Cele erken DNS-krisis is onaanvaarbaar

Minister Bheki Cele (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Bheki Cele, die minister van polisie, het Dinsdag tydens ʼn dringende parlementêre debat van nasionale belang oor die voortslepende agterstand met DNS-monsters by die nasionale forensiese wetenskaplaboratoriums erken dié agterstand is onaanvaarbaar. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) doen egter alles in sy vermoë om oplossings te vind.

Tydens dié debat, onder leiding van die DA, het Cele verduidelik hoe die DNS-krisissituasie ontstaan het en wat die SAPD sal doen om die probleem op te los. Hy het ook namens die SAPD die duisende slagoffers van geslagsgebaseerde geweld om verskoning gevra dat hulle die kans op geregtigheid só ontneem is.

Die DA het al jare lank alarm gemaak oor die toenemende krisis met DNS-monstertoetse by die nasionale forensiese wetenskaplaboratoriums en het vroeër Cele en die nasionale polisiekommissaris-generaal, Khehla Sitole, gevra om vennootskappe met private laboratoriums te ondersoek om die agterstande aan te pak. Die party het ook aan pres. Cyril Ramaphosa geskryf om in te gryp.

Cele het beloof om die werksaamhede van die SAPD se laboratoriums binne die volgende 18 maande weer te bestendig.

Volgens Cele het die probleem begin toe die Nasionale Tesourie die finansiering van die strafregsplegingstelsel, naamlik die Criminal Justice System (CJS), opgeskort het weens veranderings aan die strategiese doelwitte van die Tesourie.

Gedurende die boekjaar 2019-’20 was die toegekende bedryfsbegroting teen Julie 2019 uitgeput. Daar is toe versoek om bykomende finansiering te verkry, wat in November 2019 toegeken is, maar geen aankope van verbruikersmiddels vir die polisie se onderskeie forensiese laboratoria om DNS-toetse uit te voer, kon in Desember 2019 gedoen word nie. Daarbenewens het die SAPD alle aankope van verbruikersmiddels by verskaffers gestaak en dit het dus tot ʼn tekort gelei.

Intussen het verskeie kontrakte met verskaffers van hierdie verbruikersmiddels tot ʼn einde gekom weens die tekort aan finansiering en nuwe kontrakte is dus nie onderteken nie. Om fiskale storting te vermy, kon geen verkryging in daardie stadium bewerkstellig word nie. As gevolg hiervan het die kernfunksie van die forensiese wetenskaplaboratoriums tot Augustus van die boekjaar 2020-’21 tot stilstand gekom.

Boonop het “ʼn katastrofiese” agterstand met die verwerking van DNS-bewysstukmonsters Junie verlede jaar kop uitgesteek toe die ou gerekenariseerde stelsel – bekend as PCEM (Property Control and Exhibit Management) – deur Forensic Data Analysts (FDA) afgeskakel is. Dit was weens ʼn geldgeskil met die polisie dat sy tegnologie- en inligtingstegnologiestelsels vir DNS- en vuurwapentoetse gebruik word. Die opsporing en nagaan van bewysstukke kon dus slegs met die hand gedoen word.

Verder het die minister van polisie, Bheki Cele, erken dat daar ook ʼn tekort aan chemikalieë in polisielaboratoriums in die land is om DNS-monsters te kan toets. Dit het verder veroorsaak dat die DNS-toetsing agterraak. Hy het ook erken dat die tekort veroorsaak is weens die SAPD se swak kontrakbestuur.

Volgens Cele kan die probleem deels aan korrupsie gekoppel word en sommige SAPD-amptenare wat in die laboratoriums en in die bestuur van die voorsieningsketting werk, is in hegtenis geneem en staan tereg op aanklagte van korrupsie.

Cele sê tot op hede was daar ʼn agterstand van tot 208 291 sake. Meer as 60 000 van hierdie sake is al deur die laboratoriums ontvang, maar nog nie ontleed nie. Sowat 36 626 is DNS-verwant en 82 000 kan met geslagsgebaseerde geweld verbind word.

Cele sê Gauteng word die ergste getref met ʼn DNS-agterstand van 115%, gevolg deur die Wes-Kaap met 113%, KwaZulu-Natal met 81% en die Oos-Kaap met 44%.

Maroela Media het vroeër berig die SAPD se bestuur sê daar is lig aan die einde van die tonnel wat die agterstand met DNS-monsters by die nasionale forensiese wetenskaplaboratoriums betref nadat ʼn nuwe rekenaarstelsel ontwikkel is wat dit vir die polisie moontlik maak om alle DNS-toetse en die vordering daarvan op ʼn digitale stelsel te volg. Die polisiediens werk sedertdien saam met die staat se amptelike inligtingstegnologie-agentskap (Sita) om die nuwe stelsel te ontwikkel en só die ou stelsel te vervang. Die nuwe stelsel het op 6 April in werking getree en ongeveer 10 miljoen DNS-monsters is reeds op die stelsel gelaai. Byna 25 000 nuwe bewysstukke is ook opgelaai.

Intussen het die SAPD se bestuur ook aangedui dat hy genoeg chemikalieë op ʼn kwotasiebasis aangeskaf het om minstens drie maande te hou, sodat die agterstand asook die toetsing van nuwe monsters kan voortgaan.

“Die agterstand is heeltemal onaanvaarbaar, maar die SAPD werk hard om ʼn dringende omkeerplan in te stel ter wille van alle slagoffers van misdaad, veral vroue en kinders,” het Cele gesê. “Ongeveer 42% van die dossiere van geslagsgebaseerde geweld wat vir langer as ʼn jaar uitstaande was, is afgehandel.

