Cecil-agent deur polisie ‘ontvoer’

Cecil die leeu Foto: Zimparks, Facebook

Cecil die leeu Foto: Zimparks, Facebook

Theo Bronkhorst, die professionele jagter wat daarvan beskuldig word dat hy die jag op Cecil die leeu gereël het, is glo Maandag deur polisie uit sy huis in Bulawayo “ontvoer” en in polisieselle by Beitbrug toegesluit.

Bronkhorst (52) is verlede week in hegtenis geneem en was twee dae lank in polisieaanhouding nadat hy daarvan beskuldig is dat hy 29 swartwitpense onwettig in Suid-Afrika probeer insmokkel het.

Maroela Media het vroeër berig drie Suid-Afrikaners, Edwin Hewitt (49), Hendricks Johannes Blignaut (41) en John Herbert Pretorius (49), is deur die polisie en Zimbabwe se parke-en-natuurlewebestuur-owerheid in hegtenis geneem toe die twee vragmotors waarin die bokke vervoer is, in modder by die droë Limpoporivier vasgeval het wat as die grens tussen die twee lande dien. Drie van die swartwitpense is dood weens dehidrasie.

Bronkhorst het aan die polisie gesê hy het die swartwitpense uit Zambië na Zimbabwe gebring en die meerderheid diere is deur die drie Suid-Afrikaners gekoop. Hy het gesê hy het ongeveer ʼn dosyn van die diere self gekoop vir sy eie teelprogram in Zimbabwe.

Geen aanklagte is teen Bronkhorst aanhangig gemaak tydens sy aanhouding by die Hillside-polisiestasie nie.

Hy het glo voldoende dokumente, waaronder permitte, voorsien om te bewys hy was by magte om die swartwitpense van Zambië na Zimbabwe te bring, asook bewyse dat sy swartwitpense was waar hy gesê het hulle was – in ʼn veld naby sy klein jag-lodge 330 km noord van Bulawayo.

Die drie Suid-Afrikaners het egter in polisieaanhouding gebly nadat hulle borgtog geweier is in die Beitbrug-landdroshof. Die polisie het gesê die drie mans het glo ʼn veeartspermit gehad om die swartwitpense na Suid-Afrika te neem, maar hulle is aangekla omdat hulle die grens by ʼn nieamptelike punt probeer oorsteek het.

Bronkhorst is Maandagoggend weer deur polisie in aanhouding geneem en sal Dinsdag in die hof verskyn. “Ek voel baie sleg hieroor, want ek weet nie hoekom ek uit my huis uit geneem en Beitbrug toe gebring moes word nie,” het hy gesê.

Bronkhorst het vroeër internasionaal kritiek ontlok nadat hy saam met sy kliënt, dr. Walter Palmer, ʼn tandarts van Minnesota in die VSA, die bekende leeu, Cecil, geskiet het. Bronkhorst staan tereg op aanklagte van stropery omdat hy glo nie die nodige permit gehad het om Cecil te jag nie. Hy het skuld ontken op die klagte teen hom en is in Augustus op borgtog van R12 000 vrygelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Peet Schabort

Sou sy huis se deur ook afgebreek gewees het soos wat in Middelburg met ‘n onskuldige persoon gebeur het ?

susan

Gee nie regtig om wat met hom gebeur
Laat hom bietjie voel. Hy dink mos nie een oomblikke aan die diere wat in sy hande kom nie. Hoop hy kry bietjie van sy eie medisyne “Karma”

Justa

Goed gedoen Zimbabwe polisie. Hou hom sommer in die tronk. Nou moet Palmer en Ndlovu net volg. Hierdie lot dink mos hulle kan doen wat hulle wil met omkopery en daarmee wegkom.

Henry

Intussen skiet Mugabe se handlangers die olifante in Zim dat die biesies bewe. Smous dan die ivoor en velle aan die Oosterlinge om hul leë staatskaste aan te vul.
Vir diegene wat so graag vir Bronkhorst oor oorlede Cecil veroordeel – onthou dat hy wel geldige permitte van die Zim regering gehad het. Nie dat ek die ‘jag’ van leeus en ander oneetbare wild ondersteun nie, Inteendeel.
Mens moet maar katvoet met die ‘karma’ sprokie loop…

pop

Hierdie man is knaend in die nuus. Wonder soms hoe voel dit as jy weet daar is duisende mense wat jou net die slegste toewens. Daai leeu gaan nog baie jare oor jou skouer loer.