Cecile Cilliers oorlede  

Cecile Cilliers. Foto: NB Uitgewers/Facebook

Die bekende skrywer Cecile Cilliers is Saterdag in die ouderdom van 85 oorlede.

Cilliers (née Pretorius) is in 1933 in Franschhoek gebore en het aan die Montagu Hoërskool gematrikuleer.

Sy het ʼn BA-graad in tale aan die Universiteit van Pretoria verwerf en ook later ʼn honneursgraad aan die Universiteit van die Witwatersrand. Sy het haar MA-graad cum laude en uiteindelik haar D Litt et Phil aan die eertydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) behaal.

Sy en haar man, John Cilliers, het hulle in Johannesburg gevestig. Cilliers het egter die afgelope paar jaar in Vishoek naby Kaapstad gewoon.

Cilliers het vir meer as 30 jaar rubrieke vir Beeld, De Kat en Sarie geskryf. Van dié rubrieke is deur die jare gebundel. Vroeër vanjaar het haar kortverhaaldebuut, Die ou vrou en die priester, verskyn

Cilliers se gepubliseerde boeke sluit in Ma’s het engelvlerke, Begenadigde vroue, Jy’s veelkantig en  Magspel. Cilliers was ook betrokke by radioverhale vir die destydse Springbok Radio en later RSG.

Cilliers was die eerste niepredikantsvrou wat tot visevoorsitter van die NG Kerk se sinodale komitee verkies is.

Haar suster, die ewe bekende Madeleine van Biljon, is in Februarie 2010 in die ouderdom van 81 oorlede. Hulle het saam die kykNET-boekeprogram Boeksusters aangebied.

Cilliers laat drie kinders agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Amelia ·

Sy was ‘n uiters talentvolle skrywer en ‘n ware dame. Sy laat ‘n groot leemte.

Hennie ·

Sal Cecile onthou as vir haar vlymskerp intellek, haar liefde vir mense, haar deurleefde geloof, haar heerlike sin vir humor, haar lekker kos, en gesellige kuiers onder die groot Lindenboom, en later haar aftreehuis in die Kaap. .. die Kaap (en ons harte) is leeg sonder jou!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.