“Alle sake rakende geslagsgebaseerde geweld word geprioritiseer op grond van leiding van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG). Altesaam 77 485 sake wat in die hof gereed is, maar wat uitsonderlike resultate van ons forensiese wetenskaplaboratoriums het, word tans behandel. Meer as 2 500 van sulke sake is tot dusver afgehandel.”

Cele het aan die parlement bevestig dat ʼn volskaalse opknapping van die kontrakbestuurstelsel by die laboratoriums aan die gang is, terwyl langtermynkontrakte hersien word. Verbruiksgoedere, soos DNS-stelle, word verkry en die personeelkorps by die laboratoriums word opgebou sodat daar teen einde Julie nog 150 forensiese ontleders sal wees.

“Daar word beoog dat 40% van die laboratoriumpersoneel aandag aan die agterstande sal gee en 60% hulleself aan nuwe gevalle sal toewy.”

Hy het bevestig dat ʼn bykomende R250 miljoen bewillig is om die uitdagings in die laboratoriums aan te pak.

“Ons is duidelik bewus van die trefslag weens die agterstande. Ons bly egter vol vertroue in ons ingrypingsmaatreëls wat daarop gemik is om lede van die publiek se vertroue te herwin en die organisasie se reputasie en beeld ewe veel te herstel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Persheks Adri ·

Lippetaal en leë beloftes oor jou swak bestuursvernuf! Jy hoort nie in daai pos nie hoed gaan eerder op pensioen of gaan speel buite. Help nie jy vra onverskoning nie pateet dis te laat vir die slagoffers.

Dank hom af Cyril laat hy gaan of cover jy vir hom oor hy jou maaitje is huh?

Eiervrug ·

Binnelandse sake, lisensie kantore, poskantoor…. Ongelukkig is die regering nie in staat om probleme uit te sorteer nie. Hulle lig net die obvious uit (asof dit nuus is), en verwag dan seker ‘n bonus omdat hulle hierdie “brainwave” na ure gekry het. Lagwekkend….

Johan ·

Te lekker op die strand rond gesluip en mense geboelie vir geen rede.

Pieter ·

Als wat julle ANC aan raak verander in gemors. Niks is meer snaaks in die gemors land van julle nie.

Snowball ·

Suid Afrika erken ANC- krisis(se) is onaanvaarbaar.
Alles verrot en word ‘n krisis waar hulle grootbek, gehoed of gekopdoek rondhang. Altyd krisisbestuur want beplanning en strategie verg bevoegdheid en werksetiek. Eers as alarms afgaan en die vrot pryk op voorblaaie word beloftes gemaak van groot ingrypings – ANC bloudruk van onbevoegdheid.

JM ·

Alewige flou VERSKONINGS, verskonings, verskonings. Sal nooit erken dat hulle hopeloos onbevoeg is en ook nie belangstel om die werk behoorlik te doen nie, maar is fluks om die skuld op omstandighede te pak, dan is die saak mos opgelos! Dit ontbreek die ANC-regering nie aan ARROGANSIE nie! Wát funksioneer na behore? Is siek en sat van al die gemors in hierdie land!

annie ·

Ons mosterd-na-die-maal-minister tree telkens soos ‘n begrafnisondernemer op… altyd te laat en in trane, verskonend en troostend, gereed met die gewone begrafnis-rede: Onthou tog dit was nie my skuld nie. Verskoon tog, ek moet alweer hol… nog ‘n too late case… Die familie wag…

Vernon ·

Als is n flopop..DNS toetse is agter,dit gaan nooit bykom nie. Die wapenregister is n gemors.Mense meld nie meer eers sake aan nie. Dis een magsvertoon na die ander. Afrika op sy beste.

Hennie J ·

“O treurigheid op note, nou val ons oor ons eie pote.” Daar is blykbaar n kabinetskommeling aan die kom ,en dan sal ons sien of CR ernstig is met verbetering. As hy vir hoedman en n magdom andere, in enige posisie behou sal ons weet wat ons tans vermoed ……………….

Misky ·

Toe ek die artikel begin lees het, het ek so kwaad geraak en wou so baie sê. Maar teen die einde van die berig, is ek eintlik net verslae en spraakloos. En dit gebeur baie min – vra my man. Die onbevoegdheid is enorm en net ons kan die erns verstaan. Ek het nie meer hoop nie en is so negatief oor ons land se toekoms

Karen ·

Ag asb. Natuurlik moet hy alleenlik nou iets sê want dit het nuus geword.

Piet parys ·

So Filimon jy is mos in beheer so blameer jouself vir onbevoegdheid

Anoniem ·

Wat help dit Mnr Cele weet van die krisis en hy doen NIKS daaraan nie!!!!

Heinrich ·

O julle doen alles in julle vermoë om die probleem op te los, jislaaik nou voel ek soveel beter! Dis tipies ANC praatjies: skep die probleem en belowe dan om dit reg te maak. Na 25 jaar met die ANC weet ons almal hoe daai leë beloftes uitspeel!

Jakes ·

Gee die taak liewer aan n klas R kleuters want hulle sal n beter job daarvan maak.

JohanR ·

Cele erken met ‘n hoed op kom son nie by sy brein uit nie, soe daai kant van sy liggaam kry geen Vitamin D!

Genis ·

So presteer die ANC se selfgemaakte Generaal…. LOL… BEEE en sommer nog n E as jy wil… Do the honorable thing and GO! Tshmaaija

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.