergroot en uit te brei,” sê Pitzer.

“Ek dink op die platteland is daar steeds hoop. Jy kan vashou aan die negatiewe goed, of jy kan jou denke verander om dinge vir jou te laat werk. Daar is goed wat van die tafel gaan afval, maar om sukses te behaal moet jy alles probeer.

“By Castle de Wildt hou ons steeds wildveilings, maar ons akkommodeer nou gewone veeveilings ook. Ons het ʼn koffiewinkel, wat altyd oop is, langs die voorportaal ingerig en ʼn kapel vir troues gebou. Tans is ons ook besig om ʼn lodge met ruim oornaggeriewe aan te bou. Die konferensiefasiliteite en bykomende geriewe kan nou regtig vir groot troues plek maak.

“Dan wil ek ook kerkbasaars, skoue en feeste hier aanbied wat so kenmerkend van die platteland is.”

Agter die kasteel is daar ook 700 ha grond wat wag om ontwikkel te word.

Die tuin is boonop iets om te aanskou en Pitzer is vol lof vir sy vrou, Anneh, wat as die bestuurder haar hand oor die perseel hou.

Die roostuin om die kasteel is ʼn lus vir die oog. (Foto: verskaf)

Tydens die WRSA-geleentheid, wat as ʼn inlywing vir die grotes beskou kon word, het Pitzer sy konsep beproef. Hy het ʼn paar sangers bymekaar gemaak, ʼn biertuin opgeslaan en ʼn klomp rolspelers in die wildbedryf is deur WRSA genooi om hulle ware en dienste uit te stal.

Om met die neigings tred te hou werk Castle de Wildt saam met die veilingsmaatskappy, Wildswinkel om veilings aanlyn en op ‘n app aan te bied, ten einde ʼn papierlose stelsel daar te stel.

Hy verseker die publiek egter dat dit nie beteken dat Castle de Wildt se bomas nutteloos gaan word nie. “Hier was vandag seker 200 mense wat kom vra het of hulle na die wild kan kyk. Vee en wild in lewende lywe is altyd ʼn trekpleister en saam met die feestelikhede wat met veilings gepaard gaan, sal boere steeds die geleentheid kry om die diere van alle hoeke af te bekyk.

“Voor die veilings begin gaan die wild inkom en vir 48 uur op kameras te siene wees, sodat potensiële bieërs kan kyk hoe hulle lyk.”

Castle de Wildt se gebou is ʼn klipgooi vanaf die hoofpad tussen Modimolle en die N1-afrit. (Foto: Verskaf)

Pitzer het self ʼn wildplaas en kry kliënte in om te jag. Hy is baie positief oor die wildbedryf se toekoms. “Ek dink verseker dat wildveilings weer gaan kop optel en ons sien dat veral vlaktewild se pryse nou gestabiliseer het en baie goed presteer.”

Hoëgehalte motors

“Ek is eintlik ʼn kar-ou en koop en verkoop tweedehandse voertuie,” sê Pitzer, “maar Gys Pitzer-motors is nie ʼn gewone handelaar nie. Ons het ʼn streng beleid en by elkeen van die vier takke in Pretoria het ons ʼn eie werkswinkel en doen Dekra-voor- en na-inspeksies. Elke voertuig kom met ʼn ses maande waarborg en ons lewer landwyd af. Ons koop ook motors oor ʼn wye gebied aan en is bereid om enige handelsmerk te verhandel.”

Pitzer is ʼn gebore Pretorianer en lei sy seuns op om hierdie familie-onderneming eendag oor te neem.

Maroela Media was bevoorreg om verlede week twee gemerkte Toyota Etios-motors by Gys Pitzer-motors te bekom en lesers kan gerus op die uitkyk daarvoor wees terwyl ons joernaliste die wêreld agter stories aan platry.

Andries Joubert, Gys Pitzer-motors se verkoopsbestuurder en prinsipaal van die Silver Lakes-tak; Colette Schultz, digitale bemarker van Maroela Media; Gys Pitzer, eienaar van Gys Pitzer-motors en Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, is baie opgewonde oor die ooreenkoms. (Foto: Gys Pitzer-motors)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

anniekiewiet ·

Dis warm om ons harte wanneer ons lees van sukses in boerdery.

Anonymouse ·

Oe ek hoop hulle bou die lodge in dieselfde styl as die huidige gebou! Dit sal baie pret wees om ‘n naweek in sulke styl deur te bring.

Philip ·

Dit is benewins dat dit n voorbeeld van harde werk en deursettings vermoe tentoonstel Gys Pitzer se naam wat in my oe maklik een van die beste hakers was wat SA ooit opgelewer het.

Casper ·

Hulle kan ook ‘n klein museum oprig, met al sy pa se rugby foto’s, truie en memorabilia.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.