Cele hou voet by stuk oor McBride

Polisieminister Bheki Cele (Foto: Tracey Adams/African News Agency(ANA)

Die polisieminister Bheki Cele het aan Robert McBride, uitvoerende hoof van die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod), gesê hy verwyder hom nie uit sy amp nie, hy gaan bloot net nie sy kontrak verleng nie.

“Jou ampstermyn verstryk op 28 Februarie 2019 en die doel van my brief was om jou daaroor in te lig,” het Cele in ʼn brief gedateer Donderdag, 24 Januarie 2019, gesê. “Kragtens arbeidswetgewing het jy nie die reg of regmatige verwagting dat jou kontrak hernu sal word nie.”

Cele het bygevoeg sy besluit, om nie McBride se kontrak te hernu nie, sal aan die betrokke parlementêre komitee gestuur word vir verwysing.

Maroela Media het vroeër berig McBride het op 16 Januarie ʼn brief van Celeontvang waarin hy ingelig word dat die minister besluit het om nié sy indiensnemingskontrak as uitvoerende hoof van Opod te hernu of te verleng nie. McBride is in die brief opdrag gegee om sy kantoor teen 28 Februarie vanjaar te ontruim.

McBride het ses dae later hierop gereageer deur ʼn brief aan Cele te stuur waarin hy hom daarvan beskuldig dat sy eensydige besluit oor die beëindiging van sy kontrak “onwettig en in oortreding van die grondwetlik beskermde onafhanklikheid van Opod is” en dat slegs die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie hom kan verwyder.

McBride het die minister aanvanklik tot die einde van die werksdag gister gegee om die besluit terug te trek, die saak na die parlement se portefeuljekomitee van polisie te verwys en redes te verskaf hoekom McBride se kontrak nie verleng word nie.

McBride het Cele daarna uitstel tot vandag 12:00 gegee en gewaarsku as die besluit nie teruggetrek word en die minister die portefeuljekomitee nader nie, sal hy die hooggeregshof nader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pieter ·

Tata Robert. Jou tyd is om. Watter goeie nuus op ‘n Vrydagmiddag….

Mimi ·

Daar sal altyd hooggeplaastes wees wat hul skelm vriende wil beskerm. McBride doen sy werk te goed na die boewe se sin. Hoop die hof kan help dat hy ten minste kan bly totdat die hoë koppe in die polisie klaar vervolg is.

Cor ·

So is sy rak leeftyd verby . . Die rede hoekom hy moet waai hy en sy span krap nou te na aan sekere mense en lede van die mag .

A Mac ·

Ja, so is die mens, kan ook niemand tevrede stel nie. Sal interessant wees om te sien wie aangestel gaan word. Kan net nie verstaan hoe ‘n persoon reg was vir ‘n pos en nou ewe skielik nie geskik is vir die pos. Maar nou ja, in die regering weet mens ook nie meer of dit wat 10uur die oggend gesê is vanaand 8uur nog gaan geld nie.

Lerato ·

As ‘n polisiemag teveel skelms vang, moet hy gepos word. McBride het nét teveel korrupsie ontbloot.
Hoe durf hy?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.