Cele beweer meeste polisiehulpbronne in Wes-Kaap, KZN

Die ministerie van polisie neem deel aan ‘n gemeenskapsvergadering in Mitchells Plain in die Wes-Kaap (Foto verskaf)

Bheki Cele, minister van polisie, sê die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal het van die hoogste misdaadsyfers en ontvang steeds die meeste polisiëringshulpbronne en finansiering om vrede en stabiliteit in die provinsies te bewerkstellig.

Cele het Vrydag, tydens ʼn ministeriële gemeenskapsvergadering in Mitchells Plain in Kaapstad gesê die SAPD tot dusver die meeste hulpbronne in dié twee provinsies ontplooi in vergelyking met al die ander provinsies landswyd.

Tydens die vergadering het inwoners hul eise en polisiëringskommernisse bekendgemaak aan die ministerie van polisie en polisiebestuur. Lede van die gemeenskap het die platform gebruik om met die SAPD te gesels oor kwessies soos kindermoorde, ontvoering, geslagsgebaseerde geweld, bendebedrywighede en dwelmmisbruik.

Cele het die gemeenskap gerus gestel dat hul versoeke nie op dowe ore val nie en dat beskikbare hulpbronne en meer polisiebeamptes verder ontplooi sal word vir beter polisiëring in die gebied en alle ander gebiede in die Wes-Kaap.

Gemeenskapsvergadering met die ministerie van polisie in Mitchells Plain (Foto verskaf)

“Ons sal nooit die oorlog wen as ons nie met die gemeenskappe saamwerk nie – veral nie in dié provinsie nie,” het Cele gesê. “As ons nie nou met die provinsiale en nasionale strukture en gemeenskapstrukture saamwerk nie, sal ons die gemeenskap versaak.”

Die minister het toegegee dat daar nog baie gedoen moet word om kriminaliteit in Mitchells Plain uit te roei, maar het benadruk dat die Wes-Kaap die leeueaandeel geniet wat polisiehulpbronne betref.

“Van al die provinsies het die Wes-Kaap die meeste hulpbronne – bo en behalwe die toegewyde provinsiale begroting. Ons het besluite geneem deur misdaadneigings te analiseer en spesiale operasies soos die teenbende-eenheid (AGU) aangestel. Daar was ook spesiale operasies soos Operation Thunder en Operation Lockdown en ʼn taakspan wat uitbuiting en taxigeweld ondersoek. Meeste van dié ingrypings is uniek aan die provinsie en werp vrug af. Die gemeenskappe kan saamstem dat die lewe dalk nie perfek is nie, maar daar is beslis verbetering.”

Die ministerie van polisie het kennis geneem dat 200 ekstra polisiebeamptes van verskeie provinsies in die Wes-Kaap herontplooi is om polisiëring in die provinsie by te staan. Sedert 2018 is meer as R350 miljoen spandeer deur die SAPD aan spesiale operasies in die Wes-Kaap.

Maroela Media het vroeër berig Ian Cameron, woordvoerder van die drukgroep Action Society, het gesê die Wes-Kaap het al jare lank die grootste hoeveelheid vakante poste in die polisie in vergelyking met ander provinsies. ʼn Verslag deur die Staatsdienskommissie wat in 2018 gepubliseer is, het bevind dat 85% van polisiestasies in die Wes-Kaap nie voldoende beman word nie. ʼn Jaar later, in 2019, het die Wes-Kaap nie voldoen aan die Verenigde Nasies se aanbeveling van 1:200 nie. Suid-Afrika se ratio is 1:383.

“Ons wil nie hê polisiëring en wetstoepassing moet deurlopend deur die ANC misbruik word nie,” het Cameron bygevoeg. “Action Society glo die ANC probeer doelbewus seker maak dat die polisie in die Wes-Kaap nie voldoende hulpbronne het nie, sodat Wes-Kaapse inwoners kwaad kan word vir die provinsiale regering. Meeste mense besef nie dat polisiëring onder die nasionale regering val nie. Ons weet dat die bestuur in die Wes-Kaap baie beter is as die res van die land. ʼn Federale stelsel sal help om seker te maak dat die geld vir polisiëring daarvoor aangewend word en nie op enige ander manier misbruik word nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Stefaan ·

Wat hy sê en wat die waarheid is verskil soos dag en nag. Hy het lankal ‘n uitval met die waarheid gehad en verloor.

JM ·

Blink Stefaans se hoed is in die pad van logiese redenasies. Hoe eerder hy die pad kan vat, hoe beter.

Johann ·

Loshande een van DIE mees onbevoegde KADERS van die ANC, met die meeste mag.

Kokerboom ·

Die gemeenskapsvergaderings bly maar ‘n vertoon van kamtige omgee. Polisie weet al jare reeds van probleme maar tree nie op of beplan behoorlik. Dit gaan NIE oor aantal polisie maar werkende aksieplanne om bestaande probleme op te los Ministeriele vergaderings bly ‘n politieke klug en oëverblindery

Jannie van Niekerk ·

Die enigste keer wanneer minister Hoedjie Cele die waarheid praat is wanaeer hy op die planeet Neptunus is en sy mond toegeplak is met seloptape. (|Neptunus is die verste planeet van die aarde af)

Anel ·

Dit gaan nie oor die hoeveelheid lede wat daar is nie, maar oor die kwaliteit diens wat hulle lewer. Daar kan ‘n 1000 lede wees om die getalle op te stoot maar hulle sit net heeldag op hulle onderstelle en kla oor alles of daar kan 10, hardwerkende lede wees wat geroep is om die werk te doen en hulle gaan meer regkry as die 1000. En dit is nie net blankes of swart lede nie. Daar is hardwerkende, geroepe lede van alle rasse net sois jy die luies en klakouse van alle rasse kry. Lei eerder lede op wat geroepe is om die werk te wil doen as die lot vir wie dit net nog ‘n werk is. Dan sal dit al heelwat beter gaan. En raak sommer van ou hoed en al sy wagte ontslae. Die spul wat om hom draai kan ook maar gerus meer produktief aan gewend word. Waarvoor is hy in elke geval bang?

Pablo ·

Klink soos die poskantoor storie. Alles gaan skielik reggemaak word.

Chris dupreez ·

Ja ou Doffel, gelukkig weet meeste van ons jy lieg. En nog n ding ,, daar mag nêrens n tekort aan polisie of hulpbronne wees nie. Dit is tyd dat Rhamamparra n kommisaris en n minister kies wat uit die polisie kom en weet waaroor dit gaan. Hy moet ontslae raak van die zombie en die hanswors.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.