Cele, LUR vergader oor ‘vlaag misdaad’ in Wes-Kaap

Minister Bheki Cele (Foto: Phando Jikelo, ANA)f

Die Wes-Kaapse provinsiale regering het met polisieminister Bheki Cele vergader oor die provinsie se polisiëringsbehoeftes en prioriteite.

Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die provinsie, het gesê die vergadering Donderdag is gehou in ʼn gees van gemoedelikheid en samewerking.

Fritz en Cele het ooreengekom dat die plig om veiliger gemeenskappe te verseker onmiddellike aandag verg, het Fritz se woordvoerder, Cayla Anne Tomás Murray, gesê.

“Minister Cele het die versekering gegee dat die bemanning van polisiestasies in die Wes-Kaap aangevul gaan word met nie minder nie as 1 000 nuwe polisierekrute uit die 5 000 wat tans opleiding by die polisiekollege ondergaan. Hulle gaan in die Wes-Kaap ontplooi word sodra hulle opleiding afgehandel is.”

Cele en Fritz het ook ooreengekom dat onderhandel moet word oor die beste manier om polisiehulpbronne billik te verdeel.

Die vergadering kom ná die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, in Oktober en wéér in Desember verlede jaar aan Cele geskryf het en die dringende polisiëringsbehoeftes in die provinsie onder sy aandag gebring het.

Nadat hy geen reaksie op sy skrywes gekry het nie, het Winde in April ʼn inter-regeringsdispuut oor polisiëring verklaar. ʼn Mediasiegesprek daaroor word op 4 Julie gevoer.

Winde het gesê die vergadering sal die presiese omvang van die dispuut uiteensit en maniere probeer vind om die dispuut – buiten deur ʼn hofgeding – te besleg. Daar moet dan ook ooreengekom word op ʼn plan, asook die implementering daarvan.

“Minister Cele het sy gewilligheid gewys om verder te praat oor die voorstelle wat die Wes-Kaapse regering gemaak het om die las op die polisie te verlig, maar veral ook oor die befondsing van R5 miljoen wat die Wes-Kaapse regering beskikbaar gestel het,” het Tomás Murray gesê.

“Al twee partye het ooreengekom dat die geld só aangewend moet word sodat dit die maksimum impak deur [die provinsiale en nasionale] regerings het om veiliger gemeenskappe te skep.”

Cele het gesê dit is nodig dat die hele gemeenskap betrokke is in die stryd teen misdaad en dat dit nie ʼn probleem is wat nét deur die toewysing van meer hulpbronne opgelos gaan word nie.

Fritz sê hulle het ook ooreengekom dat voortaan gereeld oor die kwessie vergader gaan word.

“Ons sien nou daarna uit om ʼn stewige, konstruktiewe en produktiewe verhouding met minister Cele en sy span te bou sodat ons kan seker maak die voortslepende vlaag misdaad in die provinsie word beëindig.

“Alles moontlik moet gedoen word om die polisie te help om dié doelwit te behaal,” het Fritz gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Johann M van Heerden ·

Ek sal verhuig wees as daar minstens opgetree kan word teen die bendegeweld in sekere gebiede. Ek woon self nie daar nie maar my tuinwerker vertel net van al die skote snags. Hy oorweeg dit om die provinsie te verlaat met sy kleinkinders. My hart gaan uit na hulle. Hou net op praat en DOEN iets. Ek dink nie ons kan wag tot nog lede opgelei word nie. Daar moet onmiddelik lede herwys word na die provinsie. Die ANC is totaal ongevoelig vir die nood van ons mense. Die wegneem van noodsaaklike polisie uit sekere gebiede vir die SONA is onaanvaarbaar. Ons is ‘n regte piesangrepubliek met president en lv’s wat voorrand geniet bo gewone burgers. Ek dink hulle moes lankal die weermag ontplooi het. Dit het al eienskappe van ‘n noodtoestand wat dit sou regverdig.

Markus ·

Dit het tyd geword om rekrute te trek uit die polisie areas waar hulle woon ,uit ondervinding weet ek mense gee meer om vir die area waarin hulle woon en gee sodoende meer aandag aan misdaad voorkoming,dit sal die demografiese areas ook beter help wat die taal betref veral met die aflê van dossiere en ondersoek van sake.

BlinkStephaans ·

1000 polisiemanne gaan binne n dag wegraak in die sisteem en gaan geen verskil aan misdaad maak. Hy kan 5000 ook stuur… dit sal geen verskil maak. As jy n bevel moet kry dat n minister sy werk moet doen… is dit reeds te laat. Oom cele is nie die regte ou vir die job. Hy het geen idee waar om te begin. Hy het in die Oos Kaap ook besoek afgelê, in die straat geloop en beloftes gemaak. Niks het gebeur. Solank as wat die sapd se planne gebou word op wat om te doen as die musdaad klaar gebeur het… gaan niks verander. Ons het voorkoming, bekamping en pro aktiewe polisiëring nodig… en oom cele snap nie daai begrip.

humor ·

Dit het ook maar lank geneem voordat die boodskap deurgesypel het. Heeltemal te lank. Waarom met mens dreig voordat geluister word?

Anel ·

En die 1000 kom nie een uit die Kaap nie. So, hulle wil nie daar wees nie en gaan ook nie die werk dien nie. Weet dit uit ondervinding.

Sarel ·

Daar is nie genoeg opgeleide Polissie om die stryd teen die bendes te voer nie. Die Polisie mag hulleself nie verdedig teen die mense nie en word so eerste geskiet. Dit is tyd vir daadwerklike optrede , vergeet die misdadiger se regte. Slaan en slaan hard saam met die Weermag.

George in Bloem ·

Benewens die feit dat comrade Cele totaal en al onbevoeg is en heeltemal uit sy diepte is in sy pos,gee hy en die ANC nie ‘n flenter om vir die Wes Kaap se probleme nie. Inteendeel,hoe groter die probleme en chaos,hoe beter is die kanse dat kiesers die DA blameer en draai na die ANC. Dis presies wat hulle wil he so die ouens wat wag dat die regering die provinsie help moet asseblief tog net nie hulle asems ophou nie.

Sam Brookes ·

Die man is van lootjie getik. Hy is soos die woonstelblok op Stellenbsoch, Akkerhof, waar die hyser (letterlik) nie na die boonste vloer gaan nie. Tydens een toespraak se hy dat selfverdediging alle mense se reg is. Nou is dit nie gemeenskap se plig om ook te help misdaad bekamp. Dan se hy ook dat alle Suid-Afrikaners ontwapen moet word! Hoe gaan ons onsself en ander teen die ongekende misdaad beskerm? Die polisie is reeds nie in staat om al die oproepe by te staan nie. Ek weet. Ek is self daardeur en het uiteindelik maar gaan slaap Nadat ek in die vroee oggend bykans ‘n uur lank vir hulle gewag het toe ek twee inbrekers in my huis betrap het. Hulle het weggekom.
Die man is mal.

John ·

… vlaag… Ons dog die misdaad is ‘n kroniese probleem. Eintlik moet hulle wag vir die VF Front en hul volgelinge wat presies daar hul tentpenne gaan inslaan vir ‘n Afrikaanse staat vir almal wat nou in engeltjies gaan verander danksy die mildelike bydraes vanuit Afrikanerbeursies… so edel so wonderlik… Ons is almal so opgewonde saam met dominee wat hande-vat vir die vlakte aanmoedig…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.