Cele moet R240 000 opdok oor arres tydens inperking

Argieffoto (Foto: Ashraf Hendricks via GroundUp)

Deur Tania Broughton, Groundup

ʼn Sakeman van die Oos-Kaap is vergoeding van R240 000 toegestaan ná hy tydens die Covid-19-afsonderingsperiode in hegtenis geneem is toe hy sy siek seun na ʼn dokter toe wou neem. Hy is deur die polisie aangerand en 40 uur lank aangehou.

Die man, wat saam met sy pa ʼn handelaarskap in Ntabankulu bedryf, het ʼn permit vir noodsaaklike dienste en hy kon tydens die afsonderingsperiode reis en handel dryf.

In sy eis teen die minister van polisie, Bheki Cele, het die man gesê hy is op 1 April 2020 in hegtenis geneem omdat sy 17-jarige seun, wat saam met hom was, nie ʼn permit gehad het nie. Hulle name word weerhou.

Die saak is aangehoor deur adjunkregterpresident Zamani Nhlangulela by die hooggeregshof in Mthatha.

Die man het vroeër die dag vee in Kokstad in KwaZulu-Natal aangekoop en na Ntabankulu gereis om dit by die winkel af te lewer. Hy is op pad by twee padblokkades voorgekeer en moes sy permit aan die beamptes wys.

Toe hy in Ntabankulu aankom, het hy ontdek sy seun “toon simptome van griep en brongitis”.

Hy het dadelik die gesin se dokter, gebaseer in Kokstad, geskakel en saam met sy seun teruggery Kokstad toe. Hy is weer by ʼn padblokkade voorgekeer. Hy het sy permit en rybewys aan ʼn polisiebeampte gewys, maar is geweier om verder te reis omdat sy seun nie ʼn permit gehad het nie.

Hy het ʼn beroep gedoen op senior beamptes by die padblokkade om die situasie te verduidelik en daarop gewys dat die regulasies oor rampbestuur hom toelaat om sy seun vir mediese behandeling te vervoer. Die beamptes het egter geweier.

Hy het daarna ʼn plaaslike verkeersbeampte geskakel en dié het hom aanbeveel om van ʼn alternatiewe roete gebruik te maak waar daar nie enige padblokkades is nie. Terwyl hy met die oproep besig was, sê hy, het een van die polisiebeamptes van agter af gekom en sy hand gegryp. Toe hy hom teësit, is hy geslaan, geskop en beledig.

Toe die beampte aan sy vuurwapen vat, het die man sy selfoon laat val en sy arms opgelig “as ʼn teken van algehele oorgawe”. Hy is met pepersproei gespuit, geskop, geslaan en gesê hy is “ʼn stuk gemors en ʼn dronkaard”. Die man sê hy het op die grond geval en hulle het sy hande en voete geboei.

Die man is daarna na Mount Ayliff-polisiestasie geneem op aanklag van aanranding en dat hy met die polisie se pligte ingemeng het. Hy is twee dae later vrygelaat ná hy saam met 27 ander gevangenes in ʼn klein, donker sel aangehou is.

Regter Nhlangulela het in sy uitspraak gesê dat diegene wat die minister verteenwoordig, vir die man gesê het dat die regulasies hom nie magtiging gee om siek mense oor ʼn grens te vervoer nie en daar was geen rede om sy seun na Kokstad te neem nie, omdat ʼn dokter in Ntabankulu beskikbaar was.

Die polisiebeamptes het getuig die man het een van hulle gestamp en het begin om foto’s van hulle te neem met sy selfoon. Dís hoekom hulle hom in hegtenis geneem het. Hulle ontken dat hulle hom aangerand het.

“Daar is ten sterkste namens die [minister] aangevoer dat die getuienis [van die man] nie geloofwaardig is nie, omdat hy geweier het om ʼn permit te wys; hy was ontwykend en het die manier hoe die gebeure ontvou het, vergroot; en sy weergawe dat hy aangerand is, kan nie gestaaf word nie,” het die regter gesê.

Die regter het bygevoeg die man het bewys hy is deur die polisie aangerand. Die beserings wat hy opgedoen het, word deur mediese ondersoeke gestaaf en dit staaf dus die man se weergawe. “Die teenstrydighede en gevolglike onwaarskynlikheid van die bewyse wat deur die [minister] se getuies gegee is, is beduidend. Hulle weergawe aan die hof was eenvoudig nie waar nie.”

Die regter sê die man is 40 uur lank in ʼn sel aangehou sonder ʼn rede waarom hy vervolg word. “Dit sê baie – nie net oor die skending van sy grondwetlike regte nie, maar ook die afwesigheid van geregverdigheid vir sy inhegtenisneming en aanhouding.”

Die hof het hom R60 000 toegeken vir die aanranding en sielkundige lyding; R120 000 vir onwettige inhegtenisneming en aanhouding; R50 000 vir naamskending; en R10 000 vir regskoste. Die minister is beveel om die koste van die saak te betaal.

  • Hierdie berig is oorspronklik deur GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Hasie ·

Ek hoop die betaling Kom uit sy persoonllike rekening en nie die belastingbetalers se sak nie !

Nie Verbaas ·

Nee, belastingbetaler se rekening. Hulle kan dan nie eers vir hulle eie elektrisiteit en water betaal nie.

Pietertjie ·

Ek dink nie Hoed is eens bewus van die uitspraak nie. Hy het onderdane vir daardie doel.

Wondermaarnet ·

Hopelik gaan hy nie belastingbetalers se geld gebruik om op te dok nie.

Roek ·

Ek sal appel aanteken , hoe op aarde het hul die skade gekwantifiseer, maak glad nie sin nie , hulle het beslis baie lig daarvan afgekom, wat se vergoeding kry die kind vir al die trauma wat hy moes beleef en nog moet deurmaak …belaglik !

My siening ·

Groot hoed, groot bek wat gee jy om in die ANC is dit die kader wat tel en flip die burgers!

domheks ·

MM – Cele moet R240 000 opdok? Dit moet lees ‘BELASTING BETALERS MOET R240,000 OPDOK VIR CELE SE GEMORS!’

Nico ·

Die polisie dink wanneer hulle daardie blou uniform aan het, het hulle mag om alles te doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.