Die Christelike Demokratiese Party (CDP) het Dinsdag gesê hy onttrek vanjaar uit die algemene verkiesing.
“Ons het besluit om nie aan die Mei 2014-verkiesing deel te neem nie,” het Theunis Botha, leier van die party, in ʼn verklaring gesê. “Die CDP het in 2012 die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) begin bevraagteken oor die manier waarop deposito’s van politieke partye, wat nie ʼn setel tydens die verkiesing bekom nie, gekonfiskeer word.” Botha sê die OVK het nog nie dié kwessie aangespreek nie.
“Die CDP sal nie meer sy lede se swaarverdiende geld mors in ʼn dobbelary om ʼn setel te bekom nie.”
Botha sê dit is onregverdig dat partye soos die ANC en die Demokratiese Alliansie jaarliks gesamentlik nagenoeg R100 miljoen van belastingbetalers se geld ontvang om hul beleide te bevorder. Hy sê sy party het reeds sedert sy totstandkoming in 1999 aan elke verkiesing, op ʼn nasionale en plaaslike vlak, deelgeneem en reeds honderde duisende rand in gekonfiskeerde deposito’s verloor wat aangewend kon word om die party te bemark en uit te brei.
Kate Bapela, woordvoerder van die OVK, was nie dadelik beskikbaar om kommentaar te lewer nie.
Die Pretoriase hooggeregshof het Dinsdag die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) se aansoek, om nie ‘n deposito aan die OVK te betaal nie, met koste van die hand gewys. Die EFF wou nie ‘n deposito van R600 000 betaal wanneer hy sy kandidaatlys vir vanjaar se nasionale verkiesing indien nie. Klik hier om meer te lees.
-SAPA
Dit wys jou net hoe absurd dit is om te dink dat ‘n suiwer demokratiese stelsel sinvol is. Die OVK is nie ‘n demokratiese instelling nie. Enige demokratiese proses kan net moontlik gemaak word deur ondemokratiese instellings.