‘Cele moet ook waai’

Bheki Cele, die minister van polisie, en genl. Khehla Sitole. (Foto: GCIS)

Politieke partye het dit nou eens dat Bheki Cele, die minister van polisie, volgende in die ry staan om uit die kussings gelig te word.

Die presidensie het vanmiddag aangekondig dat genl. Khehla Sitole se dienskontrak as nasionale polisiekommissaris vroeër beëindig is.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, meen dié aankondiging sal daartoe bydra om die gespanne toestand tussen die polisie se senior bestuur en die ministerie van polisie te verlig. Groot spanning het die afgelope ruk geheers met Cele en Sitole wat mekaar die stryd in die openbare oog aangesê het.

“Die werklikheid is dat die president die minister van polisie ook moet vervang,” sê Groenewald. “Die rede hiervoor is dat Cele die rol van kommissaris wil speel, hoewel hy ’n politikus en geensins ’n ervare en kundige polisieman is nie.”

Groenewald wys daarop dat Cele onder die leiding van ’n nuwe kommissaris waarskynlik óók sal wil inmeng by die operasionele werking van die polisie en daarom die trekpas behoort te kry.

Andrew Whitfield, die DA se skaduminister van polisie, sê die beëindiging van Sitole se kontrak word verwelkom, hoewel Cele sy voorbeeld sal moet volg indien Ramaphosa ernstig daaroor is om vertroue en geloofwaardigheid in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te hervestig.

“Die politieke geredekawel tussen Sitole en Cele het die SAPD onregeerbaar gemaak. ’n Volledige opknapping op die heel boonste vlak is nodig om die skade wat deur albei mans aangerig is, ongedaan te maak.”

Groenewald sê die volgende nasionale polisiekommissaris behoort ’n persoon te wees met ervaring van die polisiediens en nie ’n politieke aanstelling soos voorheen nie.

“Pres. Cyril Ramaphosa behoort ’n komitee saam te stel, bestaande uit kundiges in die polisiemag voor wie kandidate vir keuring moet verskyn. Hierdie werkswyse word gevolg met die aanstelling van die hoofregter en dit behoort daarom ook vir die aanstelling van die nasionale polisiekommissaris te geld.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Windhond ·

Die Polisie gaan binnekort groep fotos moet neem van hulle kommisarisse, so vinnig word hulle vervang

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.